GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (8)

Ds.Andrè van den Berg

Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK

GEBED VAN ‘n PASBEKEERDE

Hemelse Vader, U word verheerlik deur sondaars te red. Dankie dat U ook in my verheerlik is toe U my siel in een oomblik van die hekke van die hel na die poorte van die hemel verplaas het.

As U my nie vasgehou het toe ek weens my liefde vir die sonde van U wou wegkom nie, was ek verlore. Maar noudat ek en my sonde twee geword het, is ek met U een.

Voor my bekering het ek ook ergerlike sondes verafsku soos wat ‘n moordenaar die galg verafsku. Ek het sonde slegs gehaat omdat dit straf op my gebring het. Nou, na my bekering, haat ek sonde omdat dit in die eerste plek ‘n vergryp teen U is.

Dankie dat ek vir die redding van my siel geen offergawe behalwe myself aan u voete hoef te plaas nie. Toe ek in berou na U gekom het, het U my sonde vergewe en my ewige eindbestemming verander. Ek het so oneindig baie van U ontvang! Daarom is my siel rustig en my lewenspad vol vrede en kalmte.

Vandat U my geloofsoë oopgemaak het, ervaar ek vir die eerste keer ware lewensvreugde. Toe ek in my sondedwaasheid my eie kop gevolg het, het ek na goeddinke geleef en dikwels ongelukkig gevoel. Nou is ek gelukkig omdat ek na u Wil leef. Die allesoorheersende vreugde van kindskap is ‘n vreugde wat U alleenlik met u kinders deel. Daarom juig ek soos ‘n verdwaalde wat rigting gevind het en soos ‘n bedelaar wat vir ‘n feesmaal aansit!

Dankie dat U my lewe van ‘n erfgenaam van die verderf na dié van ‘n koninkrykskind verander het. Ek het U met my hele hart, siel en verstand lief! Gee my die nodige krag en genade dat ek altyd na u verwagting sal leef en U nooit sal terleurstel nie.

Dankie dat ek nie vir die dood hoef te wag alvorens ek die ewige lewe verkry nie, maar dat ek kragtens my wedergeboorte en bekering nou alreeds daaraan deel het. Gee dat mense in my gehoorsaamheid my geloof en liefde vir U sal sien. Laat die geloofslewe vir my nie alleen die beste manier van lewe wees nie; maar die enigste manier!

Dankie dat ek nie al my lewensplesiere hoef prys te gee om kind van U te wees nie, maar slegs my dwaashede. Help my om met ander maatstawwe as dié van die wêreld meet en laat dit wat vir die wêreld saai lyk, vir my vreugde bring en dit wat na dwaasheid lyk, wysheid beteken.

Amen.