Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
DIE SPREEK IN TALE (2)
" Al haar pogings om vas te stel watter taal dit was, was tevergeefs totdat ‘n sendeling uit Nigerië haar besoek het. Toe hy die naam wat die inboorlinge vir die Satan gebruik, noem, het sy die papier met die vreemde taal vir hom gegee om te probeer lees. Dit was vreeslike godslastering in een van die Nigeriese dialekte! "
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en lering van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1).
Waarom spreek sekere mense na byna 1,900 jaar vandag weer in tale? Daar is net twee moontlike verklarings hiervoor; dit het òf hervat òf dis Sataniese misleiding en derhalwe selfbedrog. Charismate verskil van mekaar hieroor. Een groep sê dat die gawes nooit geëindig het nie maar dat die kerk dit vir 1,900 jaar verwaarloos het. Gedagtig daaraan dat Jesus ten hemel gevaar het vanwaar Hy sy Kerk regeer, sê hierdie mense in effek dat Hy sy werk nie goed gedoen het nie! Hierdie standpunt plaas hulle dan ook in die tradisie van dwaalleraars soos Montanus en ander ketters.
‘n Ander groep glo weer dat die gawe van tale wel na die apostoliese era ten einde gekom het, maar aan die begin van die 20ste eeu as ‘n tweede en finale uitstorting van die Heilige Gees hervat is om gelowiges krag vir die laaste dae te gee. Dit wat God aan die begin vir die kerk gedoen het, doen Hy aan die einde weer. Hiervoor haal charismate Joël 2:28 aan: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom en julle jongelinge gesigte sien” Hulle dwaal weereens omdat hulle die Skrifte nie ken nie! Petrus sê op Pinksterdag aan die Jode dat dit wat hulle beleef het ‘n vervulling van hierdie profesie is en haal Joël 2:28 woordeliks aan. Wie is reg, Petrus of die charismate?
Charismate kan nie Joël 2:28 gebruik om hul tale-sprekery mee te verdedig nie. Ironies genoeg maak Joël nie eens van tale melding nie! Daarbenewens is daar hoegenaamd geen Bybelse bewys dat die Heilige Gees vir ‘n tweede keer uitgestort is of dat gelowiges aan die einde van die tyd wonders sal doen nie. Die Bybel waarsku eerder dat daar net voor Jesus se wederkoms baie valse profete sal wees wat die Bybel en die waarheid gaan verdraai, asemrowende wondertekens gaan doen, demone gaan uitdryf en oortuigend profeteer MAAR NIE MET DIE KRAG VAN GOD NIE!
Waarom word die spreek in tale so hoog in charismatiese kerke aangeslaan? Kan dit wees omdat die maklikste van al die buitengewone gawes is om na te boots? Baie wat in tale spreek sê dat dit hulle geestelike lewe verryk het. Is dit werklik so, of is dit selfbedrog? Ek het baie jare gelede vir meer as ‘n jaar self in tale gespreek en dit was selfbedrog. Toe ek dit los, het my geestelike lewe verbeter!
Is daar enige objektiewe bewys dat charismatiese kerke geestelik sterker is as kerke wat slegs aan die Bybel glo en derhalwe nie ‘n voortsetting van die buitengewone gawe van die Gees voorstaan nie? Nee, daar is nie. Om die waarheid te sê, moet ‘n mens sommer baie ver gaan soek om ‘n charismatiese kerk te kry waar geestelike groei en Skrifkennis werklik die fokuspunt is. Eerder subjektiewe ervarings.
Indien die charismatiese kerke nie beter gelowiges oplewer nie, watter vrugte dra hulle dan? “Maar pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken...” (Mt.7:15,16). Charismate vertel net hoe die spreek in tale hulle laat voel en nie hoe dit hulle beter vrug laat dra nie. God het nie aan die apostels die spreek in tale gegee om hulle beter te laat voel nie, maar as ‘n getuienis teenoor ongelowige Jode.
Ek weet van geen geval waar charismate wat in tale gespreek het, bestaande tale gepraat het nie. Dit wat vandag in charismatiese kringe beoefen word, is nie dieselfde as wat in die apostoliese era voorgekom het nie. Watter tale word dan gespreek? Daar is etlike moontlikhede. Dit kan Satanies wees. Onthou, die Satan sit agter elke vals godsdiens en spesialiseer in die vervalsing van die waarheid. “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulle verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan verander homself in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie....” (2 Kor.11:13-15).
Mense en kerke wat nie by die waarheid van God se Woord hou nie, val die Satan ten prooi. Let op die teksvers. Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en lering van duiwels sal aanhang” Wanneer raak mense afvallig? Wanneer hulle die waarheid opsy skuif en leuens begin glo; leuens wat met baie Bybelteks versier word! Die wêreld is in die mag van die vors van die duisternis. Dis donker. Die Bybel is ons enigste lig. ”U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps.119:105). Wie die Bybel nie ken nie, gaan soos ‘n reisiger in die donker vir seker struikel en val!
