...LIGGAAMSVERBRANDING?
Ds Hendrik Hefer
ARGUMENTE TEN GUNSTE VAN LIGGAAMSVERBRANDING
"Genesis 38:24 is hieroor duidelik: 'Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery!' En Juda sê: 'Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.' Die seun van Jerobeam is nog 'n voorbeeld. Terwyl sy hele familie die voorreg om begrawe te word deur hul ongehoorsaamheid verbeur het, is hy begrawe omdat die Here iets goeds in hom gevind het. Dat God mense ook deur vuur gestraf het, word bevestig in die wet wat die Here deur Moses aan sy volk gegee het. Daar staan onder andere geskrywe: En as ‘n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.
En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word".
Baie argumente is deur loop van die eeue ten gunste van liggaamsverbranding aangevoer. Dit is - so word beweer - meer higiënies, meer ekonomies, meer esteties, meer medemenslik, gemakliker en veiliger. Wanneer ons die argumente eerlik beoordeel, moet ons met Doumal saamstem dat dit ons nie oortuig dat ons liggaamsverbranding bo begrafnis behoort te verkies nie. Omdat bogenoemde argumente so maklik weerlê kan word, word volstaan met enkele opmerkings.
Begrafnisse te duur?
Die bewering dat begrafnis duurder as liggaamsverbranding is, is 'n veralgemening. Dit is nie so dat begrafnis in alle dele van Suid- Afrika en onder alle omstandighede duurder is nie. In sommige streke is 'n begrafnis selfs goedkoper as liggaamsverbranding. Maar al sou dit duurder wees kan die verskil tussen begrafnis en "verassing" byna uitgewis word deur sober en eenvoudig te begrawe. Verder sal die verskil nie 'n beduidende invloed op iemand se finansies hê as hy vroegtydig daarvoor voorsiening maak nie. Buitendien, 'n gelowige sal tog eerder meer betaal om aan God gehoorsaam te wees, as om sonde teen afslagprys te doen.
Begrafnis - 'n gesondheidsgevaar?
Die argument dat begrafnis 'n gesondheidsgevaar inhou, dra ook nie veel gewig nie. Wetenskaplike ondersoeke het aangetoon dat 'n goed aangelegde begraafplaas geen gesondheidsgevaar inhou nie. Buitendien word die gevaar van aardvergiftiging gekontroleer. Dit is ironies dat voorstanders van liggaamsverbranding wat "gesondheidsgevaar" as 'n argument teen begrafnis gebruik, nie eerlik is oor die stowwe wat vrygestel word wanneer 'n liggaam verbrand word nie.
Te min ruimte vir begraafplase?
Die bewering word ook gemaak dat 'n tekort aan ruimte begraafplase onwenslik maak. In wêreldstede soos Berlyn en Tokio is dit wel 'n probleem. Dat ruimte in Suid-Afrika 'n onoorkomentlike probleem is, of kan word, lyk op hierdie tydstip onwaarskynlik. Dit is wel waar dat daar in sekere dele van die land verder na 'n begraafplaas gereis moet word, maar dit is nie genoeg rede om begrafnis vir liggaamsverbranding te verruil nie. Ons reis buitendien honderde kilometers om die begrafnis van 'n geliefde by te woon. As ruimte wel in die toekoms 'n probleem word, is daar verskeie maniere waarop dit oorbrug kan word. Grafte kan, soos in sommige ander lande, na 'n bepaalde tyd opgeruim (geskud) word. Daar is ook die moontlikheid om ruimte te bespaar deur regop te begrawe.
Begraafplase in Suid-Afrika onveilig?
Die argument dat begraafplase in Suid-Afrika nie veilig is nie, is ook nie oortuigend nie. Winkelsentrums en paaie is veel gevaarliker as begraafplase - tog vertrou ons die Here om ons daar te bewaar. Buitendien kan daar by verreweg die meeste begraafplase maatreëls getref word om veiligheid te verseker.
Die wens van die oorledene?
Daar is ook diegene wat liggaamsverbranding probeer verdedig deur argumente wat meer emosioneel van aard is. So word liggaamsverbranding soms geregverdig deur te sê dat dit die (laaste?) wens van die oorledene was. Die argument hou nie water nie.
Hoe belangrik die wense van die oorledene ookal vir ons mag wees, mag dit tog nie die deurslag gee nie! Begrafnis is 'n daad wat deur hulle wat agterbly, verrig word. Hulle moet met hul besluit saamleef en uiteindelik voor die regterstoel van Christus daarvan rekenskap gee!
