DIE LEWE NA DIE DOOD (3)

Ds A.E. van den Berg

“Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (Luk.16:31).

Alle gelowiges glo aan 'n lewe na die dood. Die vraag wat egter dikwels gevra word, is of ons mekaar in die na-doodse lewe sal herken? Ja, ons sal, maar met ‘n groot verskil – sonder enige aardse verhoudings. Verhoudings daar sal baie anders wees. Daar sal bv. geen huweliksverhoudings wees nie omdat gelowiges se aandag geheel op God gerig sal wees. Die Bybel lig ons egter nie volledig daaroor in nie omdat alles in die hiernamaals om Jesus en Hom alleen draai.

Die gelykenis van Lasarus en die ryk man sê wel dat ons van mekaar bewus sal wees. Hierdie gelykenis is 'n verhaal wat in twee bedrywe ontvou. In die eerste bedryf is daar twee spelers: ‘n ryk en ‘n arm man. In die tweede bedryf word hierdie rolle omgeruil – die ryk man word arm en beland in die verdoemenis terwyl die arm man geestelik ryk word en ewige saligheid geniet. Die doel van hierdie gelykenis is nie om inligting rakende die hiernamaals na mense deur te gee nie, maar om hoorders op aarde tot ‘n beslissing aan te spoor wat hul ewige woonplek gaan bepaal.  

In die eerste toneel verskyn die ryk man in volle aardse glorie op die toneel. Hy bly in ‘n spogbuurt, dra die beste klere en leef feestelik. Sy lewe is die ene genot. Moet dit egter nie teen hom hou dat hy die arme Lasarus nie na sy feestelike etes genooi het nie. Die ou Oosterse wêreld het baie skerp sosiale teenstellings geken.   Die ryk man het die bedelaar slegs tot by sy agterdeur toegelaat wat van die brood wat die gaste gebruik het om hulle vingers mee skoon te vee vir honde onder die tafel gegooi het.

Die tweede bedryf verskil grootliks van die eerste een. In die eerste een val die kollig op die ryk man en die arm Lasarus. Die tweede toneel verskil so groot van mekaar dat dit net sowel die opskrif: Die arm man en die ryk Lasarus, kon gehad het. Van Lasarus kan gesê word dat hy in die geselskap van honde geleef maar na sy dood in die geselskap van engele beland het.

Sy armoede het slegs sy materiële welstand maar nie sy siel belemmer nie. God het die oomblik toe hy sterf engele gestuur om hom na ‘n ereplek by Abraham, soos die Paradys hier genoem word, te dra. Ja, die dood is soos ‘n hekwagter wat ons by ‘n pragtige paleis inlaat.

Toe Lasarus sy oë oopmaak, was hy onmiddellik van sy verruklike geestelike rykdom bewus. Die dood was nie ‘n doodloopstraat nie, maar ‘n deurgang. Ja, toe die deur van sy skemer-bestaan toegegaan het, het dit op 'n wonderlike dagbreek oopgemaak.

Ek glo dat die paradys ‘n plek van verwondering is. Nie soseer vir die wonderlikheid as voorportaal tot die Nuwe Jerusalem nie, maar vir al die geredde mense wat reeds daar is. Ons gaan wel mense daar kry wat ons daar verwag het maar ook mense wat ons nooit daar verwag het nie.   Die paradys sal soos ‘n oneindige groot kunsgalery vol wonders en genade wees, ja, soos ‘n paleis van wonderwerke wat elke nuwe aankomeling oneindig gaan verras.

In die gelykenis sterf die ryk man en Lasarus feitlik terselfdertyd. Lasarus het dit moontlik verwag maar nie die ryk man nie. Dit het dan so goed met hom gegaan. Ja, van alle besoekers is die dood die mees aangekondigde een, maar ook die mins-verwagte een. Wanneer die ryk man sy oë oopmaak, word hy van sy verdoemende geestelike armoede bewus. Hy is in die doderyk en ervaar intense pyn. Wat ‘n skok en ontnugtering! Die dood is toe nie 'n ewige slaap soos wat hy gedink het nie, maar om in pyn ewige wakker te wees.

Hoe verskriklik moet dit nie vir ‘n mens wees om net vir ‘n minuut in die doderyk te wees en te weet wat nog op jou wag nie! Hoe sal jy nie wens dat jy Jesus betyds as Verlosser leer ken het nie! Eenmaal verlore, altyd verlore!

Die ryk man tree bewustelik op en soek hulp. In die verte sien hy Abraham met Lasarus langs hom. Sy herinneringe aan sy aardse lewe is nie uitgewis nie. Hy onthou dit nog baie goed. Maar waarom wend hy hom tot Abraham? Omdat hy van hom afstam. Hy vra die aartsvader om Lasarus in sy belang terug aarde toe te stuur. Sy versoek is gering – hy vra net dat Lasarus vir hom sal doen wat hy vir Lasarus op aarde gedoen het; net ‘n krummel van sy oorvloed, ja, net ‘n spatsel water.

Hierdie gelykenis bevestig bo alle twyfel dat die buitenste duisternis ‘n werklikheid en 'n plek van intense pyn is. Uit Abraham se antwoord lei ons af dat dit beter is om aardse gebrek te lei maar die geloof te verkry, as om aardse rykdom maar geen hemelse skatte te hê nie.

Ons moet weet dat rykdom as sulk nie ‘n diskwalifikasie is vir die ewige geluksaligheid en armoede 'n voordeel nie. Abraham was immers self een van die rykste mense van sy tyd. Daar is geen inherente verdienste aan armoede toe te skryf nie. Armes en rykes verkry nie op grond daarvan outomaties toegang tot die ewige saligheid nie maar kragtens hul bekering.

Kan ‘n mens jou situasie in die hiernamaals verander soos wat die Roomse Kerk met hul dwaalleer van die vagevuur leer? Nee, beslis nie! Kyk weer na die gelykenis. Dit belig ook die oorsaak van die oordeel oor die ryk man en die guns wat Lasarus ontvang het. Die verskil tussen ryk en arm is uiteraard net tydelik van aard. Die dood wis hierdie grens uit. Wat na die dood volg, kan nie verander word nie.

Ons sien die onherroeplikheid van die ryk man se ellendige toestand baie duidelik in sy versoek aan Abraham. Hy vra dat Lasarus sy broers moet gaan waarsku sodat hulle nie ook in dieselfde plek van pyniging as hy beland nie. Om voorspoed te ken en dit daarna te verloor, baar ongekende spyt!

Die onherroeplike, ellendige toestand van die ryk man is aan sy ongehoorsaamheid aan God te wyte. Hy was ryk, maar sonder God. Daar was vir God geen plek in sy welvarende leefwyse nie. Daarvoor was sy sosiale program net te vol. ja, so vol dat daar geen plek vir sy naaste in nood was nie.  

Die ryk man doen die teenoorgestelde as wat Jesus van gelowiges vra: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mat 6:19-21).

Omdat die ryk man se oog verkeerd was, was sy hart ook verkeerd en het hom die ergste straf denkbaar op die hals gehaal – die ewige dood. Wie van gehoorsaamheid aan God wegskram, skram terselfdertyd ook van sy ewige genade af weg.

Hierdie gelykenis leer ons dat ons situasie nie na die dood omgekeer kan word nie.   Ons moet Jesus as Verlosser leer ken terwyl ons leef. Jesaja gee die beste raad: ”Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes.55:6,7).