Ekstatiese taal kom algemeen onder afgodsdienste voor. Daar is aangetekende gevalle van besetenes in Oos-Afrika wat sonder enige voorkennis in bestaande tale gepraat het! Ekstatiese taal kom baie onder voorvadergees-aanbidders, Hindoes en Boeddiste voor. So ook onder diegene wat met duiwelkunste omgaan. Die gevaar van Sataniese invloed is dus ‘n baie sterk moontlikheid in charismatiese kringe.
Dr. Kurt Koch skryf van ‘n Britse vrou wat aan ‘n charismatiese kerk behoort het. Elke Sondag het ‘n vrou voor haar opgespring en in tale gepraat. Toe dit later herhalend begin klink het, het sy ‘n bandopname daarvan gemaak en tuis foneties neergeskryf. Al haar pogings om vas te stel watter taal dit was, was tevergeefs totdat ‘n sendeling uit Nigerië haar besoek het. Toe hy die naam wat die inboorlinge vir die Satan gebruik, noem, het sy die papier met die vreemde taal vir hom gegee om te probeer lees. Dit was vreeslike godslastering in een van die Nigeriese dialekte!
‘n Ander moontlikheid is dat tale-spreek ‘n aangeleerde vermoë is. Charismate hou graag kampe en konferensies oor die spreek in tale waar hulle mense aanpor en as te ware wil jump start om in tale te kan praat. Dis onskriftuurlik! Geestesgawes is juis iets wat nie aangeleer word nie, maar van God ontvang word. Dieselfde ding gebeur ook met profesie. Charismate leer mekaar hoe om te profeteer. Onskriftuurlik!
In charismatiese kringe is daar groot druk om iets te wees, aan iets te behoort en op geestelike gebied iewers in die lewe te kom. Vandaar die begeerte om soos die ander charismate gawes te hê wat jou aan die brand kry en hou. As jy nie soos hulle is nie, skiet jy iewers te kort. Daarom is daar groot ontnugtering as hulle later agterkom dat dit aangeleerde vermoëns en nie werklike gawes is nie en dat hulle nog steeds met dieselfde probleme, tekortkominge en struikelblokke as voorheen opgeskeep sit. Sulke mense val baie maklik van die geloof af weg.
‘n Laaste moontlikheid waarom mense in tale spreek, is sielkundige beïnvloeding. Een mens kry beheer oor ‘n ander een se denke. Dis hoe hipnose werk! Charismate het al getuig dat wanneer hulle in tale gepraat het, hulle ‘n bietjie snaaks gevoel het, amper soos in ‘n ligte beswyming. Skisofrene besig ook soms brabbeltaal.
Charismate is oor die algemeen baie emosionele mense. Hulle ganse leer is op emosie ingestel. Gevolglik verwar hulle die vurige betoog van ‘n ekstrovert met geesteskrag. Dis tragies dat mense wat sê dat hulle God liefhet, nie die waarheid van sy Woord liefhet nie. Dis teenstrydig! Een ding is seker - dit wat vandag as die spreek in tale voorgehou word, is nie Bybels nie en derhalwe ‘n vervalsing!
Dit bring ons by die vraag: Waarom jaag mense dit geesdriftig na? Waarom oortuig hulle ander om dit na te doen? Die rede daarvoor is GEESTELIKE HONGER! Mense hoor dat die spreek in tale ‘n bonatuurlike geestelike ervaring is en is bang dat as hulle dit nie soek en vind nie, hulle iets mis. Hulle soek daardie iets meer op geestelike gebied. Hulle is gretig om hulself geestelik uit te druk. Baie van hulle het kerklik afvallig geword of woon al jare lank ‘n Calvinistiese kerk by sonder om betrokke te wees. Gevolglik is hulle nie as meelewend en/of geestelik beskou nie. Hulle voel uit en wil in voel; ‘n nuwe blaadjie omslaan. Dis waar die meeste charismatiese kerke hulle slag slaan. Hulle laat mense na iets in die lewe voel.
Charismatiese kerke bars vandag uit hul nate weens die behoefte aan ‘n alternatief vir die koue, lewelose Christendom wat sommige kerke kenmerk. Mense soek na lewe, opwinding, warmte en liefde - hulle wil God ervaar! Dooie ortodoksie bevredig niemand nie.
Wat moet ons doen? Hulle maar los siende dat dit so goed klink? Dis wat die Satan wil hê! Nee, ons durf hulle nie los nie! Dis liefdeloos om iemand wat in die leuen leef, maar sy gang te laat gaan net omdat dit hom goed laat voel. Ons is verplig om te waarsku. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16).