Daarom moet hulle daarvan seker maak dat die wyse waarop hulle die liggaam van die oorledene (en al die ander sake rondom sy dood) hanteer, die goedkeuring van God wegdra. 'n Gelowige mag nie toelaat dat die wense van ander hul "dwing" om aan die Here ongehoorsaam te wees nie. Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense!
DIE SKRIF - DIE ENIGSTE MAATSTAF!
Dit is baie belangrik dat emosionele argumente, persoonlike voorkeure of praktiese oorwegings nooit vir 'n gelowige deurslaggewend mag wees nie! Christene behoort hulle in hul besluitneming te laat lei deur die vraag: "Wat leer die Skrif?" en nie deur hoe hulle daaroor voel, deur hul smake of voorkeure of deur dit wat vir hulle die aanvaarbaarste of gemaklikste is nie. Die Bybel, as die onfeilbare Woord van God, moet altyd die deurslag gee wanneer gelowiges moet besluit oor wat "waar en vals" of "reg en verkeerd" is. Dit is deur sy Woord dat die Here ons geloof suiwer en ons lewe reinig sodat ons in leer en lewe sy Naam kan verheerlik.
"22 En as in iemand 'n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy horn aan 'n paal ophang,23 dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maarjy moet hom sekerlik die dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie." As selfs 'n misdadiger begrawe moet word, geld dit sekerlik ook van ander.
Tweedens is dit tog so dat ons die wil van die Here nie net leer ken deur dit wat Hy uitdruklik beveel of verbied nie, maar ook deur die beginsels in die Skrif waaruit ons sy Wil vir ons lewe in ons bepaalde omstandighede kan en moet aflei.
Daar is talle leerstellings, etiese standpunte en kerklike gebruike waarvoor ons nie 'n "teks" het nie - wat nie gebou is op 'n direkte uitspraak of bevel in die Skrif nie, maar op 'n logiese en voor die handliggende of noodwendige afleiding van dit wat die hele Skrif oor die bepaalde saak leer.
Dit is buitendien 'n ope vraag of baie van die voorstanders van liggaamsverbranding van standpunt sou verander as daar wel 'n direkte bevel ten gunste van begrafnis of 'n verbod teen liggaamsverbranding in die Bybel was. Talle direkte uitsprake in die Woord van die Here (byvoorbeeld met betrekking tot homoseksualisme onder andere) word met breingimnastiek omseil of bloot met minagting geïgnoreer.
As gelowiges wat bely dat die Bybel die Woord van God is en dat sy Wil vir elke terrein van ons lewe daarin genoegsaam en duidelik geopenbaar is, kan ons nie anders as om ons keuse tussen begrafnis en liggaamsverbranding deur die Bybel (volledig en alleen) te laat bepaal nie. Ons gaan eerstens die lig van die Skrif op liggaamsverbranding en daarna op begrafnis laat val.
"NIE BEGRAWE" EN LIGGAAMSVERBRANDING IN DIE LIG VAN DIE SKRIF
"Nie-begrawe" - 'n teken van die oordeel van God
Die oortuiging dat begrafnis die wil van God vir sy volk is, word ondersteun deur die uitsprake in die Skrif wat leer dat sy oordeel oor verbondsverbrekers onder andere sigbaar kan word in die feit dat hulle nie begrawe word nie. In Deuteronomium 28 waarsku die Here sy volk dat Hy hulle gaan straf as hulle aan Hom ongehoorsaam is. Die straf sluit onder andere in dat hulle nie begrawe gaan word nie, maar dat hul dooie liggame deur die voëls en die diere opgevreet gaan word. Hierdie oordeelswoord van die Here is later in die geskiedenis van Israel vervul. In Psalm 79:1-3 lees ons:
" ‘n Psalm van Asaf. o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.
2 Hulle het die lyke van u knegte aan die voels van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land.
3 Hulle het hulle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe".
Nog 'n voorbeeld vind ons in 2 Konings 9:9-10. Wanneer die Here sy straf oor Agab en sy huis aankondig, sê Hy dat hulle deur dieselfde oordeel as die huise van Jerobeam en Baesa getref gaan word:
"9 Want Ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jerobeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baesa, die seun van Ahta.
10 En die honde sal Isebel eet op die dorpsgrond van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie ... Daarna het hy die deur oopgemaak en gevlug".
