Bernard Miles
Lees reeks by Shakespeare in Afrikaans
Lank, lank gelede het daar drie hekse in 'n eensame moerasland in die hooglande van Skotland gewoon. Miskien is hulle nog daar, ek weet nie. As julle ooit daarheen gaan moet julle maar versigtig wees, veral as die weer donker en onstuimig is.
Hierdie hekse het dag en nag bose gedagtes in 'n hekspot bekook terwyl hulle hand aan hand om die pot gedans het en gewag het vir mense wat hul kon verlei, vir lewens om te verwoes. Hulle kon nie goeie mense verlei nie, net mense met bose gedagtes.
Die hekse het sterk toormiddels gehad. Hulle kon mense se gedagtes lees, en iemand wat net 'n bietjie boos was kon hulle so boos soos die duiwel self maak. Hulle het in 'n spelonk gewoon en toormiddels gemaak deur paddas en slange, en salamanders en akkedisse in hul hekspot te kook, of sommer enige nare goed waaraan 'n mens kan dink. Hul kon deur die lug vlieg na enige plek waarheen hulle wou, al skreeuend in die wind en met hul towervuur gereed, terwyl hulle 'n lelike liedjie sing:
Boos is goed, en goed is boos:
Fladder deur vogdamp, vuil en voos!
Hulle was nie soos die hekse waarvan 'n mens in sprokies lees nie; hulle was bose en gevaarlike hekse.
In daardie tyd was Skotland in klein distrikte verdeel wat elkeen deur 'n edelman regeer is; hierdie edelliede moes die koning gehoorsaam wees en hom help wanneer hy in gevaar was. En as hulle aan die koning getrou was het hy vir hulle meer grond en titels gegee en hulle so by hom gehou omdat hy op hulle kon vertrou en staatmaak.
In die tyd van ons storie was Duncan die koning van Skotland. Hy was oud en grys, verstandig en goed van hart, en hy het twee seuns gehad, Malcolm en Donalbain. Wanneer die koning eendag sterf sou Malcolm koning van Skotland word. En al die edelliede sou 'n eed aflê dat hulle hom net so getrou sou dien as wat hulle vir Duncan gedien het.
Maar een van die edelliede – sy naam was Macbeth – het gedink dat hý, en nie Malcolm nie, die reg het om koning te word wanneer Duncan eendag sterf. Sy vrou het ook so gedink. Om die waarheid te sê, sy vrou het so baie daarvan gepraat dat Macbeth later regtig geglo het hy moes koning word.
Dit was natuurlik nie moontlik terwyl Duncan en sy seuns geleef het nie, Maar, wie weet, dalk gebeur dit eendag tog. Miskien kom hulle iets oor! Hoe dit ookal sy, die gedagte was klaar in Macbeth se kop en as hy ooit die hekse sou raakloop sou hy net die regte man wees om te verlei: iemand met bose gedagtes in sy hart wat die lelike dinge sou doen wat hulle in die mis en ongesonde, vuil lug van die moerasland bekook het.
En toe gebeur dit baie onverwags. Die koning van Noorweë het van oor die see gekom en Skotland aangeval. Die Edelman van Cawdor en 'n paar ander edelliede het hul eie koning verraai en by die koning van Noorweë aangesluit. Daarop het Duncan, koning van Skotland al die edelliede wat aan hom getrou gebly het byeengeroep en vir hulle gesê om hul soldate te bring en hom te help. Toe was daar 'n groot geveg tussen die twee konings en hul soldate, en Macbeth was die dapperste van al die manne wat vir Duncan, koning van Skotland, geveg het. Macbeth en sy vriend, Banquo, het só dapper geveg en só baie van die vyand doodgemaak dat die koning van Noorweë en die Edelman van Cawdor van die slagveld weggevlug het. Macbeth was baie trots dat hy die koning se vyande verslaan het. Hy en Banquo het gereedgemaak om die nuus aan die koning te gaan vertel en daarna wou Macbeth huistoe gaan na sy kasteel, Glamis, waar sy geliefde vrou vir hom gewag het.
Maar die pad het deur die woeste en eensame moerasland geloop en terwyl hulle deur die mis ry, moeg en met bloed bevlek van die geveg, het dit donker geword en begin donder en blits. En saam met die nag het die gedagte weer by Macbeth opgekom dat hy op een of ander manier moes koning word. En hy kon die gedagte nie uit sy kop kry nie. Hy het gevoel dat hy sy land so goed gedien het dat hy alle reg het om koning te wees. Hoe wonderlik sou dit nie wees as dit so beskik word nie! Hoe gelukkig sou sy vrou nie wees nie, en watter pragtige koningin sou sy nie uitmaak nie! En so het Macbeth en Banquo deur die moerasland gery.
