SPESIAAL VIR MY

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

In een van die koue Europese lande het ‘n vriend van die armes dikwels ‘n kwart ton steenkool bestel en laat aflaai by mense  van wie hy geweet het dat hulle gebrek ly.  Een winter was die weer baie koud.  Die sneeu het dik gelê.  Die goedhartige man was bly dat hy dit kon bekostig om weer ‘n bietjie warmte en troos met sy skenkings aan die inwoners van die omgewing te bring.  Hy het die steenkoolwa laat stilhou voor ‘n armsalige ou huisie. Die drywer het aangeklop en vir die man daar binne gesê dat hy vir hom ‘n klompie steenkool gebring het.  “Van wie af?” “Weet nie,” sê die man,  “maar ek is hier na jou toe daarmee gestuur en hier is dit.”

“Dis ‘n fout; dis nie vir my nie,” antwoord die ou man.  “So ‘n geluk kom my nie oor nie.  Ek het geen vriend wat vir my kole verniet sal stuur nie. Daar is ‘n fout êrens.  Dis miskien ‘n ander dyk.”

“Onsin man, neem dit en wees dankbaar.   Ek kan nie die hele dag hier staan en praat nie.”

“Nou neem dit dan weg.  Dis nie vir my nie en ek wil daar niks mee te doen hê nie.”

Hy maak die deur toe en gaan terug na sy koue, dooie vuurherd.  Die wa het vertrek en die geskenk weggeneem wat vir die ou man bedoel was.

Die volgende dag het dieselfde wa voor ‘n ander armoedige ou huisie in die dorp stilgehou en het die man weer aan hierdie deur geklop.  “Ek het vir u ‘n kwart ton steenkool gebring,” sê hy opgeruimd.  “Waar moet ek dit aflaai?”

“Dis nie vir my nie,” antwoord die man wat die deur oopgemaak het.  “Dis ‘n fout.”

“Dis geen fout nie,” sê die drywer.  “Kyk hier’s die bestelling:  ‘n Kwart ton steenkool by nommer 24.  Dis tog duidelik, nie waar nie?”

“Ja, dis my nommer.  Maar hierdie kole is nie myne nie en ek kan dit nie ontvang nie.  Dis bepaald vir iemand anders bedoel.”

“Wel,” sê die man wat die steenkool gebring het, terwyl hy verleë sy kop krap.  “Hierdie steenkool slaan my dronk.  Dit gee my baie moeite.  ‘n Mens sou dink ek het vir jou gif gebring.  Hier kom ‘n mooi geskenk van steenkool en jy weier om dit te neem.  Maar ek sal dit beslis aflaai, want gister het ek dit by ‘n ander huis weer weggeneem en toe in die moeilikheid gekom.  As jy nie jou kelder oopmaak nie, smyt ek dit net hier by jou voordeur af.”

Die man het toe maar sy kelderdeur oopgemaak, met die woorde:  “Ek is seker jy sal gou genoeg terugkom en dit weer kom oplaai.  Maar as dit regtig myne is, sal ek baie bly wees.”

Die drywer het nog een huis besoek en sê vir die vrou wat die deur kom oopmaak het dat hy vir haar ‘n vraggie steenkool gebring het.

“Vir my?” sê sy.  “O, dit kan nie waar wees nie.  Dis seker iemand anders s’n.”

“Nee mevrou, hier is u nommer, duidelik genoeg: Nommer 8, ‘n kwart ton steenkool.”

“Dis waar!  Dan het God dit vir my gestuur, want daar is niemand anders wat weet dat my laaste stukkie steenkool nou op die vuur is nie.  Bring dit binne.  Ek moet Hom daarvoor dank.”

“Miskien moet u,” was die kortaf antwoord.  Hy dink:  “Sy is die enigste verstandige onder die klomp dwase.

In hierdie lewe is daar net  so’n geweldige groot klomp dwase wat weier om God se genadegawe te aanvaar, naamlik Jesus Christus, ons Middelaar en Saligmaker.  Hulle sê:  “Hy is nie vir my nie” en gaan maar voort om in die stikke duisternis van hulle ongeredde toestand voort te snel na hulle ewige verderf, in plaas van om die vrye gif van die ewige lewe, wat God vir elkeen aanbied, te aanvaar en hulle in die gloed van sy reddende liefde te koester.