Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
PROFETE OF DWAALLERAARS?
"Maar hy wat profeteer, spreek tot mense woorde van stigting en troos en bemoediging” (1 Kor.14:3).
Daar is baie dinge wat my van die charismatiese beweging hinder. Die hinderlikste van almal is die roekelose wyse waarop hulle twyfelagtige profesieë vir die waarheid aansien. Duisende liggelowiges glo dat dit ‘n vars openbaring is wat God deur laaste dag-profete aan die kerk gee. Pastore verwag van gemeentes om daarop te reageer asof dit die Woord van God is. En as jy hulle op hul dwaling wys, word jy as ‘n werktuig van die Satan gesien wat die eindtyd-profete teenstaan!
John White, ‘n Amerikaanse charismatiese leier, skryf die Satan vrees die woorde wat vars van God se lippe kom. Daarom laat hy geskille ontstaan om die eindtyd-profete wat met die Heilige Gees aan die brand is, stil te maak. White sien diè kritici as die valse profete waarteen Jesus waarsku en vir hom lê die onderskeiding tussen ware en valse profete daarin dat ware profete nog altyd ongewild was.
Dis seker die slegste denkbare maatstaf om aan te lê! Diegene wat die waarheid praat, is inderdaad nie altyd baie gewild nie. Maar om van ongewildheid ‘n toets vir geloofwaardigheid te maak, is verregaande! Beide Johannes die Doper en ons Here Jesus het deur fases in hul bediening gegaan waarin hulle baie gewild was. Dink maar net aan die duisende mense wat Jesus feitlik oral gevolg het.
Die enigste toets van ‘n ware profeet is die betroubaarheid van sy profesie: “...Hoe sal ons die woord weet wat die Here nie gespreek het nie? As die profeet in die Naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie... dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie....” (Deut.18:21,22). Die straf vir ‘n valse profeet was die dood: “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie... diè profeet moet sterwe” (vers 20).
Die charismate weet skynbaar nie wat die Skrif oor geïnspireerde profesie sê nie. Die Nuwe Testamentiese gawe van profesie het uitsluitlik met Skrifverklaring te doen gehad en nie met openbaring nie. Let op die teksvers (lees). Hy is nie ‘n bron van voortgaande openbaring of toekomsvoorspelling soos die charismate glo nie, maar ‘n prediker wat reeds onthulde waarheid van God se Woord vir mense duidelik maak. Daar was wel ‘n era waar profesie ook onthullend was. Dit was egter enig aan die apostoliese era. Ná die dood van die apostels is die gawe van profesie uitsluitlik gesagvolle Skrifverduideliking en geestelike leiding.
Charismate wat van elke pastoor ‘n instrument van nuwe goddelike openbaring wil maak, doen die Skrif onreg aan en maak dit wat heilig is, goedkoop. Daarmee word die hekke vir dwaallering, verwarring, foute en chaos wawyd oopgemaak!
Onthullende profesie was nooit die profeet se eie mening of bespiegeling nie, maar ‘n woord van God. “terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet 1:20). ‘n Profeet moes net sê: “So sê die Here” Hy was die mondstuk van God en was aanspreeklik vir dit wat hy geprofeteer het. Hy kon doodgemaak word indien hy gelieg het!
In Pred.1:10 lees ons: “Is daar iets waarvan ‘n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het” Hoe waar is dit nie ook van die charismatiese beweging nie. Dis in werklikheid niks nuut nie. Montanisme was strenggesproke die eerste charismatiese beweging in die Christelike kerk. Dit het by ‘n sekere Montanus ontstaan, ‘n magsbehepte dwaalleraar wat in die tweede eeu nC in Frigië as ‘n selfaangestelde profeet opgetree het. Hy het geglo dat hy deur die Heilige Gees geïnspireer was en duisende aanhangers gewerf.
Montanus was in werklikheid besete en het gereeld in beswymings gegaan. Dan het hy brabbeltaal gepraat en op on-Bybelse wyse geprofeteer. Alhoewel die kerk hom vermaan en later uitgeban het, het hy duisende mense meegevoer wat self geglo het dat hulle deur die Heilige Gees geïnspireer is en die gawe van profesie gehad het.
Montanus het geglo dat hy nuwe openbaringe van God ontvang het waarmee die Bybel aangevul moes word. Hy het baie kritiek teen die kerk van destyds gehad en gesê dat sy volgelinge meer geestelik was omdat hulle die werking van die Heilige Gees gehad het terwyl die kerk slegs die dooie woord van die Bybel gehad het!
