Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
GEESTESGAWES IN DIE VROEë KERK (1)
“En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Hand.2:4)
Hoe onderskei ons tussen waarheid en leuen? Ons gebruik die Bybel. As die Bybel so sê, is dit waar. As dit nie so sê nie, is dit ‘n leuen. Charismate gebruik weer hul geestelike ervaring. As iets daarmee strook, is dit waar en niks anders nie. Niks is objektief nie, maar subjektief. Nodeloos om te sê, belemmer dit hulle omgang met die Skrif!
Charismate lê te sterk klem op die boek Handelinge omdat dit die verhaal van die apostels se ervarings in die vroeë kerk is. Ons moet in gedagte hou dat Handelinge ‘n geskiedkundige verhaal is. Dis nie leer-gerig soos die briewe van Paulus en latere sendbriewe nie. Diè briewe is die hart van die Christelike en is geskryf om gelowiges te leer hoe om as nuwe mense in Christus te leef.
Handelinge is die verhaal van die Christelike kerk in sy kinderskoene. Die briewe van Paulus en die apostels leer weer gelowiges hoe om volwasse in die geloof te word. Handelinge is die geïnspireerde geskiedkundige verslag van die apostoliese era en kan nooit normatief vir die kerk van alle eeue wees nie.
Charismate verstaan Handelinge glad nie. In hul strewe na bonatuurlike geestelike ervarings, maak hulle dit normatief vir die kerk van alle eeue. ‘n Pastoor het eenkeer vir my gesê: “Christus het ‘n Pinkster-kerk op aarde kom stig. Hy wil dit net so met sy wederkoms aantref!” Hy het geen Skriftuurlike grond vir sy aanvegbare stelling gehad nie. Maar dis wat charismate glo! Nodeloos om te sê, getuig dit van baie swak teologie en ‘n jammerlike gebrek aan ware insig in God se Woord!
As die eerste kerk normatief vir alle eeu is, watter een se leer moet nagevolg word? Die gemeente in Jerusalem, Antiochië, Filippi of diè in Korinte? In Hand.2 lees ons dat die gelowiges al hul besittings verkoop en alles saam gedeel het. As Handelinge normatief is, waarom doen die charismate dit nie vandag nie?
Nee, Handelinge stel nie grondliggende leerstellings vir die vroeë kerk vas nie. Dit vertel bloot die verhaal van die oorgang van die kerk van die OT na diè van die NT. Die eertydse gawes, tekens en wonders was buitengewoon. Elkeen het ‘n spesifieke doel gehad en nooit los van die apostels se bediening gestaan nie. Die voorkoms daarvan het later baie sterk afgeneem. Dit wat aan die begin van Handelinge gebeur het, het nie meer aan die einde gebeur nie. Baanbrekerswerk hou nie vir altyd aan nie.
Handelinge is deur Lukas geskryf en beskryf ‘n periode van ongeveer 30 jaar. Dit begin met die uitstorting van die Heilige Gees en eindig by Paulus in die tronk in Rome. Handelinge is die verhaal van oorgang. Die ou verbond is uitgefaseer om vir die nuwe verbond plek te maak. Daar is van die sinagoge na die kerk en van die wet na genade oorgegaan. Die kerk het van ‘n liggaam van Joodse gelowiges na ‘n liggaam van Jode en nie-Jode wat in Christus verenig is oorgegaan. Handelinge is oorgangsgeskiedenis, uit en gedaan. Dit kan onmoontlik nie normatief wees nie! Dis die verhaal van dinge wat verby en afgehandel is. Dit kan nie herhaal word soos wat die charismate glo nie. Die enigste normatiewe leerstellings in Handelinge is dit wat later baie duideliker in die briewe van die apostels uitgewerk word.
Daarom is dit tragies dat Hand.2:4 sentraal in die charismatiese teologie staan. “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” Charismate glo dat mense tydens hulle bekering ‘n beperkte mate van die Heilige Gees ontvang en daarna bewustelik na die volle deel daarvan moet streef. Laasgenoemde word deur die charismate die doop met die Heilige Gees genoem en plaas gelowiges glo op ‘n hoër geestelike vlak omdat hulle in die bonatuurlike krag van die Gees onderdompel word.
Wie leer dat gelowiges met hul bekering wel in Christus, maar nie in die Gees gedoop is nie, dwaal. So ook dat die waarmerk van hierdie geestesdoop die spreek in vreemde tale is. Alle charismatiese kerk leer hierdie drie elemente: Die doop met die Heilige Gees wat na die bekering plaasvind, die ernstige strewe daarna en die spreek in tale. Dis geheel en al vreemd aan die Skrif en derhalwe dwaalleer!
