Liewe ouers en elke Christen, dit is ons missie om elke Oktober meer erns met gebede vir geestelike oorlogvoering (en spesifiek ons kinders se veiligheid) te maak.
Miskien is Halloween nie so ʼn groot ding in SA as elders in die wêreld nie, maar ʼn geestelike oorlog woed steeds oor ons kinders en kleinkinders se harte en gedagtes. Sonder uitsondering erken bekeerde voormalige sataniste dat Halloween hul besigste tyd was. So, as jy met die regte mense gesels, besef jy vinnig hoe die vyand se gewerfdes hul aanslag op ons kinders fokus, veral tydens hierdie laaste week van Oktober. Die Bybel beveel ons om te waak en bid.
U word uitgenooi om veral tydens hierdie laaste week van Oktober (26-31 Oktober) saam te bid teen die volgende:
● Dank God dat ons kinders van die Lig kan wees, ʼn Koning van die Lig het wat vir ons lief is, en ons gered het teen die een wat ons met ʼn passie haat omdat daar geen lig of vreugde uit hom kan skyn nie.
● Bid vir al die onskuldige maar onkundige mense wat Halloween as ʼn blote "menslike feesviering" beskou, bid vir hul veiligheid en dat hulle geestelike oë deur Goddelike ingryping geopen sal word sodat die sluier van geheimenis gelig sal word en hulle die demoniese werking in hierdie feeste sal kan raaksien.
● Bid vir die bewaring en veiligheid van kinders oral oor wat hierdie Halloween gaan "trick or treat" of na partytjies uitgenooi is; teen ontvoerings en ander gevaar van enige aard wat hierdie tyd van die jaar hoogty vier, en dat die bose nie sy kwade dade met hierdie kinders uitgerig sal kry nie, omdat die Here dit sal blokkeer.
● Bid dat die Here op sy tyd en sy manier in die harte van mense sal werk wat satanisme, New Ageism, Wicca ens. aanhang, sodat hulle tot bekering kan kom en deur die Heilige Gees insig ontvang, om nie die Koninkryk van die Here verder te saboteer nie, maar op te bou met nuwe ywer en krag.
HERE, ons bid vir u Lig op ʼn dag wat andersins die donker dinge vier. Skyn asb regoor ons wêreld en lei mense na Uself. Ons vra dat mense wegdraai van die bose, towery, New Age en die donker. Openbaar asb u Lig en Majesteit om hulle te help. Help ons om teen die bose werke van die duiwel te veg, rus ons toe en maak ons sterk vir geestelike oorlogvoering, want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, die magte, die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Ons vra u insig en onderskeiding in hierdie oorlog. Gee ons asb nie ʼn gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing, in Jesus se Naam. AMEN.