Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is – Spreuke 13:24
GOD BEDOEL WAT HY SÊ
Die oordeelsprofesie teen die stad Tirus in Esegiël 26.
Anita Joubert
Een van die interessantste en ongelooflikste profesieë in die Bybel, is dié een wat die profeet Esegiël teen die stad Tirus uitgespreek het in ongeveer 597 v.C., toe die Suidryk van Israel in ballingskap weggevoer is na Babel. Die profeet Esegiël is saam met die ballinge na Babel weggevoer, en het daar as profeet opgetree.
God het Israel gestraf vanweë hulle eeuelange volgehoue sonde. Ons lees in die Bybel van vyf profete wat die volk Israel gewaarsku het dat hulle volgehoue sonde gaan veroorsaak dat hulle in die hande van hulle vyande oorgelewer gaan word. Moses het hulle gewaarsku, reg aan die begin. Lees gerus Deuteronomium 28: 47 tot 68. Miga was ’n tydgenoot van Jesaja en ons lees van sy waarskuwingsprofesie in Miga 4:10 tot 14. Hy het selfs ook hulle redding uit die ballingskap geprofeteer. Habakuk het hulle gewaarsku en Jeremia het vir 23 jaar lank probeer om die volk tot inkeer te laat kom. Sy eie mense het hom met stokke geslaan, hom in ’n modderput gegooi, later in die tronk. Hulle het alles probeer om van hom ontslae te raak behalwe om te luister na wat die Here vir hulle sê. Hulle is baie swaar gestraf.
En die regeerder van Tirus en sy mense waag dit om hulself te verlustig in die Verbondsvolk se ellende (Eseg 26:2). In hierdie tydperk het die mense van Tirus onskuldige mense gevang en as slawe verkoop en hulle optrede het vrees ingeboesem by die omliggende volke. Hulle was wreed en hebsugtig.
Die Fenisiese hoofstad, Tirus, was ‘n baie belangrike handelsentrum van die antieke wêreld. Dit was geleë aan die Middelandse See, suid van Beiroet en was een van Israel se noordelike grensstede (Jos 19:29; 2 Sam 24:7). Die stad is volgens oorlewering in ongeveer 2750 v.C. gestig, maar historici verskil baie wat die presiese tyd betref. Nadat die Fenisiërs geleer het om groot skepe te bou, het hulle spoedig die handel van dié gebied oorgeneem.
Die regeerder van Tirus het hom verbeel hy is ‘n god met baie wysheid (Eseg 28:2-4). Die rykdom wat hy so sorgvuldig bymekaar gemaak het, het hom nog meer hooghartig gemaak en sy selfverheffing veroorsaak dan ook sy val. Behalwe die profesie van Esegiël teen Tirus en sy regeerder, het die profete Jesaja en Jeremia, albei ook oordeelsprofesieë teen Tirus uitgespreek (Jes 23:1-18 en Jer 25:15-38). Jesaja gee die rede vir die Here se besluit: ‘Hy breek die trots en Hy maak die hoogmoed tot niks.’ Jeremia kry opdrag van die Here om simbolies God se oordeelsbeker na ‘n hele lys nasies uit te hou, waarvan Tirus één is.
In 587 vC, dieselfde jaar waarin Jerusalem geval het, gee God aan Esegiël die oordeelsprofesieë teen Tirus en sy regeerder. Hy spreek sewe voorspellings uit wat die stad se lot bepaal:
- Baie nasies sal teen hom optrek (Eseg 26:3)
- Nebukadnesar sal die stad verwoes (Eseg 26:7)
- Sy mure en huise sal verwoes word en sy klippe, hout en selfs sy grond sal in die see gegooi word (Eseg 26:12)
- Sy grondlaag sal verwyder word sodat die stad net ‘n kaal klipplaat is (Eseg 26:4)
- Hy sal net nog ‘n plek in die see wees waar visnette droog gemaak word (Eseg 26:5).
- Hy sal nooit weer herbou word nie (Eseg 26:14).
- Hy sal nooit weer gevind word nie (Eseg 26:21).