Skielik was daar 'n weerligstraal en daar, reg in hul pad, het die drie hekse met hul lelike gesigte verskyn in die gloed van hul heksevuur. Gelukkig kon Macbeth en Banquo hulle perde betyds tot stilstand bring anders het hulle oor die hekse gery. Dink net hoe verbaas hulle was toe die hekse hulle groet. 'n Mens sou sê hulle het geweet wie Macbeth was want hulle het hom die Edelman van Glamis genoem. Toe sê hulle vir hom dat hy binnekrot ook die Edelman van Cawdor sou wees, en dat hy eendag selfs koning sou word! Hy kon dit byna nie glo dat hierdie drie lelike ou hekse wat in die woeste moerasland rondswerf, geweet het wat daar in sy gedagtes omgegaan het nie!
Toe praat die hekse met Banquo en sê vir hom dat hoewel hyself nooit konings sal word nie, sy kinders en sy kleinkinders en sy agter-kleinkinders honderde jare lank konings sal wees.
Macbeth beveel toe die hekse om vir hulle nog meer te vertel. Hy vra vir hulle hoe hulle dinge in die toekoms kon sien wat nog nie eens gebeur het nie. Hoe is dit dat hulle sulke vreemde dinge weet? Maar die hekse wou hulle nie laat gebied nie. Daar was weer 'n weerligstraal en die volgende oomblik het hulle verdwyn. Die moerasland was verlate en daar was net die donder en die blitse en die warrelende mis en die loeiende wind.
Macbeth was verbaas dat die hekse weet wat sy naam is en nog meer verbaas om te hoor dat hy binnekort die Edelman van Cawdor sal wees, want die Edelman van Cawdor is nie in die geveg dood nie; hy het ontsnap en leef nog. Maar Macbeth was veral baie ontsteld dat iemand vir hom gesê het dat hy eendag koning sou word want hy het vir niemand behalwe sy vrou vertel wat daar in sy gedagtes omgaan nie.
Hy was ook verbaas dat die hekse voorspel het dat Banquo, en nie hy nie, die vader van 'n klomp konings sou wees. Maar hy was so opgewonde oor wat hy gehoor het dat hy nie verder aan Banquo wou dink nie; hy wou net by die huis kom om vir sy vrou die goeie nuus te vertel.
Macbeth en Banquo wou net verder ry toe die koning se boodskappers daar aankom. Hulle vertel vir Macbeth dat die koning gehoor het hoe dapper hy geveg het en dat die koning hom as beloning die Edelman van Cawdor gemaak het.
"Maar hoe kan dit wees?", vra Macbeth. "Die Edelman van Cawdor leef nog. Ek het self gesien dat hy ontsnap."
Die boodskappers antwoord dat die Edelman van Cawdor gevang en sy titel ontneem is omdat hy 'n verraaier is. Die doodstraf is oor hom uitgespreek en die koning het sy titel aan Macbeth gegee, net soos die hekse voorspel het.
Toe hy dit hoor, klop Macbeth se hart sommer vinniger. As die hekse die toekoms so kon voorspel, as hulle geweet het dat hy reeds die Edelman van Cawdor is, kon hulle ander voorspellings dalk ook bewaarheid word – dat hy eendag koning sou word! Macbeth kon hom skaars bedwing. Nou is hy seker: die hekse en die bonatuurlike magte wat hulle beheer is aan sy kant!
By hulle aankoms word Macbeth en Banquo hartlik deur die ou koning gegroet met trane van dankbaarheid in sy oë omdat hulle hom en sy koningkryk deur hulle dapperheid gered het. Die koning deel Macbeth mee dat hy hom daardie aand met 'n besoek aan die Kasteel van Glamis gaan vereer om sy waardering te betuig vir wat Macbeth vir hom gedoen het. Sy twee seuns, Malcolm en Donalbain, en ander edelliede en howelinge sal ook saamkom om die oorwinning te kom vier. En natuurlik moet Banquo ook daar wees want hy het byna net so dapper soos Macbeth geveg.
Macbeth was nou haastig huistoe om die nuus vir sy vrou te vertel en om die kasteel gereed te kry vir die koning se besoek. Hy moes ook 'n kamer inrig vir die koning en sy lyfwagte, en die kos en wyn regkry vir die feesmaal daardie aand.
Toe Macbeth by die kasteel aankom verneem hy dat sy vrou reeds van die oorwinning gehoor het en hoe die koning hom vir sy dapperheid beloon het. Maar sy kon haar ore nie glo toe Macbeth haar vertel dat diekoning die nag in die kasteel kom oorbly nie. Want sy het besef dat dit haar kans is om Duncan te laat doodmaak sodat sy en haar man koning en koningin kan word.
