DIE TRAKTAATJIE

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

“Jy hoef nie jou traktaatjies hier te laat bly nie,” sê die driftige man vir die welmenende kolporteur wat hom ‘n paar eenvoudige traktaatjies aangebied het.  “ Neem hulle weg, want ek sê jou vooraf dat ek hulle gaan verbrand as jy hulle hier los!”

Die kolporteur het egter die traktaatjies neergesit en weggestap.  Toe skree die man agter hom aan:  “Kom terug!  Kom vat jou goed!  Wat jy hier los, verbrand ek!”

‘n Jaar daarna het die kolporteur hom weer op dieselfde plek bevind.  Hy het onthou hoe die kwaai kêrel gedreig het om die traktaatjies wat hy daar gelaat het, te verbrand en soek hom toe weer op.  Hy was baie verbaas toe die man hom baie vriendelik ontvang en nog meer verbaas toe dié hom ‘n Bybel vra. “Hoe is dit dan, my vriend?  Ek het laas toe ek hier was, gedink u gaan die traktaatjies verbrand  wat ek hier gelos het?”

“Ja ek weet ek het gedreig om hulle te verbrand en ek het dit ook gedoen,  maar een van daardie selfde traktaatjies was die oorsaak van die verandering wat u nou hier by my sien.”

“Hoe kan dit wees as u hulle verbrand het, sonder om dit te lees?”

“Ek het hulle almal in die vuur gegooi toe u weg was,” sê hy, “en ek het gesit ek kyk hoe hulle stadigaan verbrand,  maar meteens het die vuur een van hulle laat omkrul en die lig op ‘n sin laat val wat my getref het.  

“Wat was dit?”

“Dit was ‘n vers uit die Bybel:  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.  Die volgende oomblik was alles verbrand en tog was dit of ek dit nog helder kon sien.  Ek het gedink, ja, ek kan hierdie boekies verbrand dat hulle in as verdwyn, maar die Woord van God kan nie verbrand word nie.  Dit bestaan vir ewig.  Ek mag dit ontken, maar dit is alles waar.”

Hierdie man het ‘n standvastige volgeling van Christus geword en ‘n getroue belyer van die onverganklike waarheid wat hy eenmaal wou vernietig.