BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

MAANBLOM

(Datura cornigera)

'n Ergernisblom dié - eintlik 'n onkruid, wil jy eers sê. Jy roei hom uit in die nuwe tuin want hy is giftig vir kleingoed wat alles nog met die tong wil beproe(f)- Jy doen dus weg met al wat maanblom en selonsroos en ander gifgoeters is.

Maar op 'n dag loer hy vir jou van die bure af en kom stort baldadig oor die tuinmuur tussen julle erwe. En hoe kwaaier jy hom terugsnoei, des te weliger groei hy. Met gemengde gevoelens laat jy hom dan maar begaan. Die muur is hoog en die kleintjies kan nie daar bykom nie, maar nader aan die waarheid is dat 'n mens jou kan verlustig in sy periodieke nagtelike blomme-oordaad.

Want een nag weet jy skielik hulle is daar. In die huis, in die tuin en tot in die straat weet jy van hulle. Die swaar geur wat herinner aan 'n sekere reeks liefdesverhale, deurdrenk die naglug. Met 'n bo-aardse dringendheid sweef dit deur elke venster na binne. Dit dwing jou om in die maanlig uit te stap buite toe.

En soos 'n waterval oor die tuinmuur hang die yslike trompette magies die nag wit. En hulle geur dreig om jou sinne te bedwelm en jou vreemde dinge te laat doen. Jy hoor swoele, Oosterse musiek uit die trompette vloei, hoor tropiese waters teen songeel strande breek en jy ontdek rare orgidieë in die reënwoude onder die skaduwees van welige slingerplante. Dit voel of jy in 'n vreemde wêreld sweef, vry van verpligtinge of verantwoordelikhede of vergaderings, vry om sonder enige inhibisies net van die soetheid te geniet.

Die trompetboom kom oorspronklik van Meksiko. Daar bestaan sowat vyftien spesies van die genus waaronder immergroen bome, struike en ook eenjarige plante. Die bekende olieboom of stinkblaar is ook 'n lid van hierdie groep. Die plante groei buitengewoon vinnig en vermeerder maklik met steggies. Dit is een rede waarom dit soms in die beginnerstuin aangeplant word want binne 'n seisoen kan dit al skouspelagtige blomme dra.

Die struik groei tot drie meter hoog en is in warm streke immergroen. Dit ryp dood in die winter maar loop in die lente uit en groei weer geil en vinnig. Die groot, grysgroen blare is fluweelsag en die trompetvormige blomme van tot twintig sentimeter lank, hang die boom roomwit vol. Bedags is die blomme half toe en die heuningbye is so bedrywig daarin dat die bysteek-allergie mense 'n wye draai om die plant laat loop.

Jy sou nooit wou beweer dat die maanvrou met die maan gepla is nie! 'n Mens sê dit nie van jou ewenaaste nie. Maar dat sy gevoelig vir koue is, is net so seker as dat sy in die somernagte haar blomme ontvou. Sy hou nie van 'n koue wêreld nie; sy ryp dood voor die koue van sarkasme en woede; sy hang pap en vormloos in die kilheid van 'n "atmosfeer".

En bereik 'n onvriendelike skinderstorie haar ore, vloei die lewenslus weg uit haar kelke. Sy onttrek haar (tydelik) aan al wat die lewe bied. Sy moet eers weer van voor af groei en vol nuwe blare staan om eendag in gunstige omstandighede weer te blom.

Sy ken die seisoene van die lewe: die drif van die lente, die volheid van die somer(nagte), die geel val van die blare, die lang-lang winter wat tot in haar stamme kan skroei.

Die engeletrompet met die donkerder blare, is een van die maanblomsoorte. Die blom het 'n dubbele voorkoms en is nog meer rypgevoelig. Maar jy kan nie anders nie as om aan die maanblom te dink as die koningin van die nag in die plantelewe met sy hemelse verskeidenheid wat net die Skepper kon bedink.

Die maanblom laat 'n sekere vrou onthou dat 'n deel van haar mistiek van die wêreld afgesonder kan word; dat sy haar kan terugtrek en 'n soet wêreld waarvan net sy weet. Dit is juis die deel van haar wat die man in haar lewe gedurig ontwyk, wat hom onweerstaanbaar aantrek. Daar is net iets wat haar anders maak.

Die maanblom is 'n nagmens. In die dag doen sy onopvallend haar werk hoewel sy nie voor die middaguur goed op dreef kan kom nie. Sy staan soggens swaar op want sy is gewoonlik tot diepnag aan die gang. Want sy blom in die nag en verrig veel meer as in die dag. Sy gesels graag wanneer al die vroegopstaan mense al lang gape gaap en na die rus verlang. Dan blom sy alleen die nag vol en vind dit glad nie eensaam nie.

Die maan en die sterre verlig haar wit nag en sy luister na die naggeluide en dit wat nie in die dag hoorbaar is nie. Sy floreer op die dou en die koelte van die somernagte. Sy het dan tyd om te dink en te beplan en te bereken en te werk voordat die lang winter aanbreek. Sy benut die nagte voluit en sonder die onderbrekings wat hoeka soos heuningbye haar dae kan uitsuig.

Die maanblom pluk die nag. Dit is in haar aard.