Om die vervulling van hierdie oordeelsprofesieë te bestudeer, is dit nodig om buite-Bybelse, historiese bronne te raadpleeg, omdat dit oor baie eeue plaasgevind het en nie in die Bybel opgeteken is nie
Hierdie sewe oordele het soos volg, letterlik, in vervulling gegaan:
- Die stad is, nadat dit deur Nebukadnesar oorwin is, eers deur die Perse en daarna deur Alexander die Grote in 333 v.C aangeval en oorwin. In 313 v.C. het die Romeine dit finaal onderwerp. In 1123 n.C. is Tirus deur die kruisvaarders van die Saraseens afgeneem. Sy voorspoed is egter finaal deur die Turke in 1516 n.C. verwoes. Dit was voorwaar baie nasies wat met eeue lange tussenposes soos die golwe van die see teen hom opgetrek het.
- Die jaar nadat die profesie uitgespreek is (586 v.C.), het Nebukadnesar in beleg teen die stad opgetrek. Nadat hy die stad vir dertien jaar lank beleër het, was Tirus so verswak dat hy aan Babiloniese opperheerskappy moes oorgee. Toe Nebukadnesar se troepe uiteindelik die stad binnestroom, vind hulle dit feitlik leeg. Die meerderheid van die mense het stilletjies, per skip, na ‘n eiland, twee en ‘n half km vanaf die kus, gevlug en daar ‘n nuwe stad gevestig. Die oorspronklike stad is in 573 v.C. deur Nebukadnesar verwoes (Eseg. 26:7). Die nuwe stad Tirus op die eiland, het egter vir etlike honderde jare bly voortbestaan.
- Toe Alexander die Grote in 333 v.C. teen Tirus optrek, was sy aanval gemik op die eilandstad. Die eiland was omring met hoë mure tot teen die see; dus feitlik onbereikbaar en onmoontlik om aan te val. By gebrek aan ‘n vloot het hy net eenvoudig begin om al die puin en afval van die ou stad in die see te gooi, om ‘n pad tot by die eiland te bou. Hy het alles wat daar was, selfs die hout, klippe en die grond gebruik (Eseg. 26:12).
- Op hierdie wyse het hy daarin geslaag om ‘n sestig meter breë hawehoof of keerwal na die eiland te bou. Die inwoners van Tirus het die werk bemoeilik met teenaanvalle en Alexander die Grote moes ander volke wat hy reeds oorwin het, se vlote opkommandeer om hom te help. Na ‘n beleg van sewe maande, val hy die stad binne en agt duisend mense sterf. Dertig duisend mense word weggevoer as slawe. As gevolg van die bou van hierdie wye hawehoof, lyk die grootste deel van die eens glorieryke stad, nou soos ‘n kaal rotsplaat (Eseg. 26:4).
- Die hawe van Tirus word vandag nog gebruik. Klein vissersbootjies lê daar geanker. ‘n Klein vissersdorpie, Soar, het daar ontstaan.Waar eens die handelsmekka van die antieke beskawing was, gooi vissermanne nou hulle nette oop op die kaal klipplaat om droog te word (Eseg. 26:5).
- Ander stede wat deur oorloë verwoes is, is altyd weer herbou. Jerusalem het telkemale weer uit sy ruïnes verrys. Die plek waar Tirus was, beskik steeds oor sterk fonteine met vars water en is ‘n baie geskikte plek vir ‘n groot stad. Dit is egter nooit weer herbou nie (Eseg. 26:14).
Die presiese plek van hierdie antieke stad kan nie meer vandag bepaal word nie, as gevolg van die algehele vernietiging wat plaasgevind het. So is ook dié voorspelling in vers 21 vervul.
- Hierdie profesie en sy vervulling, laat ʼn mens net weer besef dat God bedoel wat Hy sê.
- Profesieë van ware profete, moet ernstig opgeneem moet word.
- Dit sal in vervulling gaan, al neem dit soms eeue lank.
- ’n Ander waarheid wat hier duidelik na vore kom, is die feit dat dit ’n gruwel vir God is wanneer ’n mens homself in ʼn ander se swaarkry en ellende verlustig, al het so ʼn persoon dit oor homself gebring.
Ons dien ʼn genadige, lankmoedige God, maar Hy is ook heilig en regverdig en Hy haat sonde. Al wat Hy vra is verootmoediging, ware berou en dat ons sal terugkeer na Hom toe. Hy gee ons soveel kanse, soveel geleenthede, maar op ʼn dag, dan tree Hy op, met tragiese gevolge vir diegene wat aan Hom ongehoorsaam gebly het.