UIT ONS FONTEINTJIE
Lees reeks by Uit ons fonteintjie
'n Engelse handelaar was op reis in die Levant op ‘n Turkse skip en gedurende die reis het ‘n interessante slaaf, ‘n Moeselman, sy aandag getrek. Hy het ‘n gesprek met hom aangeknoop en gevind dat hy ‘n intelligente en gevatte man was wat onder beter omstandighede ook sterk kon liefhê. Toe het hy moeite gedoen om nog meer besonderhede oor die man se lewe te wete te kom. Hy het vasgestel dat hy ‘n vrygebore persoon was wat in die oorlog gevange geneem is. Die handelaar was vervul met medelye vir hierdie hulpelose gevangene. Hoe beter hy hom leer ken het, hoe meer het hy in sy welvaart belang gestel.
Toe het die gedagte by hom begin posvat om hierdie man se loslating te probeer bewerk. Hy het versigtig navraag gedoen en vasgestel dat die som geld wat hy sou moes betaal, heelwat meer sou wees as wat die wins van sy hele handelstog sou beloop. Maar die gedagte het hom nie verlaat nie en hy het ‘n aanbod gemaak vir ‘n bedrag wat uiteindelik aanvaar is.
Die slaaf het egter ‘n deel van die gesprek wat met die onderhandeling plaasgevind het, gehoor en onder die indruk verkeer dat die handelaar hom maar net gekoop het vir sy eie gebruik in die vreemde. Hy spring vorentoe met oë wat van verontwaardiging blits en roep uit: “ O so! U noem uself ‘n vrygebore Brit, ‘n vyand van slawerny, en nogtans koop u my! Het ek nie die selfde aanspraak op vryheid as u nie?”
Hy het ‘n hele rukkie in hierdie trant met skerp verontwaardigde verwyte voortgegaan, maar toe hy sien dat die handelaar hom met liefde aankyk en sê: “Ek het u gekoop om u vry te laat”, het sy hartstogtelike storm bedaar. Hy het in trane uitgebars en voor die voete van sy verlosser neergeval en uitgeroep: “U het my hart gevange geneem! Ek is u gewillige slaaf vir ewig!”
So het Christus ook vir ons losgekoop, duur gekoop met sy kosbare bloed om ons te bevry van die smet van die sonde. Dankie Here, ons is u slawe vir altyd!