GEBED BY DIE VERHEERLIKING VAN JESUS

GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (2)

Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK

Ds.Andrè van den Berg

Here Jesus, ek wil U my lewe lank verheerlik. U is vir my soos die son vir die dag, die maan vir die nag en die dou vir blomme. Ek het ‘n behoefte aan U soos ‘n hongerige aan brood of  ‘n naakte aan klere. U is soos ‘n oase vir ‘n woestynreisiger. Daar is niks wat my van U afstoot nie.

Dankie dat U God almagtig gebly het, al was U ook as ‘n hulpelose baba gebore.
Dankie dat U die Bron van lewende water geword het, al is U aan ‘n moeder se bors gevoed. Dankie dat U die sonde van die wêreld gedra het, al is U ook deur moederarms gedra.
Dankie dat U die Seun van God gebly het, ook toe U dié van ‘n skrynwerker geword het.
Dankie dat U die Saligmaker is en bly, al word U deur mense verwerp!

Here Jesus, u Naam is groot en wonderbaar omdat U gekom, gesoek en gered het. U het sondaars deur u bloed versoen en tree vir u kinders ononderbroke by die Vader in. Gevolglik is daar geen wonderliker naam in die hemel of op die aarde as u Naam nie en is my oë op U gerig soos ‘n dienskneg se oë op die hand van sy heer gerig is.

Ek kan U nie genoeg dank vir die wonderlike voorreg om U as persoonlike Verlosser te mag hê nie! U liefde vir sondaars is en bly verstommend! My verhouding met U is vir my waardevoller as enigiets op aarde. Daarsonder sal my lewe kwyn en my siel vergaan. Ek sou eerder my sig, gehoor, reuk of smaak prysgee as om u Liefde te verloor. U is waarlik die A tot die Z van my geloofsalfabet. Daarom wil ek U met my hele hart loof en met my ganse lewe vertrou.

U is die weg na die ewige lewe en die enigste brug tussen God en mens. Daar is vir sondaars geen ontmoeting met God behalwe deur U nie is. Wie ‘n ander weg soek, soek tevergeefs. Help my om hierdie pad met so ‘n volle oorgawe te stap, dat ander my sal beny, hul verkeerde paaie sal laat vaar en U volg. Laat U altyd in my handel en wandel verheerlik word!

Amen.