Dit het die kerk genoop om mense ernstig teen Montanisme te waarsku. Augustinus was een van die voorste skrywers daarteen. Die Sinode van Konstantinopel het Montanisme later as ‘n stuk heidendom veroordeel. Die moderne charismatiese beweging is in baie opsigte die geestelike erfgenaam van Montanisme en niks anders as neo-Montanisme nie.
Kom ons let vervolgens op die ooreenkoms tussen die charismatiese beweging se siening oor Goddelike openbaring en dit wat die Roomse Kerk tradisie noem. Hulle glo dat soos wat ‘n dam wat vol is, oorvloei, tradisie die oorvloei van die Bybel oor die wal van die Heilige Skrif is. Water wat oorvloei is presies dieselfde water as wat in die dam is. Gevolglik eindig die Bybel nooit vir die Roomse Kerk nie. Die moontlikheid bestaan dat iets wat net so gesaghebbend as die Bybel is nog bygevoeg kan word. Daarom word die pous se ex cathedra uitsprake as onfeilbaar beskou. Hy kan as pastoor en leermeester van alle Christene nuwe dinge van God ontvang wat bekend gemaak moet word.
Sodra ‘n kerk bykomende openbarings begin aanvaar, is daar geen keer aan die flaters wat hulle maak nie. Daarmee word die hek vir alles oopgemaak om in te stroom.
Dink maar net aan Roomse dwaalleringe soos die boetedoening, die leer oor die vagevuur, pouslike onfeilbaarheid en gebede aan dooies. Al hierdie afskuwelikhede word met dieselfde eerbied as die Bybel beskou! \
Dwaalleer ontstaan daar waar mense glo dat iemand toegang tot nuwe openbaring het. Dan word die Reformatoriese beginsel van Sola Scriptura (die Skrif alleen) versaak. Mense begin na iets meer as die Bybel te soek. En dis gevaarlik omdat die Satan gretig is om hulle daardie iets meer te gee!
Die pad na nuwe openbaring is slegte paaie - vol slaggate, ompaaie en doodloopstrate. Al hierdie paaie begin met klein afdraaipaadjies. Mense wat eers op die regte spoor was en toe deur ander weggerangeer is. Dis soos ‘n klein krakie in ‘n windskerm wat kort voor lank ‘n onooglike kraak word. Dit begin klein. Die klein jakkalsies wat die wingerd verniel!
In 1 Kor.14:40 lees ons: “Laat alles ordelik en welvoeglik toegaan” God is ‘n God van orde en nie van wanorde nie. Dit geld spesifiek vir die godsdiens, iets wat nie in charismatiese byeenkomste gebeur nie. Elkeen sê, doen en leer wat die week se sg. profesie ook al opgelewer het. Verantwoordelike Bybelstudie word opsygestoot om persoonlike openbarings aan te hoor. Dit het ‘n geheimsinnige vorm van godsdiens laat ontwikkel wat gewoonlik bitter Bybelse inhoud om die lyf het.
Die soeke na buite Bybelse geestelike verryking neem onrusbarend toe. Stap gerus deur ‘n geestelike en kyk ‘n bietjie wat op die rakke is. Die meerderheid van die boeke gaan oor gevoelens en ervarings; baie meer as oor Bybelstudie, gesonde lering of verantwoordelike teologie. Baie mense gee deesdae werklik nie om wat die Skrif sê nie, solank hulle kerk en/of pastoor hulle goed laat voel! Hulle soek net na daardie spesiale ietsie en niks meer nie.
Charismate het bewustelik van die vaste fondament van die Skrif, wat die kern van die geloofslewe is, na twyfelagtige dinge op die buiterante beweeg. Bly asb. ver weg van ‘n teologie wat aan ervaring dieselfde waarde as die Bybel heg. Dis uiteraard nie Protestants nie, maar Rooms van oorsprong!
Charismate maak in werklikheid die uniekheid van die Bybel verdag. Iemand wat God werklik liefhet, doen dit nie! Die Bybel het nie ‘n plaasvervanger nie. Niemand kan uit dwaalleraars se leë, selfvervaardigde profesieë of verbeeldingsvlugte enige geestelike krag put nie. Wie buite die Bybel na ‘n ietsie meer soek, sal wel iets vind, maar dit sal nie van God kom nie!