FAK-STANDPUNT OOR “DIE STEM VAN SUID-AFRIKA”
Vat vlam vir Afrikaans en SMS “FAK” & jou naam na 34388.
CJ Langenhoven het in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. Gedurende 1931 het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig “Die Stem” aanbeveel.
Langenhoven het ML de Villiers versoek om die gedig te toonset. De Villiers beskryf die toonsetting soos volg: “Ek onthou nog goed dat dit een van daardie goddelike dae was waarvoor die Boland bekend is. Daar sit ek in my studeerkamer in Simonstad. Ek kyk uit oor die blou van onse hemel, oor die diepte van die see – en aan die oorkant van Valsbaai sien ek die pragtige en magtige gebergtes, waar die kranse antwoord gee ... Voor my sien ek wat Langenhoven aangevoel het. Ja ineens sien ek dit in een beeld. Die note van my musiek moes opgaan na die blou van onse hemel, en dit moes terug en afkom na die diepte van ons see ... en dan antwoord die berge.” In 1937 het die FAK-keurkomitee eenparig besluit dat ML de Villiers se toonsetting die beste uit 40 inskrywings was.
DF Malan het die plek van “Die Stem” as volg verduidelik: “Gelukkig het Suid-Afrika ’n Langenhoven te voorskyn gebring en kan die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind ten spyte van hul tweeheid. Dit kan so gebeur: Daar is ’n stem ... Dit is geen stem van hierdie of daardie bepaalde persoon of groep nie, en komende uit hierdie of daardie bepaalde aard nie. Dit is die Stem van Suid-Afrika!”
Na volgehoue vertoë is “Die Stem” op 2 Mei 1957 tot enigste amptelike volkslied verklaar. Die kopiereg van “Die Stem” het aan die FAK behoort. In 1957 is dit oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering.
• “Die Stem” staan in die teken van Afrikaans wat na die Anglo-Boereoorlog gegroei het van huis, tuin en kombuistaal tot ’n hoëfunksietaal waarin gedig en gesing kan word.
• Lank voor apartheid het “Die Stem” Suid-Afrikaners oor taalgroepe heen verenig as Suid-Afrikaanse burgers wat fokus op Suid-Afrika eerste.
• Na 1994 het “Die Stem”, waarvan ’n paar reëls in die nuwe Nasionale Lied opgeneem is, weer ’n rol gespeel om Suid-Afrikaners te verenig. Die Nasionale Lied is ook opgeneem in die FAK se 2012-Sangbundel.
• Na 1994 het “Die Stem” se gewildheid nie afgeneem nie. Gedurende 2013 was “Die Stem” ’n kategoriewenner van Maroela Media/VirSeker se Grootste Afrikaanse liedjie-kompetisie.
• Soos wat Afrikaners die Nasionale Lied voluit sing, is “Die Stem” as kultuurlied steeds ’n kosbare kulturele erfenis vir baie Afrikaners. “Die Stem” behoort erken en gerespekteer te word soos wat die Ou Transvaalse en Vrystaatse Volksliedere erken en respekteer word. Die sing van die ou Volksliedere beteken tog geensins ’n heimwee na ’n Suid-Afrika voor 1900 nie.
• Kultuurliedere behoort ’n regmatige plek te hê by kultuurfeeste.
• Die óf ... óf standpunt soos verwoord in Beeld van 8/7/2014 is ’n fout. Kulturele onsensitiwiteit teenoor kulturele simbole sal Suid-Afrikaners verder verdeel en vervreem.
• Nasies word gebou deur respek en erkenning van beide nasionale en kulturele simbole.