Die feit dat "nie-begrawe" 'n teken van die oordeel van God is, word deur die profesieë van Jeremia bevestig. Ons lees byvoorbeeld in Jeremia 25:33:
"33 En die wat deur die HERE verslaan is, sal die dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees".
Soos wat nie-begrawe met die oordeel van God verbind word, word begrafnis in die Skrif dikwels geskilder as teken van die seën van die Here. Ons lees byvoorbeeld in 2 Kronieke 34 dat die Here aan Josia die versekering gee dat hy in vrede sal sterf en in sy graf sal ingaan omdat hy oor sy sonde berou gehad en hom daarvan bekeer het. So word sy begrafnis die teken dat God hom genadig was en sy sonde vergewe het. Die seun van Jerobeam is nog 'n voorbeeld. Terwyl sy hele familie die voorreg om begrawe te word deur hul ongehoorsaamheid verbeur het, is hy begrawe omdat die Here "iets goeds in hom gevind het.
Liggaamsverbranding - 'n teken van die oordeel van God
Nie net nie-begrawe nie, maar ook 'n "vuurdood" en/of "verbranding" van die oortreder se liggaam is tekens van die oordeel van God. Dit beteken nie dat alle oortreders wat die doodstraf verdien het, verbrand is of dat hulle liggame verbrand is nadat hulle tereggestel is nie.
In Deuteronomium 21:22-23 word die opdrag gegee dat 'n oortreder wat opgehang is, se liggaam op dieselfde dag begrawe moet word. Bepaalde sondes is egter deur 'n "verswarende doodstraf", 'n vuurdood gestraf. 'n Voorbeeld daarvan vind ons in Genesis 38. In vers 24 lees ons die volgende:
"24 Na omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word".
Dat God mense ook deur vuur gestraf het, word bevestig in die wet wat die Here deur Moses aan sy volk gegee het. Daar staan onder andere geskrywe:
"14 En as ‘n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.
9 En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word".
'n Voorbeeld van die verbranding van 'n oortreder se liggaam nadat hy die doodstraf ontvang het, vind ons in Josua 7. Wanneer Agan sondig, deur van die besittings van die inwoners van Ai wat met die banvloek getref is vir homself te neem, gee die Here opdrag dat hy (en alles wat aan hom behoort) met vuur verbrand moet word. Daarom word hy gestenig en sy liggaam met vuur verbrand:
"25 En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi".
'n Tweede voorbeeld vind ons in 1 Konings 12 en 13. Die priesters wat deur Jerobeam aangestel is, het afgodery bedryf. Die Here spreek sy oordeel oor hulle afgodery uit. Daarom hoor hulle uit die mond van die "man van God" dat hulle op die hoogtes sou sterf en dat hul gebeentes verbrand sou word. Die vervulling van hierdie profesie is opgeteken in 2 Konings 23. In vers 16 staan geskrywe: "I6 En toe Josia hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die HERE wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het".
Die ontroue priesters wat op daardie stadium diens gedoen het, is deur dieselfde oordeel getref. Ons lees in verse 19 en 20 die volgende:
"19 En ook al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaria was, wat die konings van Israel gebou het om die HERE te terg, het Josia afgeskaf en daarmee gehandel ooreenkomstig alles wat hy in Bet-el gedoen het.
20 En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan”.
In teenstelling daarmee word die graf en die gebeente van die "man van God" met rus gelaat. In vers 17 en 18 staan geskrywe:
"I7 Toe se hy: Wat is dit vir 'n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat u teen die altaar van Bet-el gedoen het.
18 Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat".
Dit is duidelik dat die gedeelte beklemtoon dat dit nie die wil van die Here is dat sy profeet, wat aan Hom getrou was, se beendere verbrand moet word nie. Die verbranding van die liggame van die ontroue priesters was immers teken van sy oordeel oor hulle sonde.
Ons kan nie uit bogenoemde Skrifgedeeltes die gevolgtrekking maak dat almal wie se liggame deur die eeue onbegrawe gelaat of verbrand is, onder die oordeel van God gesterf het nie. Dit is egter duidelik dat "nie-begrawe" en liggaamsverbranding in die Ou Testament dikwels as tekens van die oordeel van God geskilder word.
Liggaamsverbranding - 'n sonde!
Wanneer liggame verbrand word sonder dat dit in opdrag van God (as voltrekking van sy oordeel) gedoen word, is dit 'n gruwelike sonde. Daarom spreek die Here deur die profeet Amos sy oordeel oor Moab uit. Ons lees in Amos 2:1-3:
"1 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het.
