Ons herdenk hiermee vandag die geboortedag van CJ Langenhoven, en geniet sy kostelike sin vir humor in sy penskets van homself, en al het hy gedreig om sy volledige outobiografie te vernietig sodat hy "dood kan wees as ek dood is", leef hy vandag meer as ooit voort in sy lewendige sketse van lewensgebeurtenisse - soos daar van hom gesê is, hy praat in sy skryfwerk:
Reeds is daar herhaaldelik aangekondig dat my uitvoerige eie lewensbeskrywing, waarin ek niks omtrent my deugde en die gebreke van my tydgenote sal verkort of verswyg nie, ná my dood sal verskyn. As die leser ongeduldig na die boek uitsien moet hy my tog vergewe dat ek nie in sy ongeduld kan deel nie.
Intussen leef ek nog. Maar omdat ek so 'n donkere en geheimsinnige lewe gelei het (ek glo hierdie uitdrukking is 'n anglisisme; kóm daarvan as 'n man nie 'n Dietse sap is nie) dat niemand daar iets van af weet nie (nie eens my vrou nie, dan het sy nooit ja gesê nie) word ek dag vir dag oorval met aansoeke van bloemlesingversamelaars vir besonderhede omtrent my persoonlike geskiedenis.
Ek kan nie verstaan waarom dit die lesers van daardie versamelings sou interesseer om te verneem waar ek oral rondgeswerwe het en watter brande en bankrotskappe ek geniet het nie. Wat traak die persoonlike sake van die telegraafbode jou solank as hy jou maar behoorlik die telegram aflewer? 'n Skrywer is maar 'n boodskapper; wat hy self met bewuste opset sê beteken niks. Net omdat 'n man 'n skrywer is, moet hy nou op 'n verhoogde status-paal ten toon gestel word en bôgom-bôgom skree, en sy nakende liggaam wys omdat hy sy siel ontbloot het. Ek dink ek sal daardie volledige outobiografie vernietig sodat ek kan dood wees wanneer ek dood is.
Maar die bloemlesing-skêr-en-gompot-literateurs... bloemlesings! Waar is die stingels en die blare as daardie magdom dan almal blomme is? Daar was iemand nodig om 'n uitsoek-versameling te maak van die seldsame prulwerk wat darem tog ook, by wyse van uitsondering, van tyd tot tyd verskyn. Daarom het ek hierdie boek versamel ... maar wat ek wou sê, daardie self-nie-skrywende boekproduseerders hou aan om my te belol. Ek het nog altyd aan hulle die gegewens geweier. Ek sien nie waarom ek hulle behulpsaam moet wees by hulle werk met potte en panne – hulle eie gompotte en ander mense se harsingspanne – en by hulle gebruik om to get rich quick deur te maai waar hulle nie gesaai het nie. Maar die geneul het my onder die indruk gebring dat dit nou eenmaal so behoort dat daar iets van 'n skrywer gesê moet word by sy werk wat in 'n bloemlesing verskyn. Daarom sit ek nou hierdie sketsie in my eie bloemlesing, of liewer stingels-en-blare-lesing:
Ek is in die jaar 1963 gebore in die stad Utrecht in Holland onderwyl my vader in Japan was en my moeder in die Pêrel. (Haar naam was Pollie en haar reis daarheen word in 'n bekende volksliedjie besing). Dadelik die dag na my geboorte het die liefdadige universiteite van Holland 'n aantal eregrade aan my toegeken omdat ek die aarde ontdek het, maar ek het daardie dokterstitels deur onbruik laat verval om nie met so 'n tallose skare van gelyk-begunstigde ander Afrikaners verwar te word nie. Ek het maar altyd na onderskeiding gesoek.
As kind en jongeling was ek veelbelowend. Van gedaante, skoon; van gedrag, voorbeeldig; van aanleg, talentvol – ja, selfs geniaal; van geaardheid, lief en sag. Op betreklik vroeë leeftyd is ek skooltoe gestuur. Eers had ek 'n reeks van Engelse goewernaunties ('aunties' het ek hulle verkort genoem) en aan hulle moet die eerste fondament van my lewensgebou van gebrek aan kontinentale kultuur toegeskryf word. Maar hulle het mekaar vinnig opgevolg omdat hulle geen vordering by my kon teweegbring nie. Ek onthou nog baie van die goeie reëls uit die boekies wat ek by hulle geleer het, en ander mense wag nou nog vir die toepassing daarvan.
Nadat hy 'n paar dosyn van hulle beproef het, het my oukêrel 'n Spanjaard laat kom – dieselfde Van Donnerhellings wat vandag by Die Burger werksaam is op 'n hoë salaris en 'n hoë leeftyd. Daardie ou meester het my eendag 'n onregverdige pak slae gegee omdat ek beswaar gemaak het teen sy stelling dat 'n man se hand vrouelik is en 'n vrou se voet mannelik en albei se kinders onsydig. 'n volgende slag weer wou hy my slaan; en ek sê weer dit was onregverdig want waarvoor moes ek my tyd verbeusel om hierdie eweredigheidsprobleem op te los: As een hen twaalf eiers kan uitbroei in drie weke, hoe lank sal dit dan twaalf henne neem om drie eiers uit te broei in 'n halfuur? En toe ek hom vra of die drie eiers dan nie sal breek as 'n mens hulle plattrap en oopsprei om al die henne plek te gee om daarop te sit nie, wou hy weer aan my slaan, en toe het ek die loop geneem. Die derde slag het hy my bekruip en in 'n hoekie vasgekeer maar ek was al opgeskote en 'n plaasseun wat met grawe en kwaai jongperde geleer omgaan het; en voor ons klaar was, was dit hy wat die loop geneem het. (Weg en gaan trou, erger moeilikheid verder soekende. En daaruit Burger toe waar daar geen moeiliheid is nie.)
