GEBED OM DIE LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES

GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (3)

Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK  

Ds.Andrè van den Berg

O, Heilige Gees, U ken my van A tot Z en wil my elke oomblik van my lewe vir Christus afsonder. Ek sou Hom nie as Verlosser geken het as U my nie tot die wonderbare lig geroep het nie. Ek is so baie aan U verskuldig. Selfs my behoefte om tot God te bid, kom nie van myself nie, maar getuig van u wonderbare werking in my lewe. Daarsonder sou ek geen behoefte aan ‘n Hoërhand of gebed gehad het nie. As U my nie aanraak en vervul nie, sal ek geestelik stagneer en soos ‘n vuurtoring sonder lig en ‘n seiljag sonder wind wees.

Ek loof U omdat U my, ten spyte van al my swakhede en tekortkominge mildelik seën. U maak my geestelik sterk, bemoedig my vir die lewe en verhoed dat negatiewe dinge my geestelik lamlê. U maak my ryk in my armoede en sterk in my fisiese swakheid.

Dankie, o Heilige Gees, dat U my gereeld van sonde oortuig. U laat my nooit van my sondes vergeet nie, maar herinner my daaraan sodat ek vergifnis kan ontvang en die saligmakende vrede van my hemelse Vader in my lewe smaak. My hart is van nature soos ‘n donker kelder. In my sondeduister sien ek nie die goggas en spinnekoppe van sonde daarin raak alvorens u Lig daarop val nie.

Help my om U altyd lief te hê en Jesus onophoudelik te verheerlik. Uit myself sou ek net so min liefde vir U gehad het as ‘n misdadiger vir ‘n geregsdienaar. Daarom is ek dankbaar dat U my soos ‘n verkeerskonstabel op die besige lewenspad voorgekeer en tot stilstand gebring het. U het my hart deursteek en genoegsame liefde gegee om U na reg te eer en soos ‘n koning te verheerlik. Ek sou geen snars van God se liefde verstaan het indien U my nie uit my sondeduister gehaal en in die wonderbare lig van God se genade laat staan het nie.

Lei my, o Heilige Gees, op die pad van die lewe. Help my dat ek altyd die geeste sal kan onderskei sodat ek nie dwaallig vir sterre sal aansien en die pad na die hemel byster raak nie. Maak my bowenaal ‘n dankbare mens in hierdie ondankbare wêreld.. Gee my baie stof tot dankbaarheid en lei my na U waters van rus.

Amen.