Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Markus 13 vertel Jesus vir sy dissipels van die begin van die smarte en die groot verdrukking wat mense hier op aarde sal beleef net voor die Here se wederkoms. Ook waarsku Hy hoe ons as kinders van God moet onderskei tussen die waarheid en die vreeslike misleiding wat dan sal plaasvind, en dat ons waaksaam moet wees tot Hy kom. Ons moet ernstig bid dat God ons die insig sal gee om te onderskei, en ons moet bid vir groot geloof om hieraan vas te hou tot Hy weer op die wolke kom om ons te kom haal.
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (7)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
CHARISMATIESE MISVERSTANDE
“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim.2:15).
Die charismatiese teologie het in der waarheid weens misverstaan van die Bybel tot stand gekom en daarna vinnig oor die aarde versprei. Ek gaan op vier Skrifgedeeltes wys wat deur charismate hoog aangeslaan, maar geheel en al misverstaan word.
Die eerste is Mt.12:22-31 wat oor die sonde teen die Heilige Gees handel. Ons begin aan die hand van die vyf basiese beginsels van Skrifverklaring by die letterlike betekenis van hierdie gedeelte. Die Fariseërs het letterlik gesê dat Jesus sy genesingskrag van die Satan gekry het. Op daardie tydstip was Jesus se aardse bediening alreeds twee jaar aan die gang waartydens Hy aan die Fariseërs en Israel bewys het dat Hy God is. Desondanks het die Fariseërs Hom nie geglo nie.
As ons tweedens die sintese-beginsel gebruik, kyk ons na ander dele van die Bybel wat daarmee saamhang. In Mt.3:16 lees ons dat toe Jesus gedoop is, Hy die krag van die Heilige Gees ontvang het: ”...en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom”. Jesus kon sy wonders net deur die krag van die Heilige Gees gedoen het. Wie dit ontken, laster teen Hom! .
Die charismate gebruik hierdie Skrifgedeelte roekeloos en, nodeloos om te sê, totaal uit verband om almal wat hulle dwaling teenstaan van iets soortgelyks as die Fariseërs te beskuldig. Sulke teenstand is sonde teen die Heilige Gees! Hulle glo dat hulle tale sprekery en genesings, net soos diè van Jesus, met die krag van die Gees gedoen word. Hulle trek dus ‘n direkte parallel na vandag; iets wat jy nie met Mt.12 kan doen nie; beslis nie in geskiedkundige verband nie!
Wat is die sonde teen die Heilige Gees dan? Onbekeerdes sal enigiets vergewe word indien hulle hul bekeer. Maar as jy al die feite aangaande Jesus het en sy wonders nog steeds aan die mag van Satan toeskryf, kan dit jou nie vergewe word nie. Volgens Joh.16:7-11 wys die Heilige Gees altyd na Jesus om mense van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig sodat hulle hul sal bekeer. Die Heilige Gees is die vernuwende Persoon van die Drie-eenheid. Wie Hom verwerp, kan nie in die hemel kom nie.
Die sonde teen die Heilige Gees was eerstens ‘n geskiedkundige gebeure. Tweedens kan dit aan enigeen toegeskryf word wat die werk van die Gees teenstaan deur Jesus se goddelike geloofwaardigheid te ontken. Charismate kan dit dus nie gebruik om diegene wat hul lering teenstaan, mee by te kom nie. Dis nie dieselfde saak nie!
‘n Tweede gunstelingteks wat lelik misverstaan word, is Heb.13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” Hulle sê dat dit wat gister gebeur het, d.w.s. tydens Jesus se aardse bediening en die apostoliese era, tans weer gebeur – tale sprekery, genesings, wonders en tekens. Hulle verklaring van Heb.13:8 is korrup! Die letterlike betekenis van hierdie teks is baie eenvoudig – Jesus verander nooit. Heb.13:8 verwys na Jesus se onveranderlike wese en niks meer nie!
Let op die geskiedkundige verklaring van diè vers. Waarom beperk die charismate die gister tot by Jesus se aardse bediening? Wat dan van die OT tye? Al was Jesus nie in liggaamlike vorm aanwesig nie, was Hy tog as die Engel van God daar. Ons lees daarvan vanaf Gen.16 tot Sag.3. Wat van voor die OT tye? As tweede Persoon van die Drie-eenheid was Hy immers van ewigheid daar. Tydens sy aardse bediening was daar hoegenaamd geen aanduiding van tale spreek nie. Ook nie in die OT nie. Hoe wil charismate dan hul tale-sprekery o.a. met Heb.13:8 regverdig?
Heb.13:8 gebruik ook die woorde tot in ewigheid. Ons kan met groot sekerheid sê dat nie een van die gawes vir gebruik tot in ewigheid bestem was nie. “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan” (1 Kor.13:8). Charismate dwing Heb.13:8 om iets te sê wat dit nie sê nie en dis sonde!
