UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
'n Amerikaanse dokter vertel dat hy tydens die Amerikaanse Burgeroorlog ‘n chirurg in die leër was:
Op ‘n keer was daar na ‘n bloedige slag honderde gewonde soldate in die hospitaal. Onder hulle was daar ‘n seun wat slegs drie maande tevore as tromslaner by die magte aangesluit het. Hy was swaar gewond en my assistent wou hom ‘n verdowingsmiddel toedien, maar hy wou dit nie neem nie.
“Maar die dokter het gesê jy moet dit neem.”
“Stuur asseblief die dokter na my toe,” was sy antwoord.
Toe ek by hom kom, vra ek: “Seun, waarom weier jy om die verdowingsmiddel te neem? Toe ek jou daar op die veld gekry het, wou ek eers by jou verbygaan, want ek het gedink jy is te ver heen om nog moeite met jou te doen. Toe jy egter jou oë oopmaak, kom die gedagte by my op dat jy seker êrens ‘n moeder het wat aan jou dink en toe wou ek jou nie op die veld laat sterwe nie en ek het jou hierheen laat bring. Maar jy het baie bloed verloor en is uiters swak en jy moet maar liewer die verdowingsmiddel neem.”
Hy het sy hand in myne gesit en my in die oë gekyk en gesê: “Dokter, toe ek nege jaar oud was, het ek die Here Jesus as Verlosser aangeneem. Van toe af vertrou ek op Hom. Hy sal my ondersteun en my krag gee wanneer u aan my arm werk.”
Ek wou hom ‘n bietjie brandewyn gee om hom te versterk, maar hy het geweier. “Dokter, as ‘n seuntjie van vyf jaar het ek langs my moeder neergekniel en sy het haar hand op my kop gesit en gesê: ‘Charlie ek bid dat jy tog nooit sterk drank mag proe nie, want jou vader het in ‘n dronkaard se graf beland. Ek bid dat jy bewaar mag bly van hierdie bitter beker.’ Ek is nou 17 jaar en het nog nooit iets anders as koffie en tee gedrink nie. As ek nou miskien voor die Here moet verskyn, wil ek nie graag daarheen gaan met brandewyn in my maag nie.”
Ek het destyds nog vir Jesus gehaat, maar ek het die seun se getrouheid aan sy Meester geëer en die kapelaan na hom toe gestuur.
“ Ai Charlie, ek is jammer om jou in hierdie toestand te sien, “ sê die kapelaan met gevoel.
“ O dit gaan goed met my,” sê Charlie. “Die dokter wou my eers ‘n verdowingsmiddel gee en toe ek dit weier, wou hy my bandewyn gee, maar ek het dit ook geweier. As die Here my nou oproep, is ek gereed.”
“Jy sal miskien nie sterf nie, Charlie, maar as die Heer jou wil wegneem, is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen?” vra die kapelaan.
“Ja meneer, neem asseblief my Bybel hier onder my kussing en stuur dit vir my moeder. Haar adres is daarin. Skryf vir haar ek lees nog elke dag daarin en ek bid dat die Heer haar wonderlik sal seën. En skryf asseblief aan die hoof van die Sondagskool in Brooklyn en sê vir hom dat ek nooit sy baie gebede en voorbeeld en goeie raad vergeet het nie, veral nie deur al die gevare van die oorlog nie, en hier in my sterwensuur bid ek dat die Here hom ryklik sal seën.”
Daarop kyk hy na my en sê: “Dokter, nou is ek gereed en ek beloof dat ek nie sal kreun as u my been en arm afsit nie. Moet my net nie onder ‘n verdowingsmiddel plaas nie.”
Ek het hom dit belowe, maar ek moes self eers ‘n versterkinkie in ‘n ander kamer gaan neem om my senuwees vir die operasie te kalmeer. Onderwyl ek gesny het, het Charlie doodstil gelê en geen kreun laat hoor nie, maar toe ek die been saag, het hy die hoek van die kussing vasgebyt. Ek het gehoor hy prewel: “O Jesus, dierbare Jesus, staan my by!” Hy het nie gekreun nie.
