Lees reeks by Uit ons fonteintjie
Hierdie is ‘n ware verhaal wat ‘n predikant vir ons vertel het. Hy was ‘n leraar in ‘n gemeente in een van die buitewyke van Londen. Hy vertel: “Op ‘n koue, winderige dag met vallende sneeu, stap ek in ‘n kort, modderige straat na my huis toe nadat ek ‘n paar gemeentelede besoek het. Dit was al sterk donker toe ‘n man met ‘n mandjie op sy kop aan die oorkant van die straat verskyn en hard begin skreeu: “Bokkoms! Drie vir ‘n rand! Mooi bokkoms, vars en goedkoop; drie vir ‘n rand!” So stap hy die straat af, steek naderhand oor en kom terug tot by die hoek waar ek staan. Ek sien hy het lus om ‘n gesprek met my aan te knoop, toe hy sê: “Meneer, wat dink u van hierdie bokkoms?"
Hy hou drie in sy hand, terwyl hy die mandjie met die res vaardig op sy kop balanseer. “Dink u nie hulle is lekker nie?” Hy hou hulle na my uit, asof hy wou hê dat ek daaraan moes ruik. “ En dink u nie hulle is baie goedkoop nie?”
Toe ek dit beaam, sê hy: “Wel, meneer, waarom kan ek hulle dan nie verkoop kry nie? Ek het nou al ‘n myl en ‘n half langs hierdie nare straat geloop en hierdie goeie en goedkoop vis te koop aangebied en niemand kom iets koop nie!”
“Ek is nie daaroor verbaas nie,” sê ek. “Die mense is sonder werk en ly honger. Hier is baie huise hier rond wat nie meer 'n rand ekstra besit nie.”
“O so? Ek het geweet hulle is arm, maar ek het gedink drie vir ‘n rand sal hulle trek. Dan sal ek hulle maar op ‘n ander plek gaan verkoop.”
“Hoeveel sal jy neem vir die hele boel?” vra ek
. Hy kyk my verbaas aan, doen ‘n vinnige berekening en vra: “Meen u met profyt en al meneer?” “Ja.” “Dan sal ek veertig rand neem en bly wees om dit te kry.”
Toe ek die geld vir hom gee, sê hy: “Baie dankie, maar wat moet ek nou met die goed maak?”
Gaan staan hier om die hoek in die middel van die straat en skreeu net so hard as wat jy kan: “Bokkoms verniet!” En dan gee jy drie aan elke man, vrou en kind wat na jou toe kom tot die mandjie leeg is.”
Toe hy oor sy verbasing gekom het, sê ek: “Die bokkoms is mos nou my eiendom en ek kan daarmee maak wat ek wil. As jy nie lus het om dit te doen nie, gee dan maar weer my geld terug.”
Dit was genoeg aansporing vir hom om te doen wat ek vra. Hy het tot in die middel van die aangrensende straat gegaan en verder gestap onderwyl hy uitroep: “Bokkoms verniet! Heerlike bokkoms verniet!”
Hy kom by ‘n huis waar ‘n groot vrou uit die venster na hom staan en kyk. “Hier, mevrou, bokkoms verniet! ‘n Pragtige kans vir u. Kom haal hulle!”
Die vrou het net haar kop geskud en ongelowig van die venster af weggedraai.
“Wat ‘n dwaas,” sê hy, “maar hulle sal nie almal so wees nie. Bokkoms verniet!”
‘n Klein dogtertjie het uitgekom en hy roep haar nader. “Hier kindjie, neem hierdie vir jou mammie en sê vir haar hoe goedkoop hulle is, bokkoms verniet.” Maar die kind was bang en het die huis ingehardloop.
En so, straat af deur die pappery van sneeu en modder, het die goedkoop vis gegaan, terwyl die verkoper uitroep: “Bokkoms verniet!” en dan boos byvoeg: “O julle dwase!”
“Wel?” vra ek toe hy naderhand weer die hoek van die straat bereik waar ek gestaan het.
“Wel!” sê hy. “Kan jy nou meer! Toe u vir my geld gee vir bokkoms wat u nie wou hê nie, het ek gedink u hoort tuis in ‘n gestig vir malmense. Nou dink ek al die mense hier rond is geskikte geselskap vir u. Maar wat moet ek maak met die bokkoms, as u hulle nie wil hê nie en hulle ook nie?”
“Kom ons probeer saam,”sê ek. “Ek sal saam met jou gaan en dan skree ons altwee.”
Straataf gaan ons albei en hy stree: “Bokkoms verniet!” en toe roep ek ook uit: “Wil iemand bokkoms hê vir ete?”
Hulle het my stem gehoor en herken. Toe kom hulle uit, hier twee, daar drie, daar weer ses, mans en vrouens en kinders; almal kom gretig nader om van die welkom voedsel te kry. So vinnig as wat ek hulle uit die mandjie kon haal, het ek drie aan elke applikant gegee en spoedig was alles gedaan. Toe die mandjie leeg was, was die hongerige skaar wat niks gekry het nie, baie groter as die wat iets ontvang het, maar hulle was te laat; daar was nie meer bokkoms nie.
Tussen die teleurgesteldes staan die groot vrou wat toe met ‘n bitsige tong lostrek: “Waarom kry ek niks? Is ek nie net so goed soos die ander nie? Is my kinders nie net so honger soos hulle s’n nie?”
Voor ek kon antwoord, wys die verkoper na haar en sê: “Kyk meneer, daar staan dieselfde vrou vir wie ek hulle die eerste keer aangebied het en sy het haar neus daarvoor opgetrek.”
“Ek het nie,” roep sy boos uit; “ek het nie geglo dat jy dit bedoel nie.”
“Dan bly jy maar daarsonder vir jou ongeloof,” sê hy. “Goeie nag meneer en baie dankie!”
Nou ja, hierdie waar storietjie het beslis ‘n baie betekenisvolle naskrif. Moenie dit oorslaan nie, want dit kan miskien ook vir jou iets goeds beteken:
God het jarelank sy boodskapdraer na jou gestuur om vir jou sondes vergifnis aan te bied, verniet! Het jy nog steeds in hoogmoedige ongeloof daarvan weggedraai soos daardie vrou? Maar as jy besef het hoe nodig jy dit gehad het en met dank aanvaar het, juig ons saam met jou vir daardie heerlike verlossing toe jy ‘n kind van die Here geword het. Prys sy Naam!