Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop – Psalms 147:11
GROOT HERVORMING WAG OP ONS
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
"Ons staan op die drumpel van ’n groot hervorming. God het dit ook vir Siener van Rensburg laat sien. Hierdie hervorming moet soos in Juda, by die huis van God begin."
“….Luister na my, Leviete! Heilig julle nou en heilig die huis van die HERE, die God van julle vaders en bring die onreinheid uit die heiligdom uit. En die priesters het binne-in die huis van die Here ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die HERE gevind het, uitgebring ….” - 2 Kron.29:5&16
Goeie ouers het soms slegte kinders, maar slegte ouers het selde goeie kinders. Met Agas was dit wel die geval. Hy was Juda se slegste koning en sy seun, Hiskia, een van die bestes.
Agas was ’n afgodsdienaar: ”En Agas het die gereedskap van die huis van God stukkend geslaan en die deure van die huis van die HERE toegesluit en vir hom altare gemaak op elke hoek in Jerusalem. Ook het hy in elke stad van Juda hoogtes opgerig om vir ander gode offerrook te laat opgaan en die HERE, die God van sy vaders, geterg” (2 Kron.28:24,25).
Toe Hiskia 25 jaar oud was, is Agas oorlede en het hy koning van Juda geword. Hy was ’n gelowige en het reg opgetree:. “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy (voor)vader Dawid gedoen het” (2 Kron.29:2).
Juda was staatkundig en godsdienstig op ’n laagtepunt. Hiskia moes dit wat sy vader afgebreek het, begin herstel. En waar begin hy? By die huis van God. “Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel” (vers 3). Dis ’n wenresep; herstel ’n volk deur sy godsdiens te herstel. Kom die een reg, kom die ander ook reg. Begin net reg. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33).
Die herstel van ’n volk deur sy godsdiens te herstel, is ’n wenresep vir elke volk op aarde; ook vir die Boerevolk. Ons kla graag oor die onreg van die ANC-regime, maar wat het ons volk in hierdie penarie laat beland? Die ou NP regering? Nee, dieselfde ding wat Juda as volk in ’n penarie laat beland het - godsdiensverval. As ’n volk se godsdiens verval, verval die volk. Let op die geskiedenis van die Bondsvolk - dis ’n stereotipe patroon.
Toe die Boerevolk se godsdiens verval, het ’n lugleegte ontstaan wat deur die heidendom gevul is. Satan het in die tagtigerjare van die vorige eeu ’n hewige aanslag op die Christendom aan die suidpunt van Afrika geloods. As ons kerke vasgestaan het, het hierdie land nie geval nie. Maar hulle het nie!
Die gevolg is so ’n groot skade, dat herstel byna onmoontlik lyk. Jeremia noem hierdie skade die verbreking van sy volk. “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer.6:14). Dis tragies as ’n volk sulke skade nie raaksien nie en die booswigte wat dit aangerig het, selfs vereer!
Die vraag is: Kan die Boerevolk herstel? Kan ons uit hierdie nagmerrie wat as demokrasie aangeprys word, ontwaak? Ja, maar dan moet ons doen wat Juda o.l.v. Hiskia gedoen het en ons godsdiens begin herstel. Godsdiensherstel sal volksherstel verseker. Maar dan moet ons eers weet hoe groot die verval is. Dis net soos met sonde. Voordat ons van sonde ontslae kan raak, moet ons eers weet hoe groot dit is.
Wat het aanleiding tot die godsdiens verval in ons land gegee? Die aanranding van God se Woord. Die Bybel is die fondament van die kerk en word deur sommige teoloë ondergrawe; geleerde mense wat die groot waarhede van die Bybel bevraagteken en dinge verkondig wat lynreg in stryd is met die belydenis wat hulle as leraars onderteken het. Gevolglik verlaat al meer mense die kerke van Gereformeerde belydenis vir sektes wat geen erns met die waarheid van God se Woord maak nie en mense lekker laat ontspan deur hul op die poeding van gevoelens en vermaak te trakteer.
Daar was nog nooit ’n tyd in ons volk se geskiedenis dat die kernwaarhede van die Evangelie meer in gedrang was as tans nie. Die huiwering van kerklike leierskap om teen dwaalleraars op te tree, laat die vermoede bestaan dat hulle heimlik met hul saamstem. Hoe langer kerke ’n dowe oor vir hierdie dwalings hou, hoe groter word die uittog.
Alle lidmate is nie dom nie. Baie sien die ontsporings raak en verlaat die kerk omdat hulle nie kans sien om dwaalleraars te onderhou nie. Sommige teoloë het al so vêr van God se Woord afgewyk, dat hulle byna nie van ongelowiges onderskei kan word nie. Die gevolg is teologiese verrotting.
Let op die verrotting wat alreeds plaasgevind het:
- Die hele skeppingsverhaal word, met inbegrip van Gen.1-14, as mites verwerp.
- Die bestaan van Satan word verwerp.
- Die sondeval word bevraagteken en derhalwe ook die sondige aard van die mens.
- Die geskiedkundige korrektheid van die Bybel word onder verdenking gebring.
- Die inspirasie van die Skrif word effektief ontken.
- Wonderwerke word as onmoontlikhede afgemaak.
- Die Bybelse sedeleer word bevraagteken.
- Jesus se maagdelike geboorte word ontken en sy opstanding bevraagteken.
- Die leer oor die wederkoms van Jesus word bevraagteken.