Macbeth was geskok toe hy hoor wat in sy vrou se gedagtes omgaan en sê vir haar dat hy nooit so 'n afskuwelike daad kan pleeg om die koning dood te maak nie. Maar sy kom baie naby aan hom staan met haar pragtige liggaam en fluister dringend in sy oor dat hulle dalk nooit weer so 'n kans sal kry nie. Macbeth antwoord: :"Dit is waar maar wat sal gebeur as iets verkeerd loop?" Sy vrou verseker hom dat daar niks verkeerd sal loop nie; hulle moet net dapper wees, dan sal alles reg uitwerk. Macbeth stem uiteindelik in . Hulle sal die koning se lyfwagte 'n slaapdrank ingee waarna Macbeth die kamer stilletjies sal binnegaan en die koning sal vermoor.
Toe Duncan en sy howelinge by Macbeth se kasteel aankom verwelkom sy vrou die koning met haar mooiste glimlag.
Die koning omhels en soen haar op die wang en sê vir haar dat sy in 'n pragtige kasteel woon en dat die lug hierbo in die berge so vars en skoon is en hoe baie hy uitgesien het na sy besoek aan die Kasteel van Glamis waar sy en Macbeth woon.
Daardie aand tydens die feesmaal het die koning Macbeth so hoog aangeprys dat hy skaam geword het oor sy planne om die koning te vermoor. Macbeth neem daarop sy vrou na die binnehof van die kasteel en sê vir haar dat die koning hom sedert die geveg soveel eer bewys het dat hy hom nie kan doodmaak nie. Maar sy vrou het hom dit verwyt en hom 'n lafaard genoem en gesê dat sy self die koning sou vermoor as hy dit nie wil doen nie. Macbeth het toe maar besluit om met die verskriklike plan voort te gaan.
Ná die feesmaal het Macbeth 'n bietjie in die binnehof van die kasteel gaan stap om die koel naglug te gebruik om homself te kalmeer, want hoe meer hy daaraan gedink het dat hy 'n gryse en onskuldige en goedhartige man soos Duncan moes vermoor, hoe meer het dit hom ontstel en hy het hom verbeel dat die engele in die hemel God smeek om te keer dat hy die wrede daad pleeg. En toe, skielik, verbeel Macbeth hom dat hy 'n bloedbevlekte dolk in die lug sien hang met sy punt in die rigting van die trap wat na die koning se slaapkamer lei. Toe Macbeth dit sien het hy nog banger geword en ofskoon die nag koud was het die sweet hom afgerol en sy hele liggaam het gebewe.
Dit was in werklikheid een van die hekse wat haar gesig met haar mantel bedek en die moordwapen na Macbeth uitgehou het. Die hekse het Macbeth nou heeltemal in hulle mag gehad en alles geweet wat in sy gedagtes omgaan; om die waarheid te sê, hulle het die hele tyd bokant die binnehof in die lug rondgesweef en hom dopgehou ofskoon niemand hulle kon sien nie, en hulle het stilletjies gelag uit pure genot dat hul towerkunste so goed werk.
Terwyl Macbeth nog daar staan kom sy vrou uit die kasteel uitgestap om hom moed in te praat. Sy vertel vir hom dat sy die koning se twee lyfwagte 'n slaapdrankie ingegee het en dat Duncan self ook vas slaap. Sy sê ook vir hom wat haar planne is. Sy sal die klok van die kasteel lui sodra alles veilig lyk. Dan moet Macbeth met die trap opsluip na Ducan se kamer en die koning se hart met sy dolk deurboor.
Nadat Macbeth se vrou na die kasteel teruggegaan het maak Banquo en sy seun, Fleance, hul verskyning in die binnehof. Banquo herinner Macbeth aan hulle ontmoeting met die drie hekse in die moerasland en sê hy wonder of hulle voorspellings oor hom net so bewaarheid sal word as die dinge wat hulle oor Macbeth gesê het. As Macbeth 'n tydjie kan afstaan, sê hy, sal hy graag 'n bietjie met hom wil gesels oor die vreemde gebeure van die afgelope tyd.
Ofskoon Macbeth baie bang was oor die moord wat hy moes gaan pleeg belowe hy vir Banquo dat hy met hom sal praat sodra hy die kans kry. Daarop gaan Banquo en Fleance na die kasteel toe terug terwyl Macbeth heen en weer in die binnehof stap en hoop dat wanneer hy na die koning se kamer gaan, hy so sag sal loop dat nie een die klippe sal voel dat hy op hulle trap nie.
