Louis Nel
Lees reeks by Rekenaar in die kies...
Met hierdie reeks is dit nie die doel om 'n Afrikaanse woordeboek vir rekenaarterme saam te stel nie, eerder om 'n assosiasie te skep om só te onthou wat die term beteken
CYBERSPACE = KUBERRUIMTE
Byna soos die uitsaai-eter van destyds behalwe dat kuberruimte nie net klankgolwe dra nie maar ook deur beelde en data bevolk word - maar in werklikheid net 'n oulike naam vir digitale skynwerklikheid wat danksy rekenaars en kommunikasie geskep word.
DAEMON = DEMOON
Sommige mense soek die duiwel agter elke bos en binne elke rekenaar – maar hierdie een is darem 'n vriendelik, hulpvaardige demoon, amper soos Casper (as so iets moontlik is...) - eintlik meer bekend in die UNIX-omgewing, 'n programmetjie wat stil en ongemerk op die agtergrond allerlei 'huishoudelike' takies op vasgestelde tye verrig. Die demone van die Griekse mitologie was sogenaamd beskermengele, daarvandaan dié naam.
DAISY CHAIN = KETTINGKOPPELING
Dis nou nie die ry 'daisies' in jou ma se blomtuin nie – dit is 'n bepaalde manier waarop rekenaartoestelle aan mekaar gekoppel word. Die woord word ook as werkwoord gebruik om die manier van koppeling aan te dui.
DATA COMPRESSION = DATA-SAMEPERSING
Alles wat jy in 'n blik in druk of forseer, neem minder spasie op as wat dit los rondlê – hierdie is so 'n manier om 'n program of data te bêre sodat dit so min moontlik plek neem. Dit word gewoonlik gebruik wanneer data van een rekenaar na 'n ander gestuur word bv via die internet omdat dit die stuurtyd bespoedig. Daar is verskillende samepersingtegnieke: leêrs met die uitgang .zip word dikwels op internet gebruik. Jy het 'n dekompressieprogram nodig om dit weer te ontbondel. Daar is ook programme beskikbaar wat alle programme en data op jou rekenaar se hardeskyf kan saampers ter wille van meer spasie – jy moet dit ook ontbondel om weer te kan gebruik.
Vervolg...