Toe wou ek maar weer aunties hê maar my oukêrel was van oortuiging, uit eie ervaring, dat, as 'n mens al so groot is, jy hulle nie meer so maklik kan verwissel as jy teë raak vir hulle nie. Vandag roep jy hulle en môre roep hulle jou. Toe het hy my maar Stellenbosch toe gestuur. Aanvanklik was ek 'n groot sportsman, en ek sou ongetwyfeld op daardie gebied 'n internasionale reputasie verwerf het; maar ek was op die lange duur te lui vir speel; ek wou werk. Toe het ek my dan met onbeteuelde roekelosigheid aan die najaging van die geleerdheid oorgegee, en meer bepaaldelik langs die weg van die klassieke humaniteite (as ek die be-terming reg onthou). My Griekse en Latynse hoogleraars – almal vandag emeriti en sommige dood, wat ek hoop op dieselfde neerkom – kan tot nou toe nog nie genoeg praat van die wonderbare oorspronklikheid wat ek in daardie ou tale aan die dag gelê het by die spelling, woordkeuses en sinsbou nie. Daar was geeneen van hulle wat my Latyn en Grieks kon verstaan nie – net so min as ek hulle s'n. Vol anglisismes.
So het ek dan tot die ontdekking gekom dat die letterkunde eintlik my aanleg en my roeping is. Maar ongelukkig kon ek nie dadelik daarmee aangaan nie. Vereers sou dit my 'n geruime tydjie neem om te vergeet wat ek vooraf geleer gehad het, ten einde plek te maak vir 'n mate van herstel van my aangebore gesonde verstand. Ten tweede was daar destyds nog nie te dink aan die opbou van ons eie Afrikaanse literatuur, want die Groot Trek na Europa had nog nie plaasgevind om ons van die nodige afbrekers te voorsien nie.
Maar langsamerhand is hierdie leemtes aangevul, en ek het begin om as skrywer op te tree, en daarmee soveel algemene belangstelling verwek dat die publiek nuuskierig geword het om te verneem hoe dit dan moontlik is vir 'n Hollander-skrywer om so keurig te wees in sy gebruik van anglisismes, vir 'n klassikus om so baie van sy eie gedagtes neer te skryf in plaas van dooie mense s'n aan te haal, en vir 'n geleerde om soveel blyk te gee van intelligensie.
Maar om nou ten slotte ernstig te wees; 'n hoë ouderdom sal ek nie bereik nie; hoe spoedig 'n mens by jou bestemming aanland, hang nie net af van hoe lank die pad was nie maar hoe vinnig jy gereis het. (En Langenhoven het maar 59 jaar oud geword).
Ek het nie alleen vinnig geleef nie maar baie lewenstye se aandoenings en ervarings in my een lewe saamgepak. Ek het meer as my regmatige beurt gehad, oneindig minder as my verdiende deel van leed, oneindig meer as my verdiende deel van geluk. By doen en by nalaat was ek en bly ek 'n sondaar, God alleen weet hoe groot, maar onreg en bedrog en valsheid, hetsy in my omgang teenoor my ewenaaste hetsy in my beroep of in my politiek, was nooit my gebruiklike ondeug nie. Uit my skrywe het ek, tot die uiterste van lig, kwaad en vuiligheid, en alle suggestie daartoe weggehou; en behalwe by klaarblyklike klugjokkery en gekskeerdery kan ek my nie beskuldig dat ek my ooit, hoe verkeerd ek ook deur onbewuste dwaling mag gewees het, opsetlik gesê het wat nie volgens my oortuiging die waarheid was nie. En vir die res sien ek nie in wie geregtig is op besonderhede omtrent my lewensloop nie. Omdat ek probeer het om te dien moet ek gestraf word met inkwisisies buitekant die grense van my diens! My werke is daar; nader as dit aan die wesentlike Langenhoven sal geen biografie ooit kom nie.
Op Gray se grafsteen staan uitgebeitel die Epitaaf wat hy self aan die einde van sy Elegy geskryf het. As daar ooit vir my 'n grafsteen opgerig word – ek hoop hy sal klein en eenvoudig wees; 'n weelderige monument is net 'n titel, òf oorbodig òf onverdiend – dan begeer ek dat die een laaste versie van my vertaling van die Epitaaf ook my grafskrif mag wees:
Soek nie om sy verdienstes ná te gaan,
Sy swakhede te delf uit hierdie grot,
(Albei rus daar waar vrees met hoop bestaan)
Die boesem van sy Vader en sy God.