DIE LEWE IS TE KORT ... (2)

... OM GEBED EN BYBELSTUDIE TE VERWAARLOOS

Margaret Foth

Lees reeks by Die lewe is te kort...

Iemand het eenmaal 'n prent geteken van 'n man wat versigtig op 'n dun hoë draad begin loop/ In die een hand hou hy 'n huis en meubels, in die ander hand twee motors, 'n seiljag en 'n woonwa. Onderaan die prentjie was net die woord: spanning.

As jy nou 'n prentjie van jóú spanning moet teken, wat probeer jy in jou twee hande balanseer? In die eenhand het jy 'n huis om voor te sorg, kinders wat gevoed en na al hul aktiwiteite vervoer moet word; in die ander hand het jy 'n deeltydse werk en 'n kategeseklas. Of dalk is jou hande belaai met die versorging van jou bejaarde ouers benewens jou tienerkinders. En dit alles moet balanseer met 'n salaris wat as gevolg van inflasie al hoe minder werd is.

Ons het botsende belange. Uiteenlopende eise word aan ons tyd en energie en finansies gestel. En die gevolg van hierdie balanseerspeletjie is spanning en stres wat hulle tol eis in die vorm van hoofpyne, hoë bloeddruk en maagsere.

Hoe kan ons hierdie spanninge hanteer? Hoe kan ons ander liefhê as ons bekommerd is oor onsself? Hoe kan ons kies tussen al die eise wat aan ons gestel word, en weet dat ons reg gekies het? 'n Vrou het eenmaal gesê sy voel soos 'n legkaart met vyfhonderd stukke en sy het iemand nodig om die stukke inmekaar te pas.

Die hantering van vrees
Baie mense vind dat 'n stil tyd saam met die Here hulle in staat stel om vrees en bekommernis te hanteer. As ons stil word voor die Here, kan ons die dag in oënskou neem en dit in perspektief sien. God beloof dat Hy vir ons vandag sal gee wat ons nodig het. In die verwarring van daaglikse behoeftes en uiteenlopende eise en probleme is dit goed om te vra: "Wat is vandag se taak? Wat is die belangrikste?"

Om stil te word voor God beteken nie dat ons uit die moderne lewe moet padgee of na 'n afgesonderde plek moet vlug nie. Net dít is nodig: toewyding, verbondenheid, volharding. So leer ons 'n dissipline wat ons hart en gemoed stil sal laat word om God werklik te ontmoet. Hierdie werklikheid van God in jou het Jesus beskryf as " 'n fontein ... met water wat opborrel..." (Joh 4).

Hierdie fontein is vandag nog net so 'n sprekende beeld as wat dit tweeduisend jaar gelede was. Stel dit vir u voor: Water wat in 'n woud uit 'n fontein opborrel; water wat uit 'n fontein hoog op teen 'n berg spuit en oor klippe na benede stort; kabbelende water in die woestyn sodat daar in die warm sanderige verlatenheid plante welig groei. Hoe jy dit ook al in jou verbeelding sien, dit is altyd helder borrelende water wat uit 'n verskuilde bron ontspring en nooit ophou nie.

Ruim tyd in by die fontein
'n Middeleeuse monnik het homself geleer om bewus te wees van God se teenwoordigheid daar waar hy in die kombuis van 'n klooster besig was tussen die gekletter van skottelgoed. Hy praat daarvan as "practicing the presence of God." Die meeste van ons wens dat ons altyd in alle omstandighede bewus kan wees van God se teenwoordigheid, maar ons vind dit so moeilik. Tog is daar verskeie maniere waarop ons ons daarin kan oefen.

In sy boek The art of Christian meditation sê David Ray byvoorbeeld: "'n Ontspanne gemoedstoestand kan jou help om stres te hanteer en die skadelike uitwerking daarvan tot 'n minimum te beperk." Hy het gevind dat hyself elke oggend vyftien minute nodig het vir meditasie en bepeinsing om hierdie ontspanne gemoedstoestand te bekom.

Stilword voor God sal nie al die stres uit jou lewe wegneem nie. Dit is nie 'n towerformule wat alle probleme laat verdwyn nie. Die probleme sal nog daar wees maar die bewustheid van God se teenwoordigheid skep orde uit die chaos. Dit gee tree vir tree lig op ons pad. Dit bring perspektief op waardes en verhoudings.

Bybelstudie
Nou moet ek eerlik erken dat ek nog altyd mense beny het wat kon mediteer. Ekself kon dit nog nooit regkry nie. Wat ek egter weer baie verrykend gevind het is Bybelstudie.

Toe ek op universiteit was, het ons 'n studie van die Evangelie van Johannes gemaak. Vir die eerste keer het dit my opgeval dat Johannes die identiteit van Jesus op 'n heel besondere manier belig. Ek het die patroon begin raaksien – Jesus wat sê dat Hy die Brood van die lewe is net nadat Hy die vyfduisend gevoed het. Hoe die haat wat tot Jesus se kruisiging gelei het, gegroei het uit die revolusionêre voorstelling van God se liefde. Vir my was dit 'n opwindende studie wat my hele lewe verander het.

Al kon ek nie vyftien minute per dag mediteer nie kon ek 'n paar ure per dag met die Evangelie deurbring en so geestelike verryking en nuwe insig verkry. Van toe af het ek ook ander boeke bestudeer, op my eie en ook deur kursusse.

'n Studie en bepeinsing van die Woord van God het onder andere twee gevolge: eerstens bring dit 'n al hoe groter vrede in jou gemoed en die wete dat jy die kragbron van jou lewe gevind  het (die fontein van water); tweedens bring dit 'n nuwe wêreldvisie en groter gevoeligheid vir die nood van ander mense. Die koms van Christus was 'n Blye Boodskap vir 'n wêreld waar verdrukking en onreg en hebsug van alle mense slawe gemaak het. Hoe meer ek die Bybel bestudeer, hoe meer besef ek die sinvolheid van die bede: "...laat u Wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel."