DIE CHARISMATIESE GEVAAR (14)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar

GELOOFSGENESING

"Siekte tas elke mens op aarde aan en lei uiteindelik tot die dood.  Niemand, nie eens diegene wat die werklike gawe van genesing gehad het, is die dood gespaar nie.  Net Henog en Elia het nooit die dood gesmaak nie."

“En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys” (Hand.3:9)

Charismate lê baie sterk klem op geloofsgenesing.  In Amerika ontmoedig The Faith Assembly selfs mense om van die mediese wetenskap gebruik te maak.  Dis glo ‘n voortsetting van heksery en swart magie!  Om ‘n dokter te besoek, stel jy jouself aan demoniese invloede bloot.  Alhoewel charismate nie almal hierdie siening huldig nie, is baie van hulle skepties oor mediese wetenskap en vertrou eerder sg. geloofgenesers.

Baie charismate is al oorlede omdat hulle mediese sorg geweier het.   Onder hulle is daar selfs 'geloofsgenesers' soos William Branham, Kathryn Kuhlman en Hobart Freeman.  So ook Ruth Stapleton, ‘n suster van oud-president Jimmy Carter.  ‘n Mens sidder om daaraan te dink hoeveel kindertjies nie al dood is omdat ouers mediese sorg geweier het nie!   Daar was al etlike hofsake hieroor.

Charismate sê dat God alle siekes wil genees.  Dit staan nêrens in die Bybel nie.   Hulle verbind siekte verkeerdelik met sonde en maak geloofsgenesing ‘n sentrale element in hul godsdiensbeoefening.  Die aansprake van sommige geloofgenesers wissel soms van eienaardig tot absurd en kan nie anders as foefies beskryf word nie. Hierdie dwaling is weereens aan ‘n gebrek aan behoorlike Skrifkennis te wyte.  Jesus sê vir die kerklui: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie” (Mt.22:29).

‘n Deeglike studie van God se Woord dui op drie kategorieë geestelike gawes.  Efes.4 praat van begaafde gelowiges t.w. apostels, profete, evangeliste, leraars ens.  Hulle word as gawes van God gesien.  Tweedens is daar permanente opbouende gawes soos kennis, wysheid, profesie (gesaghebbende prediking), onderrig, vermaning, gebed, barmhartigheid ens. (Rom.12:3-8; 1 Kor.12:8-10,28). Derdens is daar tydelike gawes wat net vir ‘n beperkte tyd aan sekere gelowiges gegee is om gesag aan die Skrif te verleen omdat die Bybel toe nog nie klaar geskryf was nie.   Hierdie gawes het uit profesie (onthullende profesie), wonderwerke, genesings, tale spreek en die uitleg daarvan bestaan en is met ‘n doel gegee – om die gesag van die apostels te bevestig sodat as hulle gepraat het, mense kon weet dat dit van God was.

Die oomblik toe die Bybel klaar geskryf is, was diè gawes nie meer nodig nie en het dit ten einde gekom.  Daarom maak die kerkgeskiedenis bv. nie van ‘n voortsetting van die gawes gewag nie.  Oral waar nabootsings daarvan wel kop uitgesteek het, het dit in gruwelike dwaling ontaard omdat dit nie uit God was nie, maar uit die Satan!

Wonderwerke en genesings was buitengewone gawes om God se openbaring te steun.

Die grootste bewerker van wondetekens was egter Jesus self.  Hy het drie soorte wonders verrig.  Eerstens wondergenesing.  Hy het baie siekes genees en mense uit die dood opgewek.   Tweedens duiwelbanning.  Jesus het bose geeste uit mense gedryf en hulle genees.  Derdens natuurwonders.  Jesus het brood vermeerder, op die see geloop en storms laat bedaar.  Sy wonders was nie by uitsondering nie.  Hy het baie gedoen waarvan ons nie eens weet nie.  “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie” (Joh.21:25).

Die doel van hierdie wonderwerke was om Jesus se aanspraak dat Hy God was, te bevestig.   Nadat  sy werk op aarde afgehandel is, was dit die apostels se taak om die Evangelie verder te dra sodat dit in die Bybel opgeteken kon word.  Daarvoor het Jesus hulle die vermoë gegee om genesingswonders te doen en demone uit te ban.   Hulle het egter nie die vermoë gehad om, soos Jesus, natuurwonders te doen nie.

God het die vermoë om wonderwerke te verrig uitsluitlik aan die apostels en diegene wat met hulle saamgewerk het, verleen.  Dis nie aan alle gelowiges gegee nie, maar tot die bediening van die apostels beperk.  Hulle was immers God se agente in die vestiging van die christelike kerk en derhalwe baanbrekers.  Soos wat hulle te sterwe gekom het, het die wondergawes ook verdwyn.  Hul baanbrekerswerk kon nie vir altyd aanhou nie soos die kerkgeskiedenis dan ook bevestig.

Die Griekse woord wat in die NT vir wonderwerke gebruik word, is dunamis wat letterlik krag beteken.  Die apostels het hierdie gawes as ‘n krag van God ontvang.  Dwarsdeur sy Lewe en bediening moes Jesus die Satan met krag (dunamis) weerstaan en verslaan.  Hy het siekes genees en demone uitgedryf.  So ook die apostels en hul medewerkers.  Hulle wonderwerke was slegs tot genesing en duiwelbanning beperk.  Ons raak bv. nie vandag van demone ontslae deur iemand met ‘n besondere gawe in te roep om hulle te verdryf nie.  Ons volg die Bybel se riglyne hoe om oor die Satan te triomfeer (2 Kor.2:10,11; Efes.6:11-18; 2 Tim.2:25,26; Jak.4:7; 1 Pet.5:7-9).

Siekte is ‘n aaklige werklikheid waarmee die mens sedert die sondeval te kampe het en die soeke na geneesmiddels duidende jare oud.  Siekte tas elke mens op aarde aan en lei uiteindelik tot die dood.  Niemand, nie eens diegene wat die werklike gawe van genesing gehad het, is die dood gespaar nie.  Net Henog en Elia het nooit die dood gesmaak nie.  Slegs Jesus het dit oorwin deur triomfantlik daaruit op te staan.

Die soeke na genesing is ‘n wêreldwye verskynsel wat skaamteloos deur charismate uitgebuit word.  Hulle sg. geloofgenesing vind, vreemd genoeg, altyd in ‘n beperkte ruimte plaas.  Die Amerikaanse TV wemel van charismatiese programme en netwerke waarmee jaarliks miljoene dollar verdien word.  Waarom kom die geloofsgenesers nie vir ‘n slag uit hul tente en TV ateljees en gaan na hospitale, sanatoriums en rehabili-tasie sentrums nie?   Waarom gebeur dit nie?  Omdat hulle wat sê dat hulle die gawe het, dit nie het nie!   Die genesingsgawe was ‘n tydelike gawe om die Evangelie as Woord van God mee te bevestig.  Daarna het dit verdwyn.  Charismate glo dit nie!

 

Alhoewel God ook oor ons liggaam begaan is, is Hy meer oor ons siele begaan.  Al sou alle gelowiges wondergawes hê, sou die mensdom hom nie bekeer nie.  Wat het Jesus se genesings per slot van sake vir Hom gebring?  ‘n Totale verwerping en die dood.   Die apostels het self nie beter gevaar nie.  Hulle is in die tronk gegooi, vervolg en selfs gedood.   ‘n Mens kom nie tot bekering deur wonders te aanskou nie, maar deur die Evangelie te hoor en dit te glo (Rom.10:17).

 

‘n Hollander skryf by geleentheid: “Satan ben de aap van God”  Satan aap God se wonderwerke na, ‘n feit wat nie sterk genoeg beklemtoon kan word nie.  Ongelukkig steur charismate hulle nie hieraan nie.  Toordokters en ander Satansagente verrig ook opsienbarende wonders soos die Farao se towenaars in die tyd van Moses.  Die charismatiese beweging wemel van towenaars wat God se wonders naboots.  Lees gerus wat William Branham nie alles met die mag van die Satan verrig het nie!

Die charismate se beoefening van die gawe van genesing strook geensins met die Skif nie.   Desondanks kan dit nie ontken word dat daar wel iets in hul dienste gebeur nie.  Mense slaan om (slain in the spirit), korter bene word skynbaar langer en invalides staan uit hul rolstoele op ens.  Is dit die gawe van genesing?   Geensins!  In die meeste gevalle is dit nie kontroleerbare gevalle nie.  Die meeste keer weer na hul rolstoele terug.  Dis outosuggestie – die krag van verbeelding.

In my eerste gemeente in Kaapstad was daar ‘n vrou wat terminaal siek aan kanker was.  Haar kinders het aan ‘n charismatiese kerk behoort en haar na ‘n genesingsdiens geneem waarna sy my verseker het dat sy genees is en nie verdere siekebesoeke verlang het nie.  Ek het haar ses weke later begrawe.

Charismate huldig ‘n bedenklike teologie.  As iemand bv. nie genesing ontvang nie, sê hulle baie gou dat so ‘n persoon se geloof nie sterk genoeg is nie of dat daar nog sonde in sy lewe is wat hy nog nie bely en vergifnis voor ontvang het nie.  Let wel: Die probleem lê nooit by die geloofsgeneser self nie.  En dis juis waar dit lê – mense gee voor om iets te hê wat hulle nie het nie en mislei ander!

Die skade wat geloofsgenesers aan siele en liggame aanrig, is groot.  Hulle is nie net vir baie angs en ongelukkigheid verantwoordelik nie, maar hou ook soms mense weg van lewensreddende mediese behandeling.   Neem wyle Kathryn Kuhlman as ‘n sprekende voorbeeld.  Charismate huldig haar as een van die grootste geloofsgenesers van alle tye.  Sy het tot en met haar betreklike vroeë dood miljoene dollars per jaar met haar TV optredes en genesingsdienste gemaak.

Kuhlman het beweer dat sy etlike kankerleiers genees het.  Na herhaaldelike navraag het sy dr. John Mc Arthur die name en adresse van agt van die kankerleiers laat kry aan wie hy toe geskryf het.  Sewe van hulle is nooit genees nie.  Van die ander 82 gevalle van Kuhlman se genesing wat nagespeur is, het slegs 23 gereageer.  Nie een van die genesings was eg nie.  Dit was alles verbeelding!

Nie een van vandag se sg. geloofsgenesers kan onweerlegbare bewys van hul gawe lewer nie.  Die meeste van hulle is opvallend vals en die genesings wat hulle bewerk, verdag!  ‘n Paar jaar gelede het ‘n sekere pastoor Wolmarans daarop aanspraak gemaak dat hy ‘n genesing oor die TV sou doen.  Hy kon nie!

Laat ons ag gee op Jesus se woorde: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?   En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid bewerk” (Mt.7:22,23).

Ja, siekte dryf mense soms tot snaakse dinge.  Dis waar wat die Satan in Job.2:4 sê: “Toe het die Satan die Here geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe”.  Baie van die mense wat by genesingsdienste opdaag, is terminaal siek.  Ander het weer sielkundige skete.  Ander het weer soveel twyfel, dat hulle van die een genesingsdiens na die ander hardloop om hul geloof te probeer versterk.  Die meeste keer gebroke en verslae huiswaarts met ‘n gevoel van God wat hulle in die steek gelaat het of dat hul geloof te kort skiet.  Dis wat charismate doen!