‘n Derde teks wat lelik misverstaan word, is Mark.16:17,18. “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word”
Charismate verkondig dat die doop met die Heilige Gees mense in staat stel om die Satan op vyf maniere, soos in Mark.16:17,18 uiteengesit, te hanteer nl. die uitwerping van demone, die spreek in tale, om gif te drink sonder om iets oor te kom en siekes gesond te maak. Die vraag is – het alle gelowiges deur die eeue tot en met vandag almal die vermoë gehad om al vyf hierdie tekens te doen? Beslis nie! Baie gelowiges is aan siektes, slangbyt en vergiftiging dood.
Die charismate sê dat as jy net baie hard glo, alles moontlik is. Dit staan nie in die teks nie. Daar word net van glo gepraat en nie van baie hard glo asof dit ‘n geestelike prestasie is nie. Dis baie duidelik dat hierdie belofte nie vir alle gelowiges bestem is nie, maar slegs vir een spesiale groep – die apostels soos in Handelinge beskryf. Met die uitsondering van die drink van gif, maak die Bybel van al diè tekens in daardie era melding. MAAR NIE DAARNA NIE! Dis heeltemal verkeerd om aan te neem dat diè tekens die norm vir alle gelowiges deur alle eeue is. Dit was ‘n unieke kenteken van die apostels. “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Kor.12:12).
Wat gebeur as charismate vir ‘n sieke bid en hy word nie gesond nie? Hulle sê vir hom dat sy geloof nie sterk genoeg is nie! Dis liefdeloos en dra maklik tot ‘n skuld-sindroom by; en dit oor dwaling! ‘n Mens moet verantwoordelik met Mark.16:17,18 omgaan. Dis ‘n saak van alles of niks. Of al vyf die tekens van Mark.16:17,18 geld vandag nog steeds of geeneen nie! God het hierdie tekens destyds as ‘n eenheid aan die apostels gegee om die openbare aandag op die Evangelieboodskap te vestig en die draers daarvan mee te bekragtig.
Dit bring ons by die kern van die charismatiese dwaling - hulle gryp terug na iets wat God uitsluitlik aan die apostels gegee het en tot die verlede behoort en bou ‘n heel vreemde teologie op hierdie misverstand.
Charismate maak aanspraak op die gawe van genesing en haal graag 1 Pet.2:24 aan wat van Jesus praat “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kon afsterwe en vir die geregtigheid lewe, deur wie se wonde julle genees is” Verantwoordelike Skrifuitleg dui daarop dat hierdie genesing niks met fisiese genesing nie, maar met geestelike genesing te maak het. Die teks sê baie duidelik dat ons vir die geregtigheid moet lewe; nie vir fisiese gesondheid nie. Die deur sy wonde staan in die Grieks in die verlede tyd en verwys na die kruisdood waar siele wat siek van sonde was genees is. Nêrens in die Bybel word gelowiges ooit die genesing van siekte gewaarborg nie!
Ons het in 1 Pet.2:24 ‘n sprekende voorbeeld van die Skrif wat die Skrif verklaar. Petrus verwys hier na Jes.53:6: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” . Jesaja praat hier baie duidelik van geestelike genesing soos in Jes.1:4: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel. Hulle het die Here verlaat , die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai”. Jesus genees hoofsaaklik geestelike krankheid. Daar is genesing in versoening – ons siek siele word gesond!
In ons teksvers beveel Paulus die jonge Timoteus om die woord reg te sny. Die Griekse woord beteken om reguit te sny in die sin om nie skeef te sny nie. Dit was ‘n begrip eie aan Paulus se beroep. Hy was ‘n tentmaker. Dit was destyds ‘n algemene ding dat ‘n geleerde mens ook ‘n ambag geken het. So was Paulus ‘n regsgeleerde en tentmaker.
Wanneer ‘n tentmaker sy ambag beoefen het, het hy van sekere patrone gebruik gemaak. Tente was destyds van die dierevelle gemaak en derhalwe lappieswerk “patchwork” . Elke stuk moes baie noukeurig gesny en gepas word. Wat Paulus dus vir Timoteus sê, is dat as hy die stukke nie volgens patroon sny nie, die ding gaan skeeftrek. Een en dieselfde met die Skrif. Indien jy dit nie reg verklaar nie, trek alles skeef en kom die boodskap nie tuis nie.
Gelowiges moet hulle deeglik daarop toelê om deur Bybelstudie die Skrif reg te sny (verklaar). Versigtig en akkuraat! Te veel charismate verklaar die Skrif soos wat dit hulle pas en nie soos wat daar werklik geskryf staan nie. En as dinge begin skeeftrek, het dit ‘n domino-effek, die een misverstaan lei tot die volgende een. In kerke wat dit verdra, floreer dwaalleer, foute en verwarring!
Eie verklarings kom in werklikheid daarop neer dat mense nie na God luister nie. Om sy Woord reg te verklaar, beteken om na Hom te luister. En dis gelowiges se heilige plig! Luister wat sê Jesus van mense wat reg luister: ”Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het” (Mt.7:24). Ons weet wat Jesus van hulle wat dit nie doen nie sê – hulle bou op sand en lewensstorm spoel sulke huise weg.
Laat ons versigtig met heilige sake soos die Woord van God omgaan. Gelowiges durf nie op onverskillige, onverantwoordelike wyse daarmee te werk gaan nie. Daar is net te veel op die spel!