GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (4)
Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK
Ds.Andrè van den Berg
Here, wat ‘n onwelriekende
Sonde keer alles wat U goed geskape het om in chaos. Dit bring verwildering en maak dat mense soos ontembare diere optree en mekaar gedurig wil verslind. Ja, dit tref ook die blomtuin van die lewe soos ‘n orkaan en spoel siele soos wrakstukke op die strand van die dood uit.
Hoe vernietigend is sonde nie in my eie lewe nie! Ten spyte van u liefde wat my met die hemel verbind, laat sonde my dikwels in die put van vertwyfeling beland. Ag, was sonde maar soos ‘n modderspatsel teen my lewensmuur, sou ek nog daarmee kon saamleef. Ongelukkig is dit ‘n smet wat met die gom van die bose halstarrig in my binneste vaskleef. Help my dat ek dit nooit gelate sal aanvaar nie, maar met u krag en genade onophoudelik daarteen sal baklei totdat dit sy seekatgreep los.
Sonde is dwaasheid. Nogtans laat ek willens en wetens toe dat dit my skaad. Sonde maak van mense slawe sonder kettings en gevangenes sonder tralies. Hoe dikwels stap ek nie oop oë in Satan se strik in nie! Ja, hoe soet is sy gifbeker nie!
Sonde bind my gees, vergal my denke en maak my doof vir u waarskuwings. Dit bedreig my hart en versteur my geestelike sintuie. Dit knaag soos ‘n vernietigende wurm aan die plant van my lewe. Dis die moeder van alle boosheid, die kern van alle kwaad en die wortel van alle menslike ellende.
My sonde is so groot dat ek eerder daarin sou slaag om die hoogte van die Himalajaberge te meet as om die omvang daarvan vas te stel. Indien ek die sonde, vergrype en oortredings van al my lewensjare bymekaar moes tel, sal dit soos ‘n berg wees wat deur die hoogste wolke dring of ‘n vulkaan wat vuur uit die dieptes van die aarde laat opborrel.
Sonde het my as’t ware omgekeer. My hart sit waar my voete moet wees en my voete waar my hart moet wees. My hart sit op die aarde en my voete skop na bo teen u prikkels. Keer my om Here, dat my voete op die aarde en my hart op die ewige dinge daarbo gerig sal wees.
Amen.