MAAK VANDAG NOG JOU LEWENS- BELANGRIKSTE KEUSE!

Wat het Jesus gesê oor die hel en die lewe hierna?

(Verwerk en in Afrikaans vertaal deur Anita Joubert)

       Elkeen van ons het die reg om die waarheid te hoor, en die Bybel is die waarheid. Daarna, wanneer ons weet wat die waarheid is, dan het ons die reg om ʼn keuse te maak. Die één ding waaraan die duiwel en sy medewerkers aan die koninkryk van die duisternis die heel hardste werk, is om mense te verhoed om die waarheid te hoor. Reg van die begin af, in Genesis 3:4, het hy al vir die mens gelieg en gesê: “Julle sal beslis nie sterwe nie . . .” Hy het inteendeel, daar al vir God as ʼn leuenaar uitgemaak en hy doen dit vandag nog, op verskeie maniere, om mense te laat glo dat die hel nie werklik bestaan nie. Hy doen dit hoofsaaklik om vier redes:

  1. Sodat ongelowiges vir Jesus kan verwerp sonder enige vrees.
  2. Sodat gelowiges geen dringende behoefte het om die verlossingsboodskap van Jesus met ander te deel nie.
  3. Sodat gelowiges dit glad nie nodig vind om hulle sonde te bely en te laat staan nie.
  4. Sodat God minder eer en heerlikheid kan ontvang, want dit is net diegene wat bewus is daarvan dat elke mens eintlik verdien om hel toe te gaan, wat ook met verstomming en dankbaarheid, voor God se oneindige groot genade kan staan.

       Dit is eers wanneer ons werklik besef waarvan ons gered is, ʼn ewige hel, dat ons God waarlik kan aanbid. Dit is eers dán wanneer ons verstaan hoe groot die offer is wat ons Here Jesus Christus, vrywillig en uit liefde vir ons, gebring het sodat ons die ewigheid saam met Hom verseker kan wees.

       Daar is vandag in ons samelewing ses standpunte wat mense huldig oor hierdie onderwerp. Daar is sekerlik nog heelwat meer, maar hierdie ses is die vernaamstes:

  1. Naturalisme: Hiervolgens het geen mens ʼn siel nie. Daar is nie ʼn hemel of ʼn hel nie, en dit maak glad nie saak hoe jy jou lewe lei nie.
  2. Universalisme: Volgens die aanhangers van hierdie siening, is alle godsdienste dieselfde en almal gelyke paaie wat na God toe lei. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).
  3. Die Reïnkarnasie-leer: Baie aanhangers van die Oosterse godsdienste, wat in ons tyd ook baie Afrikaners beïnvloed het, glo dat mense sterf en weer terugkeer in ʼn ander gedaante; oor en oor. Dit hou aan totdat hulle hul karmiese skuld afbetaal het. Hulle karmiese skuld is die foute wat in die verlede deur die vorige lewens van hulle geestelike wesens begaan is. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê dat die mens bestem is om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. (Heb. 9:27)
  4. Daar is skynbaar ook ʼn siening besig om te ontwikkel, wat as ‘Uitwissing’ bekend staan. Daarvolgens gaan mense wat nie vir Jesus as Verlosser aanvaar het nie, hel toe, maar net vir ʼn klein rukkie, dan hou hulle op om te bestaan. Christene wat dit goedbedoel, kom uit onkunde met hierdie siening na vore om die Bybel so bietjie beter te laat klink. Ons moet mooi verstaan, God het verseker nie verdedigers nodig om sy beeld met ʼn leuen te probeer beskerm nie. Hy is die Alfa en die Omega, Hy is die Een wat was en wat kom, die Almagtige. (Op. 1:8).
  5. Vagevuur: Hierdie siening word deur die Rooms Katolieke Kerk verkondig en daarvolgens gaan Christene wat nie gereed was toe hulle gesterf het nie, net vir ʼn rukkie na die vagevuur sodat hulle gereinig kan word. Daarna gaan hulle hemel toe. Jesus het al in sy tyd gewaarsku teen sulke leerstellings van mense wat as gebooie van God voorgehou word (Mark. 7:7).
  6. Jesus se siening oor die hel: Dit is al wat enigsins belangrik is en saak maak. Hy het twee maal meer oor God se oordeel en die hel gepraat as enige van die ander Bybelskrywers. Dit is belangrik dat ons baie goed moet verstaan wie Jesus is. Die apostel Johannes skryf dat Hy van die begin af die Woord was, by God en self ook God. Hy sê dat die Woord mens geword het en onder ons kom woon het, sodat ons sy heerlikheid kon aanskou, die heerlikheid wat Hy het as die enigste Seun van die Vader. Hy het die eerste keer aarde toe gekom as ʼn Lam wat vir ons sonde geslag moes word. Die tweede keer gaan Hy egter kom as die Leeu uit die stam van Juda, ons Koning wat gaan regeer. Ons sien in Openbaring dat Hyself die parskuip gaan trap vir die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. Wanneer Hy kom gaan daar ʼn Naam op sy heupe geskrywe wees: “Die Koning van die konings en die Heerser van die heersers.” (Op. 19:15-16).

