Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
IS WONDERWERKE VANDAG NOG NODIG?
“Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Heb.1:1).
God het met die voltooiing van die OT en NT sy openbaring aan die mens finaal afgehandel en met tekens en wonders gesag daaraan verleen. Gelowiges durf geen behoefte aan nog openbaring hê nie. Openb.22 waarsku dat niks by die Woord bygevoeg of weggelaat mag word nie. Charismate steur hulle nie hieraan nie en maak met hulle aansprake op wonderwerke wel op verdere openbarings aanspraak. Hulle voeg dus lynreg teen Openb.22 en die teksvers by die Woord by.
Daar is egter hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die wonders en tekens wat Jesus en die apostels gedoen het en dit waarop die charismate aanspraak maak nie. Die Skrif gee geen aanduiding dat dit wat in die apostoliese era gebeur het, bedoel was om in die eeue daarna in die kerk herhaal te word nie. Nog minder gee die Bybel enige opdrag dat gelowiges na nog tekens en wonders moet streef nie.
In die Bybel is daar net vyf opdragte met betrekking tot die Heilige Gees. “Wandel deur die Gees” (Gal.5:25). “Bedroef nie die Heilige Gees nie” (Efes.4:30). “Word met die Gees vervul” (Efes.5:18). “Blus die Gees nie uit nie” (1 Thess.5:19). “Bid in die Gees” (Judas :20). Daar is geen opdrag om na wonderweke te soek nie.
Charismate glo dat God die gawes van die Gees aan gelowiges gegee het om hul geloof mee te versterk. Dis nie wat die Bybel sê nie. Neem die spreek in tale as voorbeeld. In 1 Kor.14:22 sê Paulus dat die spreek in tale nie ‘n teken vir die gelowiges is nie, maar die ongelowiges. Nie om gelowiges se geloof mee te versterk nie, maar om Joodse ongelowiges van die geloofwaardigheid van die Evangelie te oortuig soos bv.op Pinksterdag gebeur het (Hand.2).
Die spreek in tale, genesings en wonderwerke het ‘n era van nuwe openbaring ingelei. Dit was ‘n advertensiemiddel vir die kerk. Toe die openbaring afgesluit is, het die wondertekens ook verdwyn omdat die doel daarvan afgehandel is.
Wonderwerke en tekens kom nie oral in die Bybel voor nie; slegs in eras van openbaring. Oral waar wonderwerke aan die orde van die dag was, is aan die Skrif toegevoeg omdat dit nog nie afgehandel was nie.
God het aan ons die Bybel gegee. Dis afgehandel en genoegsaam vir almal. Hy voorsien nie ten dele nie, maar genoegsaam. Die Bybel is soos ‘n put met voldoende water. Wie na nog watervoorraad verlang, vat God in die gesig. Hy het die egtheid van die boodskappe van Christus en die apostels met tekens en wonders bevestig. Dis uitsluitlik aan die apostels gegee om te bevestig dat hulle die draers van nuwe openbaring was.
Charismate glo dit nie en verkondig dat God vir elke gelowige tekens en wonders bestem het. Hulle sê graag: “God het ‘n spesiale wonderwerk vir jou. Jy moet dit net ontdek!” Daarmee plaas hulle ervaring bo die Skrif – ‘n kardinale fout by alle charismate!
Is ‘n gelowige dan veronderstel om sy eie private wonderwerk te ontdek? Allermins! Let op Jesus se wonderwerke; nie een is ooit privaat gedoen nie. Sy genesings moes die aandag op sy Messiaanse taak vestig en gesag daaraan verleen. Nuwe openbaring is nie ‘n private aangeleentheid soos die charismate verkondig nie. Hulle bevind hulle eerder op ‘n gevaarlike pad omdat hulle daardeur die deur vir moontlike Sataniese openbaringe wawyd oopmaak!
Jesus waarsku uitdruklik in die Bergrede daarteen (Mt.7:21-23). Die Satan wil God se Woord vir syne verruil. Die meeste gelowiges sien diè misleiding raak. Charismate nie. Hulle vergelyk misleiers selfs met die Bybelse profete!
Die Bybel waarsku ons om nie van die waarheid weg te dryf nie. En dis net moontlik indien ons ‘n stewige Bybelse ankerplek vind en glo dat God vir ons ‘n volledige en genoegsame openbaring in die Skrif gegee het. Die Skrif is ons enigste beskerming en gids teen die toenemende misleiding van die laaste dae.
Mense wat wonderdade en tekens najaag, maak hul lewe vir Sataniese misleiding oop. Nêrens in Paulus se briewe is daar enige opdrag dat gelowiges die Heilige Gees by wyse van tekens en wonders moet soek nie. Ons moet die Skrif gehoorsaam: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon...” (Kol.3:16).
Die boek Openbaring is vol gesigte, tekens en wonders. Dit sou ‘n goeie plek wees om gelowiges aan te spoor om na bo-natuurlike dinge te soek. Tog skryf Johannes: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is...” (Openb.1:3). Let op die werkwoorde lees, hoor en bewaar! Dis hoe God ons geloof versterk: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom.10:17).