Wat sê die Skrif? Jy word op die dag van jou bekering met die Heilige Gees gedoop: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor.12:13). Ons het geen Bybelse opdrag om op eie verdienste daarna te soek of in tale te praat nie; selfs nie in Handelinge nie waar vier hoofstukke oor die vervulling met die Gees handel nie – hoofstukke 2, 8, 10 en 19.
In Hand. 2 en 8 het die gelowiges wel die Gees ná hulle bekering ontvang, terwyl hulle in hoofstukke 10 en 19 dit gelyktydig met hul bekering ontvang het. Wat van die spreek in tale? Hand. 2, 10 en 19 maak daarvan melding, maar nie hoofstuk 8 nie. En die ernstige strewe na die doop met die Gees? Hand.2 sê dat gelowiges biddend daarop gewag en nie daarna gesoek het nie. Hand.8,10 en 19 maak egter geen melding daarvan nie. Om dus te sê dat Handelinge ‘n algemene patroon vir die doop met die Gees leer, is onwaar. As iets normatief is, moet dit ‘n vaste patroon hê en vir almal geld.
Let vervolgens op die vier hoofstukke in Handelinge wat oor die vervulling met die Heilige Gees handel. Charismate bou as’t ware hul hele teologie op hoofstuk 2 en wys daarop dat diegene wat op daardie dag met die Heilige Gees vervul is, alreeds die bekering gesmaak het. Dus, eers bekering en dan vervulling. Maar is dit normatief; eers bekering, dan die vervulling met die Heilige Gees?
Charismate glo dat toe Jesus na sy opstanding op die dissipels geblaas en vir hulle gesê het: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh.20:22), hulle wel die Gees ontvang het, maar dat die Pinkstergebeure en doop met die Heilige Gees groter geestelike waarde gehad en hulle krag gegee het. Nee, toe Jesus op hulle geblaas het, was dit ‘n belofte dat die uitstorting van die Heilige Gees baie naby was. Daarom het die dissipels Jerusalem nie verlaat nie, maar op die belofte gewag wat Jesus reeds in Joh.14:16 gemaak het: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid”
In Joh.20 is hierdie belofte weer onder die dissipels se aandag gebring omdat die tyd vir die vervulling daarvan voor die deur was. Hulle moes net geduldig op die krag uit die hemel wag. “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom...” (Hand.1:8). Joh.7:39 sê dat Jesus eers ten hemel moes vaar en verheerlik word alvorens die Heilige Gees bekend gestel kon word. Die dissipels moes nie die Heilige Gees gaan soek het nie, maar geduldig op Hom wag. Dis die patroon – wag op die Gees. Niemand in Hand.8, 10 en 19 het ooit na die Gees gesoek nie. Ook nie in Korinte, Thessalonika of enige ander gemeente nie. Almal het biddend gewag.. Geessoekery is on-Bybels en gee aanleiding tot dwaling.
Toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is, het ‘n nuwe bedeling vir gelowiges aangebreek wat deur wondertekens vooraf gegaan is. Daarna het die Gees tydens die bekering in elke gelowige in hom/haar kom woon. “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon...” (Rom.8:9).
Die charismate se stelling dat almal wat met die Heilige Gees gedoop is in tale sal spreek is on-Bybels. Daar is geen aanduiding dat die 3000 wat op Pinksterdag tot bekering gekom het soos die dissipels in tale gepraat het nie. Die gebeure in Hand.2 was ‘n unieke wonder en die eerste en laaste uitstorting van die Heilige Gees. God het wondertekens in die tempel gegee sodat almal kon glo dat iets buitengewoon gebeur het. Dit was soos die bekendstellig van ‘n produk.
Pinkster kan net so min as die skepping van die mens herhaal word. Die Gees van God het eenmalig sy verblyf in die kerk geneem. En dit het op ‘n gegewe tyd soos in die OT voorspel is, gebeur. Dit was vir ‘n uitgesoeke klompie mense bedoel en met ‘n spesifieke doel. Hierdie gebeure kan onmoontlik nie as ‘n norm vir die kerk van alle eeue gebruik word nie. Wie dit doen, dwaal!
In 1976 het die Pinkster-kerke ‘n wêreldkonferensie in Jerusalem gehou om die sg. voortgaande wonder van Pinkster te gedenk. Dit gebeur as jy dwaal en Hand.2 normatief maak. Ironies genoeg stem dit wat die charismate vandag leer, geensins met die leer van die apostels ooreenstem nie!
Die Bybel roep ons tot waaksaamheid en nugterheid in die geloofslewe op. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thess.5:6) “Wees nugter en waaksaam, want julle teenstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8).