
Gustav Norval
Genesis 6 vers 4 meld dat daar reuse (“nefilim” in Hebreeus) voor die vloed op die aarde geloop het en ook daarna. Volgens die teks blyk dit dat gevalle engele (”seuns van God”) met vrouens verkeer het en toe reuse, asook die “geweldiges uit die ou tyd (“gibborum olam” in Hebreeus) gebaar het. Die King James Bybel vertaal gibborum as “the mighty men of old.” Opgrawings het baie van hierdie reuse se geraamtes opgelewer in verskeie lande in Amerika, Suid-Amerika en Europa, wat wissel van 3 tot net oor die 10 meter in lengte.
Hierdie reuse word ook “Enakiete” genoem (in Num. 12:22), “kinders van Enak” (Rigters 1:20), “kinders van Anak” (Num. 13: 33) en “kinders van die Enakiete” (Deut. 1:28). Die Enakiete het groot versterkte stede gehad (Jos. 14:12) en die grootste van die reuse was een wat Arba geheet het (Jos. 14:15). In Deut 2:10 word melding gemaak van “Emiete, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete” en in die volgende vers lees ons: “...hulle word ook vir Refaïete gehou soos die Enakiete, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.”
Die term “Refaïete” (ook gevind in Gen 15:20) is afgelei van die Hebreeuse woorde Refa (“reus”) en Refa’im (“reuse”) en die Hebreeuse woord “Anakim” word vertaal as “Enakiete.” Josua het die Enakiete aangeval en slegs ‘n paar het oorgebly en hulle het na Gasa, Gat en Asdod in Filistia gevlug. Een van die oorlewendes was Goliat wat deur Dawid verslaan was. Josua het ook Og, die Amoriet-koning van Basan aangeval en volgens Josua 12:4 was Og ‘n oorbyfsel van die Refaïete (reuse) van Astarot en sy bed was 9 el (4,1 meter) in lengte (Deut 3:11). Volgens Deut. 3:13 is Basan die land van die Refaïete genoem. Lot se land was volgens Deut. 2:20 ‘’n land van Refaïete (reuse) en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem. Die daarop volgende vers beskryf hulle as “’n volk groot en talryk en hoog in gestalte soos die Enakiete.”
Dawid het te staan gekom teen reuse soos Goliat en Jisbi-Benop (2 Sam. 21:16), terwyl sy broer Jonathan ‘n reus, met 6 vingers en ses tone aan elke hand en voet, in Gat verslaan het (2 Sam. 21:20). Dawid se dienaar het twee ander reuse gedood in 2 Sam. 21 verse 18 en 19.
In Amos 2:9 lees ons van die Amoriete “wie se hoogte was soos die hoogte van seders, sterk soos eikebome”, maar die Israeliete het egter die Amoriete verslaan en hul land bewoon (Num 21:31). In Rigters 3:5 verneem ons dat die “kinders van Israel het onder die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon en hul dogters vir hulle as vroue geneem en hul eie dogters aan hul seuns gegee en hul gode gedien.” (Rigters 3:6)
Die reuse (Refaïete, Emiete, Samsummiete, Anakiete, Enakiete, Amoriete) was eens op ‘n tyd ‘n gedugte spul wesens en die produk van gevalle engele en aardse vroue. Sommige was geweldig groot, maar sommige soos koning Og van die Amoriete was sowat 4 meters lank en die Amoriete kon maklik met Israeliete vermeng (Rigt. 3:6). Is hierdie Nefilim-nageslag dalk nog tussen ons?