JANTJIE MUIS EN JAKOB SLANG

Lees reeks by Kinderverhale van Langenhoven

Jantjie Muis en sy broer Kootjie Muis sit in die koelte van ' n bos en speel.

Meteens kyk Jantjie op. "Kootjie, moenie skrik nie maar ons moet ons speelgoed netso los en weghardloop. Kyk daar bokant jou kop in die boom."

Kootjie kyk op. Ja, dit was Jakob Slang, klaar om hulle te vang. Hulle moes maar hulle speletjie laat bly en vlug.

Jantjie was kwaad. "Broer Kootjie," sê hy, "dit kannie so aanhou nie. Nooit kan ons lekker op ons gemak speel nie of hier is Jakob Slang en ons moet hardloop asof ons skelms is. Dit is tyd dat ons 'n plan met hom maak."

"Watter plan?" vra Kootjie. Kootjie was dom; nie so slim soos Jantjie nie.

"Laat ons eers 'n lyn soek." sê Jantjie.

Toe hulle in die pad op en af gesoek het en 'n stuk lyn daar opgetel het wat iemand verloor het, bind Jantjie die lyn styf om Kootjie se lyf vas.

"En nou?" vra Kootjie bangerig.

"Kootjie, nou hardloop ons voor die slang verby en dan bly jy 'n bietjie agter dat hy jou vang."

"Wat! Ek my moedswillig van die slang laat insluk?"

"Ag man Kootjie, is jy dan altyd so dom? Ek hou mos een kant aan diel yn vas om jou weer uit te sleep uit Jakob Slang se bek uit. 'n Slang kou nie vir jou stukkend nie, hy sluk jou heel in. Nou ja, wat is daar dan om voor bang te wees?"

Dit het lank mooipraat gekos maar naderhand het Jantjie vir Kootjie omgehaal.

Hulle het dan die slang gaan opsoek en by hom verbygeloop asof hulle kastig niks van hom weet nie; en hy vang vir Kootjie. Maar net soos hy hom wil insluk, ruk Jantjie hom met diel yn weer uit sybek uit. En so hou hulle aan. Slag vir slag kom die slang weer en hy gryp vir Kootjie, en dan is Kootjie weer vry. Nog nooit het Jakob Slang met so 'n snaakse muis te doen gehad nie.

Toe die slang nou stokflou was, het Jantjie met sy plan aangegaan. Hy hou vir Kootjie voor die slang se bek en hy loop agteruit sodat die slang moet omkrul. Toe kruip hy met Kootjie en al onder die slang se middelste van sy lyf deur, en die slang se kop kom agterna, ook onderdeur, sodat die slang so half geknoop lê.

So klim Kootjie bo-oor die slang, toe weer onderdeur die slang, en elke keer kom die slang se kop agterna. Daarna loop Kootjie-hulle vorentoe en agtertoe en weer vorentoe en agtertoe om die slang meer en meer kwaad te maak, en elke slag as die slang vorentoe ruk met sy kop, trek hy die knoop in sy lyf stywer en stywer.

Daarop het Jantjie en Kootjie hulle ma ook gaan haal om te kom kyk hoe hulle meneer Jakob Slang bewerk het. En die drie het gedans rondhom hom en hom geterg en gespot dat dit nie maklik was nie. Maar hoe hy ook met sy kop heen en weer swaai en sy vurktong uitsteek en blaas en te kere gaan, hy kon niks aan die muise doen nie.

Toe sing die muise vir Jakob Slang: "Jou lelike Jakob Slang, ons sal van nou af hier vlak voor jou kom speel, hoor jy, en nooit weer nodig hê om vir jou weg te hardloop nie. Jou nare ding!"