Charismate glo dat God nuwe openbaring deur moderne apostels (pastore) gee. Dis ‘n absolute minagting van die apostels se Bybelse rol. Hulle was uniek; buitengewone manne vir ‘n buitengewone rol in ‘n buitengewone era. Hulle was die fondament vir die nuwe kerk wat na Pinksterdag ontstaan het. “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus self die hoeksteen is” (Efes.2:20). Dis ‘n hoeksteen wat destyds klaar gelê is en nie weer gelê kan word nie. Daarom kan daar nie moderne apostels wees nie.
Wonderwerke was eie aan die apostels en diegene wat saam met hulle gewerk het. Gewone gelowiges het nie hierdie vermoë gehad nie. Dit was nie algemeen en vir almal nie. Let daarop dat geen wonderwerk sedert Pinksterdag in die NT plaasgevind het los van ‘n apostel of een wat hy ‘n opdrag gegee het nie. Nêrens in die NT het wonderwerke onder almal plaasgevind het nie. Slegs as daar apostels by was! Soos wat hulle oorlede is, het die tekens en wonders ook verdwyn en is ‘n era afgesluit.
Die charismate probeer om hierdie tekens en gawes te laat herleef. Hulle spreek kwansuis woorde van wysheid, maar dis on-Bybels en loutere onsin. Hulle beloof genesings wat nooit gebeur nie. Desondanks glo hulle dat hulle die erfgename van apostoliese gesag is en is altyd gretig om dit in die praktyk toe te pas; sonder werklike resultate! Hoe word mense darem nie deur gewetenlose mense mislei wat hulle as moderne apostels voordoen en op mense se liggelowigheid teer nie! Sommige verkry selfs ‘n kultusgreep op hul aanhangers. Dink maar net aan Jim Jones!
Waarom is daar vandag nie meer apostels nie? Die Bybel voer ses redes daarvoor aan.
(i) Die apostels het in opdrag van God die Christelike kerk tot stand gebring. Dit was ‘n grondliggende taak wat uiteraard nie herhaal kan word nie.
(ii) Apostels was ooggetuies van Jesus se opstanding. Paulus het Hom ook gesien, al was dit na die hemelvaart, by Damaskus. Jesus het by twee latere geleenthede weer aan Paulus verskyn (Hand.18:9; 23:11). Na die afsluiting van die apostoliese era is daar geen geloofwaardige getuienis dat Hy aan enigiemand anders verskyn het nie.
(iii) Derdens het Jesus self die apostels gekies en aan hulle ‘n nie-oordraagbare opdrag gegee om die kerk van die grond af te kry. Let op Paulus se briewe wat riglyne vir blywende kerkleierskap neerlê. Daar word nie meer van apostels gepraat nie, maar van ouderlinge en diakens.
(iv) God het die apostels se gesag met wondertekens bevestig. Petrus het bv.die kreupel man by die tempelpoort genees (Hand.3) en Dorkas uit die dood opgewek (Hand.9). Paulus het vir Eutichus uit die dood opgewek (Hand.20) en is op die eiland Malta deur ‘n slag gepik sonder om iets oor te kom (Hand.28).
(v) Die apostels se woorde absolute gesag gehad. Daar is nie teëgepraat nie. Almal het aanvaar dat hulle segsmanne van God was. “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus” (Judas :20).
(vi) Die apostels het ‘n unieke ereplek wat deur niemand gevul kan word nie. “En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam” (Openb.21:14). Hulle name is uniek, hulle taak was uniek, hulle bediening was uniek, so ook die wonders wat hulle gedoen het. Hulle was ongetwyfeld unieke mense sonder erfgename. Gevolglik lê die era van die apostels en dit wat hulle gedoen het, in die verre verlede waar dit hoort.
Die wonders wat hulle verrig het, was nooit bedoel om enigsins herhaal te word nie. Gelowiges het geen opdrag om na wonders te soek of te verrig nie. Ons het wel opdrag om die Skrif te lees en dit te gehoorsaam. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Kor.5:7).
Waarom probeer charismate die apostoliese era te laat herleef? Het God dan hierna niks noemenswaardig in die kerk gedoen nie? Hy het vir seker! Rondom ons is daar oral getuienis van sy wonderwerking – mense wat tot bekering kom, mense wat antwoorde op gebede verkry, die kerk wat vervolg, maar oorleef het. Dink maar net aan die Hervorming!
God het nie spreekbuise met bo-natuurlike gawes vir sy Kerk bestem nie. Indien Hy dit sou voorsien het, sou hulle beslis baie anders as charismate opgetree het! Waarom sou God aan swak teologie gesag verleen? Waarom sal Hy aan dwaalleraars wonderkragte toeken? Let daarop dat elke beweging wat wonderwerke as sentrale tema het, met kunsmatige teologie, teenstrydighede en onbeskaamde kettery besmet is!
Gelowiges het nie nuwe wonderwerke vandag nodig nie. In God se Woord het ons alles wat vir ons geestelike heil nodig is. Die kerk het geen behoefte aan nuwe apostels of die vurige betoog van ekstroverte wat mense met nuwe lering mislei nie. God het ‘n spesiale doel met die apostels van ouds gehad. Hy het ook ‘n spesiale doel met ons. En dis ook wonderlik omdat Hy God is en alles wat Hy doen, wonderlik is!