Meteens lui die kasteel se klok, hard en helder. Die oomblik het aangebreek. Macbeth skraap sy moed bymekaar en sluip met die trappe op. Op daardie oomblik verskyn sy vrou in die binnehof om te kyk of alles vlot verloop. Sy is net so bang soos hy maar sy is harder en wreder en kan haar gevoelens beter beheer.
Ofskoon Macbeth net 'n klein rukkie weg behoort te wees voel dit reeds vir haar asof sy 'n eeu lank daar in die skaduwees van die binnehof wag. Sy het die dolke van die koning se slapende lyfwagte só neergesit dat Macbeth hulle móét raaksien. Nietemin, sy is bang dat sy moed hom sal begewe.
Die hekse het die hele tyd bo die binnehof rondgesweef, stilletjies by hulself gelag en geluide nageboots om Macbeth se vrou bang te maak: die geskreeu van krieke en uile en die gesuis van vlerke in die nag. Hulle het so hard gewerk vir hierdie oomblik en hulle was hoog in hul skik dat alles nog verloop soos hulle dit beplan het.
Uiteindelik kom Macbeth met die trap afgestrompel, sy hande rooi van die bloed van die koning. Ja, antwoord hy sy vrou bewend en bleek van angs, hy het die koning vermoor. Hy het by die twee slapende lyfwagte verbygesluip tot in Ducan se kamer en die koning se hart met die dolk deurboor, net soos sy vrou gesê het hy moet doen. Duncan het met 'n diep sug gesterf en die bloed het uit sy liggaam oor Macbeth se hande gestroom. Daarna het Macbeth ook die lyfwagte vermoor.
En nou klou Macbeth vreesbevange aan sy vrou vas, in doodsangs oor die wrede daad wat hy gepleeg het. Hy wens met sy hele hart en siel dat hy dit nooit gedoen het nie, dat hy nooit na die hekse en sy vrou geluister het nie; dat hy weer onskuldig kan wees en weer die koning se getroue dienskneg kan wees. Maar nou is dit te laat. Die daad is gepleeg; hy moet nou die gevolge van sy boosheid dra.
Sy vrou vra hom oor die twee lyfwagte uit. Het hulle wakker geword of 'n geluid gemaak voordat Macbeth hulle doodgemaak het? "Ja", antwoord hy. "Een van hulle het geroer en 'n gebed geprewel en die ander een het gesê "Amen". Ek het ook "Amen" probeer sê maar kon die heilige woord nie uitkry nie". Dit het Macbeth baie bang gemaak want as hy nooit weer kan bid of Amen sê nie, sal hy nooit weer 'n goeie mens wees nie, het hy skielik besef.
Maar iets anders het hom nog meer bevrees gemaak. Hy het 'n stem in die donker vir hom hoor sê dat wat hy gedoen het net so boos is as om die slaap self te vermoor en dat hy, as straf, nooit weer sal kan slaap nie. En selfs al sou hy slaap sal sy slaap deur aaklige drome versteur word.
Dit was eintlik die stem van een van die hekse. Sy het hom met die trap op gevolg om seker te maak dat sy moed hom nie begewe nie. Eers nadat hy die koning doodgemaak het, het sy vir Macbeth vertel wat die straf sal wees vir hom en sy vrou. Die gedagte aan Koning Duncan wat nou daar doodlê, en die bloed aan sy hande, sal hulle dag en nag agtervolg en hul dood veroorsaak.
Toe sien Macbeth se vrou dat hy nog steeds die bloedbevlekte dolke vashou en dit nie in Duncan se kamer agtergelaat het soos sy hom beveel het nie. Sy gryp die dolke uit sy hande en sê dat sy dit na die toneel van die moord sal terugneem. Sy sal die bloed aan die gesigte van die lyfwagte smeer en die dolke langs hulle neersit. Almal sal dan glo hulle is die moordenaars: hulle het eers die koning vermoor en daarna mekaar in hul besopenheid doodgemaak.
"Was gou die bloed van jou hande af", sê sy vir Macbeth. "Gaan dan na ons slaapkamer en trek jou uit sodat onskuldig kan lyk wanneer die moord ontdek word". Sy neem toe die dolke na Duncan se kamer terug terwyl Macbeth bewend in die binnehof agterbly. Die hekse het die hele tyd hul bose strik nouer getrek sodat daar vir Macbeth en sy vrou geen uitkoms meer is nie.
Meteens is daar 'n harde klop aan die kasteel se deur asof die Oordeelsdag aanbreek en die dooies uit hulle grafte opstaan...
Slot vervolg...