Ek kon nie daardie nag slaap nie. Telkens as ek my oë toemaak, hoor ek hom prewel: “Jesus, dierbare Jesus, staan my by.” Om middernag het ek opgestaan en na die hospitaal gegaan. Sestien ernstige gevalle was al oorlede, maar Charlie het rustig geslaap. “n Verpleegster het my vertel dat twee Christenwerksters die aand om 9 uur by sy bed gelees en gesing het en dat die kapelaan toe ‘n roerende gebed gedoen het. Daarna het hulle ‘n lied gesing, “Jesus wat my siel bemin,” en Charlie het saamgesing. Hoe kon hy na die vreeslike pyn nog sing?
Vyf dae na die operasie het ek vir die eerste keer ‘n evangeliepreek gehoor.
“Dokter,” het Charlie gesê, “my tyd het gekom, maar Goddank ek is gereed. Maar voor ek sterf, wil ek u uit die diepte van my hart bedank vir u vriendelikheid teenoor my. U is ‘n Jood en glo nie in Jesus Christus nie. Wil u nie hier bly en my sien sterwe nie? Ek vertrou my Here tot op die laaste oomblik.”
Maar ek kon nie. Ek het nie die moed gehad om te staan en kyk hoe die seun juigend sterwe in die liefde van Christus wat ek nog steeds gehaat het nie en ek het die kamer verlaat. Twintig minute later kom ‘n verpleegster na my kantoor en sê: “Dokter, Charlie wil u graag sien.”
“Maar ek was dan netnou by hom. Ek kan nie weer gaan nie.”
“Maar dokter, hy sê hy MOET u sien.”
Toe ek by sy bed kom, sien ek die einde is nie meer ver nie. Hy het my hand in syne geneem en gesê: “Dokter, ek het u lief want u is ‘n Jood en my beste Vriend in die hele wêreld was ‘n Jood.”
“Wie was dit?” wou ek weet.
“Jesus Christus, aan wie ek u wil voorstel voordat ek sterf. Beloof my dat u wat ek nou gaan sê, nooit sal vergeet nie.”
Ek het beloof en toe vervolg hy: “ Vyf dae gelede toe u op my geopereer het, het ek die Here gevra om u siel te red.”
Daardie woorde het my diep in die hart getref. Ek kon maar nie verstaan dat iemand onder so ‘n verskriklike pyn homself so kon vergeet en aan my ongeredde siel kom dink nie. Al wat ek kon sê was: “Wel, my liewe seun, jy sal netnou veilig wees.” Toe is ek daar weg en tien minute later was hy veilig in die arms van sy Heer.
Sy dood het my diep getref. Ek was skatryk aan aardse goed, maar ek sou alles wou gee om soos Charlie teenoor Christus te voel. Maar geld kan nie so ‘n gevoel koop nie. Ek kon nie Charlie se preek vergeet nie. Alhoewel ek onder diepe oortuiging daavan verkeer het, het ek my daarteen verset, totdat die seun se gebed uiteindelik verhoor is en my siel gered is.
Omtrent agtien maande na my bekering het ek ‘n biduur in Brooklyn bygewoon. Christene het daar getuig van die liefde van hulle Heer. Daar het ‘n bejaarde dame opgestaan en gesê: “Liewe vriende, waarskynlik is dit my laaste geleentheid om van die goedheid van Christus te getuig. My dokter het my gister meegedeel dat albei my longe al so ver aangetas is dat ek nog maar ‘n kort tydjie het om hier met u saam te kom. Dit is vir my ‘n groot blydskap om te weet dat ek my dierbare seun in die hemel sal ontmoet. My seun was nie net alleen ‘n soldaat vir sy land nie, maar ook ‘n krygsman vir Christus. Hy is swaar gewond en in die hospitaal het hy onder die mes van ‘n Joodse dokter beland wat sy een arm en een been afgesit het. Die kapelaan van sy regiment het sy Bybel aan my gestuur met ‘n brief om te sê dat Charlie in sy sterwensuur aan die dokter gesê het dat hy vyf dae tevore onder die operasie vir die redding van die dokter se siel gebid het.
Toe ek hierdie getuienis hoor, kon ek nie langer stilsit nie. Ek het na die dame gegaan en haar hand geneem en gesê: “Mag die Here u seën, mevrou. Die gebed van u seun is verhoor. Ek is die Joodse dokter vir wie Charlie gebid het, en Charlie se Heiland is nou ook my Heiland.”