LAAT SAK NET JOU EMMER

UIT ONS FONTEINTJIE

Lees reeks by Uit ons fonteintjie

Die groot rivier, die Amasone, stort so’n magtige stroom vars water in die Atlantiese Oseaan, dat vir kilometers ver teenoor die mond van die rivier en uit die gesig van die land die water van die oseaan heeltemal vars is.

Jare gelede was ‘n seilskip op reis vanaf Europa na ‘n hawe in Suid-Amerika.  Weens storms en teenspoed het die reis so lank geduur, dat die water aan boord begin opraak het.  Alhoewel die bemanning alle nodige maatreëls getref het, was hulle laaste vaatjie eindelik ook leeg.

‘n Dag of twee daarna, hoewel in ‘n warm klimaat deur ‘n windstilte oorval, kry hulle tot hulle grootste vreugde en verligting ‘n ander skip in die oog, en toe hulle naby genoeg was vir die doel, het hulle deur middel van hulle vlae aan die ander skip hulle jammerlike toestand gesein:  “Ons sterwe weens gebrek aan water.”

Tot hulle verbasing was die antwoord wat gou teruggekom het en wat gelyk het asof dit met hulle spot:  “Water rondom julle; laat sak julle emmer.”

Min het hulle geweet dat hulle toe net in die stroming van die magtige Amasone was en dat hulle besig was om in vars water te seil!  Water rondom hulle, hoewel uit die gesig van die land!

Indien iemand wat hierdie ou verhaaltjie lees, behoefte het aan geloofsekerheid in ons Here Jesus Christus, kan ons vir hom met groot sekerheid aankondig:  “Laat sak net jou emmer en skep hom vol van God se genade uit sy oseaan van liefde rondom jou.”