2 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kerijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal.
3 En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom doodmaak, sê die HERE".
Liggaamsverbranding kan nie uit die Skrif geregverdig word nie!
Deur die loop van die geskiedenis is daar gepoog om die praktyk van liggaamsverbranding vanuit die Skrif te regverdig. Daar is veral twee Skrifgedeeltes wat in die debat in die Afrikaanse kerke gebruik word om die "moderne" praktyk van liggaamsverbranding te regverdig. Dit is 1 Samuel 31 en Amos 6.
In 1 Samuel 31 lees ons dat Saul selfmoord gepleeg het, nadat sy drie seuns in die stryd teen die Filistyne omgekom het. Die Filistyne het Saul se kop afgekap en sy lewelose liggaam saam met die liggame van sy seuns teen 'n muur vasgeslaan. Die inwoners van Jabes het hul liggame gaan afhaal en dit met vuur verbrand, waarskynlik om verdere skending te voorkom. Daarna het hulle hul gebeentes in Jabes begrawe.
Hierdie hoofstuk mag nie misbruik word om liggaamsverbranding te regverdig nie. In die eerste plek is hul liggame onder buitengewone omstandighede verbrand - om verdere skending te voorkom. Tweedens is hulle gebeente na die verbranding begrawe. Dit is duidelik dat die klem nie op die verbranding gelê word nie, maar op die begrafnis. Dit word bevestig deur die feit dat koning Dawid hulle prys omdat hulle Saul se gebeente begrawe het. Ons lees in 2 Samuel 2:4-6:
"4 Daarna het die manne van Juda gekom en Dawid daar as koning oor die huis van Juda gesalf. Toe hulle aan Dawid meedeel en sê: Dit is die manne van Jabes in Gilead wat Saul begrawe het,
5 stuur Dawid boodskappers na die manne van Jabes in Gilead om aan hulle te sê: Mag julle geseënd wees deur die HERE, dat julle hierdie guns bewys het aan julle heer, aan Saul, en hom begrawe het.
6 Mag die HERE julle dan nou guns en trou bewys, en ek self bewys ook hierdie goedheid aan julle, omdat julle hierdie ding gedoen het".
Later het Dawid die bene van Saul en sy seun Jonatan gaan haal en onder die seën van die Here in die land Benjamin, in Sela in die graf van sy vader Kis, herbegrawe.
'n Ander Skrifgedeelte wat gebruik word om liggaamsverbranding te regverdig is Amos 6:9-10. Daar staan geskrywe:
"9 En as daar tien man in een huis oorgebly het, sal hulle sterwe.
10 En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder, en aan iemand wat in die agterste vertrekke is, sê: Is daar nog iemand by jou? en hy antwoord: Nee - dan sal die eerste sê: Bly stil, want dit is nie gepas om die Naam van die HERE te vermeld nie!"
Hierdie uitspraak moet, soos alle uitsprake in die Skrif, in sy verband gelees en verstaan word. In Amos 6 lees ons hoe die profeet die oordeel van God oor Israel aankondig. Die Here sal hulle in die hand van die vyand oorgee. Daar sal so baie sterf dat dit onmoontlik sal wees om hulle te begrawe. Daarom sal hulle lewelose liggame verbrand moet word. Die verbranding van die liggame van die gestorwenes is dus die gevolg van die oordeel van die Here!
Wie 'n deeglike studie van 1 Samuel 31 en Amos 6 maak, behoort tot die gevolgtrekking te kom dat hierdie gedeeltes as argument teen, eerder as argument vir die praktyk van liggaamsverbranding gebruik moet word. Boettner stel dit so: "But surely these two incidents do not commend cremation as a reverent and desirable means af disposing of the body of a loved one. Rather they millitate against such practice. But so anxious are the advocates of cremation to find some Scripture support that will appeal to Christians that in the absence of any others they even resort to these''.
Ons sou wel uit hierdie gedeeltes kon aflei dat liggaamsverbranding in 'n uitsonderlike situasie, waar gewone begrafnis heeltemal onmoontlik is, moreel geregverdig kon word. Om hierdie hoofstukke egter te gebruik as motivering waarom ons in Suid- Afrika liggaamsverbranding mag beoefen, is om die minste te sê, onverantwoordelike Skrifgebruik!
BEGRAFNIS IN DIE LIG VAN DIE SKRIF – vervolg...