       Om te weet wat Jesus van die doderyk gesê het, is dit ʼn goeie idee om die verhaal wat Jesus vertel het van die ryk man en die arm bedelaar in Lukas 16:19-31, te lees. Die ryk man het sy oë in die hel oopgemaak en die arm man, Lasarus, was in die hemel. Jesus gebruik hier die Griekse woord Hades, wanneer Hy van die doderyk praat. Hierdie woord verwys na dieselfde plek van smarte wat in die Ou Testament Sheol genoem word. Jesus het ook in ander plekke in die Nuwe Testament van Gehenna gepraat, wat na die Himnonvallei, net buite Jerusalem, verwys het. Daar het voortdurend vure gebrand om die afval van die stad te verbrand. Die Jode het dit gebruik as ʼn beeld van die ewige hel of doderyk waarin die ongeredde homself binne oomblikke na sy dood bevind. Dit is ʼn plek van geweldige pyn en smarte en dit is ʼn bewaringsplek vir alle ongeredde siele totdat die Groot Wit Troon-oordeel plaasvind en hulle onsterflike liggame dan finaal gestraf gaan word in die ewige poel van vuur. (Op. 20:11-15).

       Uit hierdie vertelling van Jesus kan ons duidelik sien dat die eerste vyf sieninge wat ons genoem het, absolute leuens is. Mense kan so maklik sê dat dit nie regverdig is dat mense hel toe moet gaan nie, maar in werklikheid is die hel die enigste regverdige ding wat met ons kan gebeur. Dit is waar elke mens kry wat hy verdien.

       Die enigste onregverdige gebeurtenis, is dat ons hemel toe kan gaan. Die mensdom was aan God ongehoorsaam en het in sonde verval. God het toe sy onverdiende guns en genade oor ons uitgestort deur dit vir ons moontlik te maak om dít wat ons verdien, vry te spring en hemel toe te kan gaan.

       Mense sê ook dinge soos dat hulle nie kan glo dat ʼn God van liefde mense hel toe kan stuur nie. Ons vra egter nooit hoedat ʼn regverdige God mense hemel toe kan laat gaan nie. Waarom sou dit wees? Omdat ons sy oneindige goedheid en genade as vanselfsprekend beskou. Ons tree op asof dit onregverdig is van ʼn heilige God om sonde in heilige regverdigheid te straf.

       In 2 Tessalonisense 1:9 beskryf Paulus vir ons baie duidelik wat die hel presies is waar hy sê: “Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en sy wonderbaarlike mag.”

       Wanneer ons mooi oor hierdie stelling van Paulus nadink, dan maak baie dinge vir ons skielik sin. As ʼn persoon sy hele lewe lank God se bestaan ontken en bespot het, niks met Hom te doen wou hê nie, nie aan Hom gehoorsaam wou wees of sy sondige lewenswyse wou laat staan nie, afgode wou aanbid, waarom op aarde wil hulle dan in die hemel in sy glorieryke teenwoordigheid wees? Hulle sal dit daar nooit kan uithou nie. Ons as sy kinders wat Hom liefhet, wil hier op aarde baie graag in sy teenwoordigheid wees en sien uit daarna om vir ewig by Hom wees.

      As ons dan vra hoe ʼn liefdevolle God mense hel toe kan stuur, is die antwoord: Hy stuur hulle nie. Hulle kies self om daarheen te gaan. Daar bestaan net een van twee opsies: Òf die hemel saam met God, òf die hel sonder God. Daar is niks anders nie.

      Johannes, Jesus se geliefde apostel, het geskryf: “God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). Hierdie Seun van God, ons Here Jesus Christus, het uit liefde vir ons sy lewe gegee sodat ons die ewigheid saam met Hom en God ons Vader, kan deurbring.

       Elke mens het ʼn keuse. Niemand word gedwing nie.

Het jy al hierdie lewensbelangrike keuse gemaak?