Ds A.E. van den Berg
“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mark.13:31).
Hoe belangrik is die Bybel vir jou? Jou antwoord het ewige gevolge vir jou. As die Bybel vir jou werklik belangrik is, sal jy dit bestudeer, opdragte gehoorsaam en God se beloftes daarin volkome vertrou. Wie die Bybel egter onbelangrik skat, kom nooit tot bekering nie en staar 'n smartlike ewigheid in die gesig.
Wie God wil ken, moet sy Woord ken. En Hy wil dat ons Hom moet ken. Daarom het Hy die Bybel vir ons gegee. Dit vertel wie God is en hoe ons om in die regte verhouding met Hom te leef nl. deur ʼn liefdevolle verhouding met Jesus Christus.
Was dit nie vir die Bybel nie het ons niks van God geweet nie. En al is dit oor 'n tydperk van ongeveer 1500 jaar geskryf, bevat dit alles wat nodig is om die regte verhouding met God te leef. Die Bybel is sy voorskrif oor geloofsake, godsdienspraktyke en sedes, sinvolle leefwyses ens. Ons het niks meer as dit nodig nie.
God het dit so beskik dat die antwoord vir al ons vrae binne die twee buiteblaaie van die Bybel opgesluit lê. Ons moet net daarna delf. Daarom is ʼn deeglike kennis van die Bybel waardevoller as ’n kop vol geleerdheid. Ons sien ons gesigte in ʼn spieël, maar ons siele in die Bybel. Die Bybel is egter ook ʼn spieël; as ʼn dwaas daarin kyk, kan ʼn wyse nie terugstaar nie! "Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie" (Ps.14:1).
Die groot vraag is: Hoe weet ons dat die Bybel God se Woord is en nie net ’n goeie boek nie? Wat maak dit anders as ander godsdiensboeke? Is daar enige bewyse dat die Bybel waarlik God se Woord is? Ja, die Bybel sê self dat dit die Woord van God is. Paulus skryf aan Timotheüs: “...en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:15-17).
Een van die duidelikste bewyse dat die Bybel waarlik God se Woord is, is die eenheid daarvan. Alhoewel die Bybel uit 66 afsonderlike boeke besaan wat op drie vastelande in drie verskillende tale, oor ’n periode van ongeveer 1500 jaar deur meer as 40 skrywers uit alle samelewingsvlakke geskryf is, vorm dit ’n eenheid soos geen ander boek nie. Dit is al klaar 'n bewys van die goddelike oorsprong daarvan.
God het mense begeester om die Bybel te skryf. "En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Pet.1:19-21).
Nog ’n bewys dat die Bybel God se Woord is, is die goddelike voorspellings daarin wat die toekoms van sekere volke soos bv. Israel ingesluit het. So ook dié van sekere stede soos Jerusalem en Nineve, dié van die mensdom en die koms van Messias. In die OT is daar meer as 300 profesieë oor Jesus, en nie net oor waar Hy gebore sou word nie, maar ook uit watter familie Hy sou kom, hoe Hy sou sterf en uit die dood opstaan. Daar is geen ander verduideliking vir hierdie vervulde profesieë as dat dit van goddelike oorsprong moet wees nie!
Nog ’n bewys van die goddelike oorsprong van die Bybel is die gesaghebbendheid daarvan. Dis geheel anders is as enige ander boek wat ooit geskryf is. Die invloed daarvan word in menselewens gesien; mense wat nadat hulle die Bybel gelees het, verander het - dwelmslawe is genees, homoseksueles is vrygemaak, geharde misdadigers het tot inkeer gekom ens. Hierdie vernuwingkrag is slegs moontlik omdat die Bybel die Woord van God is.
Die Bybel beskryf ook geskiedkundige gebeure in besonderheid. Argeologiese opgrawings en ander geskrifte bevestig telkens dat die geskiedkundige gebeure van die Bybel korrek is. Dit as sulks maak van die Bybel die besgedokumenteerde boek van die ou wêreld.
Let vervolgens ook op die Bybelskrywers. As hulle lewens in oënskou geneem word, is daar geen aanduidings dat hulle oneerlik en vals was nie. Talle van hulle het soos Paulus selfs vir hul geloofsoortuigings gesterf. Sy prediking het hoofsaaklik oor die verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood gegaan. Die skrywers van die NT en honderde ander gelowiges het geweet dat dit waar is: “Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het (1 Kor.15:6).
Hierdie mense het Jesus gesien en na sy opstanding ʼn tyd saam met Hom verkeer. Dit het ʼn salige uitwerking op hul lewens gehad. Waar hulle eers uit vrees vir die Joodse vervolgers weggekruip het, het hulle die boodskap van redding deur Jesus onbevange uitgedra al het dit sommige se lewens gekos. Gevolglik is hul lewe en dood ʼn verdere bewys dat Bybel waarlik God se Woord is.
Nog ’n bewys dat die Bybel werklik God se Woord is, is die onvernietigbaarheid daarvan. Jesus sê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mark.13:31). Die Bybel het, meer as enige ander boek, talle pogings om dit te vernietig ervaar en oorleef - vanaf vroeë Romeinse keisers tot by kommunistiese diktators.
In die Middeleeue het die Roomse Kerk hul mense selfs verbied om die Bybel te lees omdat dit hulle kwansuis sou verwar. Slegs priesters het dit glo verstaan om te verduidelik. God het egter op sy tyd mense gebruik om die Bybel in verskillende tale te vertaal om in huise te kom. Vandag is die Bybel die mees wydverspreide boek ter wêreld. Wat sê dit vir ons? Dat dit God se Woord is!
Mense het baie oor die Bybel te sê. Vir sommige is dit glo oudtyds en onprakties. Desondanks vorm die Bybel al eeue lank die meeste sedelike en staatkundige beginsels van die mensdom en is derhalwe vandag nog net so waar en prakties soos toe dit geskryf is.
Die Bybel is goeie nuus en die beste raad. Die OT sê: So gesê - en die NT: So gedaan. In ʼn neutedop sê die Bybel: God maak dit; Adam breek dit en Jesus herstel dit. God praat in die OT van geestessiektes en gee in die Evangelie die geneesmiddel. “...en die bloed van Jesus Christus. Sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7).
Ongelukkig doen baie mense enigiets met die Bybel behalwe om daarvolgens te leef. Mense raak soms ontstel oor sekere dinge wat hulle nie in die Bybel verstaan nie. Dis onnodig. Hulle moet eerder ontstel wees oor die dinge wat hul wel verstaan, maar nie doen nie.
Het u al gesien hoe gehawend sommige se Bybel is? Dis 'n goeie teken! ʼn Bybel wat fisies uitmekaar val, getuig van ʼn lewe wat nie uitmekaarval nie. Daarenteen verraai stowwerige Bybels gewoonlik stowwerige lewens.
Sommige mense sê so maklik dat God niks vir hulle te sê het nie. Hoe kan God met mense praat wie se Bybels toe bly? En as God deur sy Woord op sekere tone trap, is dit omdat so 'n persoon se voete in die verkeerde rigting loop.
Die geloofwaardigheid van die Bybel sal nooit eindig nie. Die korrektheid daarvan het ten spyte van talle aanvalle daarop, behoue gebly omdat Jesus dit voorsien het: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” Wat beteken die Bybel persoonlik vir jou? Daar is ʼn gesegde wat lui dat ʼn mens nie van brood alleen kan leef nie. Jy kan, indien dit die Brood van die Lewe is - God se Woord. Eet genoeg daarvan sodat jy eendag nooit op die hemelse skaal te lig bevind word nie!