GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK (9)

Ds.Andrè van den Berg

Lees reeks by GEBEDEBOEK VIR DIE BOEREVOLK  

GEBED OM NEDERIGHEID

Here, ek leef in ‘n wêreld van mense wat so behep met hulself is, dat hulle niks en niemand ontsien ten einde hul eie behoeftes te bevredig en ideale te verwesentlik nie. Ek moet bely dat ek maar self geneig is om te veel net aan myself, my omstandighede en persoonlike behoeftes te dink. Daarom bid ek soos Johannes die Doper van ouds dat U meer en ek minder sal word.

Maak my nederig sonder dat ek myself as u Skepping, te gering skat, ja, laat ek nooit anders van myself dink as wat U van my dink nie.

Ek is so oneindig dankbaar vir al die wonderlike gawes wat ek uit u hand ontvang. Dis louter genade! Laat hierdie onverdiende guns soos vrag in ‘n skip wees wat my laer laat sak hoe meer ek van U ontvang.

Dankie dat ek die verlede nie hoef te vrees nie omdat my sondes en oortredinge vergewe is. Niks bring soveel rus in my gemoed as die wete dat U vir my aan ‘n kruis gesterf het; nie vir my deugde nie, maar vir my sondes!  Dankie dat ek die hede ook nie hoef te vrees nie omdat U my Vader is en vir my ruim voorsiening maak. Gevolglik gaan ek die onbekende toekoms met U aan my sy vreesloos tegemoet.

Help my om eerlik en opreg voor U en my medemens te leef. Verhoed dat ek ooit op verlorenes sal neersien en vergeet dat ek ook eens verlore was. Ek het ook verkeerde paaie geloop. Maar  soos ‘n rivier talle draaie maak alvorens dit in die see uitmond, het ek ook wye draaie gemaak alvorens ek by U uitgekom het. Dankie dat ek volkome rus, vrede en sielevreugde in u oseaan van liefde en geborgenheid gevind het!

Nederigheid is die merk van die ware evangelie. Laat dit al hoe duideliker op my lewe sigbaar word namate U meer en ek minder word.  Gee dat daardie deel van my godsdiens wat vir mense onsigbaar is, net so onbevlek is soos daardie deel wat hulle wel kan sien.

 

Amen