UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
Dit word vertel dat ‘n armoedig geklede ou man elke dag om twaalfuur die kerk binnegegaan, ‘n paar minute daar vertoef het en dan weer verlaat het. Die opsigter was bekommerd oor die kosbare altaarversiersels. Hy het elke dag opgelet of daar niks verdwyn het nie. Elke dag, presies om twaalfuur het die armoedige ou figuur sy besoek gebring. Die opsigter het hom eendag gevra wat hy elke dag in die kerk kom maak.
“ Ek kom bid,” sê die ou man ewe hoflik.
“Ag nee, kom nou,” voel-voel die opsigter versigtig . “Jy bly glad nie lank genoeg hier in die kerk om te bid nie.”
“Dis reg,” sê die ou man. “Ek kan nie ‘n lang gebed bid nie, maar elke dag kom ek net in en sê: ‘Jesus, dis Jiem.’ Dan wag ek so ‘n bietjie en dan gaan ek weg. Ek glo Hy hoor my, al is dit maar ‘n klein gebedjie.”
Eendag is Jiem in die straat omgery en is in die hospitaal opgeneem met ‘n gebreekte been. Die saal waar Jiem ewe gelukkig gelê het, was eers ‘n kwelling vir die diensdoende verpleegsters. Sommige van die manne was nors en onaangenaam. Die meeste het van die môre tot die aand niks anders gedoen as om te brom en te murmureer nie. Maar nadat ou Jiem daar beland het, het hulle langsamerhand daarmee opgehou en stadigaan opgeruimd en tevrede geword.
Toe ‘n verpleegster eendag deur die saal loop, hoor sy die manne lag. “Wat op aarde het met julle gebeur?” wou sy weet. “Julle is in die laaste tyd so ‘n opgeruimde klomp pasiënte.”
“Dis ou Jiem,” sê hulle. “Hy’s altyd opgeruimd. Hy kla nooit, al lê hy daar met soveel ongemak en pyn.”
Die verpleegster het oorgestap na Jiem se bed, waar die ou grysaard met ‘n engelagtige glimlag op sy gesig gelê het.
“Wel Jiem, hierdie manne sê jy’s die oorsaak van die verandering in hierdie saal. Hulle sê jy’s altyd gelukkig.”
“Ja suster, dit is ek. Ek kan dit nie help nie. Jy sien, dit is my besoeker. Hy maak my gelukkig.”
“Besoeker?” Die verpleegster was in die war, want sy het nog nooit ‘n besoeker by Jiem se bed gesien nie. Die stoel is altyd leeg tydens besoekure. “Wanneer kom jou besoeker?”
“Elke dag,” sê Jiem en sy oë straal. “Ja, elke dag om 12 uur kom staan Hy aan die voetenend van my bed. Ek sien Hom daar. Hy glimlag met my en sê: ‘Jiem, dis Jesus.’”