DIE VERMISTE DAG

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

In die sestigerjare van die vorige eeu, toe die beamptes en ruimtewetenskaplikes van NASA opdrag van die Amerikaanse President ontvang het om 'n man op die maan te plaas, is die program vir die uitvoering daarvan by die Goddard-ruimtevaartsentrum by Greenbelt, Maryland, van stapel gestuur.

Harold Hill, hoof van ‘n groot ingenieursfirma, wat sekere projekte vir NASA uitgevoer het, vertel die merkwaardige verhaal van ‘n paar insidente wat tydens die ondersoek plaasgevind het.

Statistiese vooruitberekenings moes gedoen word.  Die ruimtewetenskaplikes  het die posisie van die son, maan en die planete ver in die ruimte nagegaan en bereken wat hulle stand na een honderd jaar en ook na een duisend jaar van nouaf sou wees.  Hulle moes ook die vaartbane van bekende asteroïdes en meteore naspoor sodat ruimtevaarders en satelliete nie teen iets sou bots nie.  Die wentelbane van satelliete moes bepaal word in oorleg met die bane waarlangs hemelliggame sou beweeg om die gevaar van kop-teen -kop-botsings uit te skakel.

Die flikkerpyle op die rekenaarskerm het vorentoe en agtertoe oor die eeue heen en weer geswaai en toe skielik halt geroep.  Daar was óf iets verkeerd met die inligting wat ingevoer is, óf dan met die eindresultate.

  Die tegnici het dus die rekenaar deeglik nagegaan maar kon geen fout vind nie.  Die operateurs het egter anders gedink want die rekenaar het bly sê dat daar ‘n dag vermis is êrens in vervloë dae.

Hulle was behoorlik dronkgeslaan.  Uiteindelik het iemand in die span na vore gekom en gesê:  “Toe ek as kind op Sondagskool was, het ons geleer van ‘n dag toe die son stilgestaan het.” Alhoewel hulle hom uitgelag het, het hulle hom tog naderhand gevra om hulle te wys waarvan hy praat.  Hy het ‘n Bybel laat haal en daarin begin soek totdat hy in die boek JOSUA hoofstuk 10 die geskiedens raakgeloop het van die groot slagting wat die Here onder Israel se vyande aangerig het, nadat Hy vir Josua gesê het Hy sal hulle in sy hand gee.  Om Israel geleentheid te gee om hul vyande volkome te verslaan, het die Here Josua se gebede dat die son en die maan moet stilstaan, verhoor.  “En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ‘n volle dag.” (Josua 10: 13).

Die ruimteman het gesê:  “Daar is julle vermiste dag.  Gaan aan en kotroleer dit.”  Dit is gedoen.  Hulle het die rekenaars gekontroleer en teruggewerk tot in die tydvak waar Josua die konings verslaan het en het van die vermiste dag 23 uur en 20 minute teruggevind.  Die Bybel sê mos duidelik:  “omtrent  (ongeveer) ‘n volle dag.”  Daar was dus nog ‘n verskil van 40 minute om die dag vol te maak.  Veertig minute is baie belangrik as dit oor en oor vermenigvuldig word in wentelbane.  Daarom kon die saak nie net daar gelaat word nie en moes daar ernstig gesoek word na die oorblywende vermiste 40 minute.

Die  ruimteman, die enigste wat nog ‘n basiese kennis van die Bybel gehad het onder die geleerde wetenskaplikes, het weer diep nagedink en ‘n tweede keer onthou dat daar in die Bybel vertel word hoe die son eenmaal agteruit gegaan het.  Die ander ruimtemanne was maar baie skepties daaroor, maar het tog uit radeloosheid saam met hom weer ‘n keer die Bybel geraadpleeg en in II Konings 20 gelees hoe die Here aan koning Hiskia op sy sterfbed ‘n teken gegee het dat Hy sy lewe met 15 jaar sou verleng, en as bewys daarvan die skaduwee van die son op Agas se sonnewyser 10 grade te laat teruggaan.  Die 10 grade is presies 40 minute!

Die volle 24 uur wat die ruimtemanne in hul logboek moes toelaat, was nou opgespoor.

Hierdie is maar een van baie voorbeelde waar die wetenskap self die sogenaamde “ongerymdhede” in die Bybel as die waarheid bewys het.