- Die ewige lewe en ewige verderf word as onsin afgemaak en die uniekheid van die Bybel ontken.
In hierdie lig gesien, wonder ’n mens wat van die Bybel oorbly? Enigiets van waarde?
Beteken dit dat die dwaalgeeste die Bybel verwerp? Nee, hulle sê net dat die Bybel anders verstaan moet word as in die verlede. Dit wat vir mense ten tye van die skrywe van die Bybel ’n sekere betekenis gehad het, beteken vandag waarskynlik iets anders. Dit kom daarop neer dat die Bybel her-interpreteer moet word. Dit moet deur die bril van die moderne mens gelees word en kan die Bybel selfs vandag iets sê wat dit nooit in die verlede gesê het nie! Die Bybel moet hervertolk word om by die moderne mens met sy humanistiese opvattings aan te pas.
Tragies genoeg sien dwaalleraars dit as ’n verheldering van die Skrif terwyl dit in werklikheid ’n verduistering daarvan is. Die ware betekenis van ’n teks raak verlore raak as die mens net sien wat hy wil sien en nie wat God vir hom wil sê nie.
Neem homoseksualisme as voorbeeld. Hoe kan iets wat in die verlede in die oë van God ’n gruwel was, nou skielik aanvaarbaar wees? Wie met so ’n teologie besig is, werk met die begrip van ’n veranderende God, iets wat ten hemel skreeu! Wie aan Bybelse waarhede torring, kom op losse skroewe te staan.
Die gevolg van hierdie teologiese rewolusie aan die suidpunt van Afrika is dat Suid-Afrika in ’n morele moeras beland het. Die mens wil sy eie God wees en self besluit wat reg en wat verkeerd is. Van objektiewe, bindende voorwaardes soos in die Bybel vervat is, wil hy niks weet nie. Hy sal self besluit wat reg of verkeerd is en hoe hy die Skrif wil verstaan. Hy wil ’n god maak soos hy Hom wil hê. Dieselfde ding het met Israel tydens die maak van die goue kalf gebeur – ’n god na hulle smaak.
Geen wonder dat Christenskap ná die 1994 bewind-prysgawe by baie mense in onguns verval het nie. Dit verkeer sedertdien op dieselfde voet met die heidense godsdienste. Die morele lugleegte wat dit laat ontstaan het, is deur allerlei booshede gevul waaronder ons daagliks steier.
Misdaad vier hoogty, geweld neem toe, vrouens en kinders word daagliks verkrag en vermoor. Mense leef in vrees vir hul lewens, selfs in hul eie huise. VIGS rig verwoesting aan, barbaarse optrede het gangbaar geword, dwelmverslawing neem epidemiese afmetinge aan. Politici plunder die staatskas, korrupsie is aan die orde van die dag, selfverryking het mode geword en verantwoordelikheid het verdwyn. Gesonde werksetiek het skaars geword en werkloosheid neem toe. Die landsadministrasie gaan sienderoë agteruit en onderwys het ’n laagtepunt bereik. En die ergste van alles is dat ’n geslag van jongmense besig is om sonder kennis van die Bybel groot te word!
Die Bybel is nie net die kerk se fondament nie, maar ook die morele kompas van die samelewing. As teoloë hierdie kompas se korrektheid bevraagteken, raak die kerk se profetiese stem onvermydelik stil. Waarheen gaan die land? En in watter rigting vaar ons? Is ons soos ’n skip sonder rigting?
Die agteruitgang in die meeste Suid-Afrikaanse kerke hou verband met die liberalisering van die Gereformeerde teologie. Dieselfde ding het ook in Europa gebeur. Vandag het die Gereformeerde kerke daar geen gesag nie.
’n Kerk se gesag hang van sy verbondenheid aan die Skrif af. As sy vertroue in die Bybel verloor, verloor sy haar gesag. Kerke is nie veronderstel om lidmate se vertroue in die Bybel te ondermyn nie. Sulke kerke doen Satan se werk vir hom: “Is dit ook so dat God gesê het ….Julle sal gewis nie sterwe nie…” (Gen.3:1,4).
Laat ons egter positief wees. Alles is nie verlore nie. Toe Elia by geleentheid by God kla dat hy die enigste een in Israel is wat nie die knie voor Baäl buig nie, bemoedig God hom dat daar 7000 is wat nie die knie voor Baäl buig nie. Talle volksgenote volhard in die geloof. God gebruik hulle om die waarheid van die Woord uit te dra en mense se lewens geestelik te verryk. Mense kom toenemend tot ’n herontdekking van die waarheid van die Woord. Dis die rigsnoer van ons volk se terugkeer na God.
Ons staan op die drumpel van ’n groot hervorming. God het dit ook vir Siener van Rensburg laat sien. Hierdie hervorming moet soos in Juda, by die huis van God begin. Die Woord van God moet weer die rigsnoer vir die kerk en die samelewing wees. Daarin is die volmaakte beginsels van God vir die kerke en samelewing vervat. En met die Woord in die hand, sal die Boerevolk moet begin skoonmaak.
“….Luister na my, Leviete! Heilig julle nou en heilig die huis van die HERE, die God van julle vaders en bring die onreinheid uit die heiligdom uit.” . En die priesters het binne-in die huis van die Here ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die HERE gevind het, uitgebring ….”
Laat ons baie ernstig bid vir nuwe leiers wat soos die Leviete van ouds die tempel sal reinig deur alles wat onheilig is, uit te dra. Daarna sal die volk gesond word!
Amen!