Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
DIE ANGELIERVROU
(Dianthus)
Jy pluk vandag 'n bergangelier wat ruik na sagte reën
Jy vra nie hoe dit more sal lyk of hoe lank die wonder mag duur
Want jy pluk vir vandag 'n bergangelier
Waar daar liefde is, is daar angeliere. Of dit in 'n knoopsgat, in 'n bruidsruiker of in 'n blommekrans op 'n graf is, die angelier se boodskap word duidelik verstaan. Oor die hele aardbol heen is die blom 'n ou bekende en geliefde.
Geen wonder nie dat digters dit deur die eeue besing nie. "The fairest flowers o' the season are our carnations ..." sing die immergroen Shakespeare.
En in die lang winter troos Matthew Arnold in 'n somerstemming:Soon will the high Midsummer pomps come on,
Soon will the musk carnations break and swell,
Soon shall we have gold-dusted snapdragon,
Sweet-William with his homely cottage-smell,
And stocks in fragrant blow.
Angeliere is veldblomme uit Suid-Europa en was oorspronklik roomwit. Hulle groei wild in Engeland en versprei deur Amerika, Japan en die res van die wereld.
Onder die inheemse angeliere is daar die bergangelier (Lachnaeapurpurea), 'n bergplant wat onder andere in die distrik Tulbagh voorkom, met 'n blomknop ongeveer soos die van die gewone angelier. Die grasangelier (Dianthus zeyheri), 'n wild groeiende soort kruidgewas, is verwant aan die tuin- en wildeangelier. Dit groei in die somer op die Transvaalse Hoëveld, is nog nie in 'n tuin gekweek nie en word in verwerkte vorm deur swartmense as 'n skoonheidsmiddel aangewend. Dit groei uit 'n meerjarige wortel-stok en dra spierwit, reuklose blomme met lang kelke op stingels wat maklik meer as 'n halwe meter hoog groei.
In Suid-Afrika is daar sowat sewentien soorte wilde angeliere. Behalwe die berg- en gras-angelier, is daar heide-angeliere, prag-angeliere, karthuiser-angeliere en sand-angeliere.
Uit die gewone tuin-angelier word groot blomme in die mooiste kleure gekweek wat oral beskikbaar is. Daar is wittes, rooies, geles, rooskleuriges en die met stippels en strepe.
Soos die roos, het die angelier 'n kenmerkende geur wat by elke sensitiewe mens 'n assosiasie met 'n sekere moment in sy of haar lewe kan inhou. En terwyl die roos met ontluikende vroulikheid vereenselwig mag word, pryk die angelier enkel en alleen en ewe tuis op die man se baadjielapel. Die angelier geniet 'n hoë status by beide die geslagte. 'n Vrou wat 'n ruiker angeliere ontvang, voel onteenseglik spesiaal.
Die geurigste angeliere is die klein outydse soort wat meestal in tuine groei en nie by die massa geurloos vir die handel vermeerder word nie. Soos dié in ons ma se tuin wat ons na 'n lang reis verwelkom. Oral, maar oral in die boerewoning word jy omgewe deur die speserygeur van die wit en pienk en rooi angeliertjies. In glas- en kristalhouers staan hulle oral: in die badkamer, op die stinkhout-wastafel met die blou teels in die slaapkamer, in die sonkamer op die uitskuif-eikehouttafel, langs jou bord op die geelhouttafel... Dan spel die angelier vir jou huis en hier ten spyte van sy vreemde herkoms of sy gesofistikeerde wêreldstatus.
Ja, dis die vrou wat in 'n angelier is - 'n mens se ma. Want wie anders is so tydloos en universeel soos sy is? In die meeste mense se Iewens is sy 'n anker, 'n vreugdeplek, 'n huilplek, 'n bidplek. Geen offer is vir so 'n ma te groot nie wanneer sy haar kinders grootmaak en bystaan. En dit beteken nie altyd net liefde en gunste en gawes nie; nee, sy weet wanneer om ferm te wees, wanneer om te tugtig en te betig en tereg te wys.
Vir haar nasate stel sy 'n norm daar. Nie omdat sy altyd goed was en reg opgetree het nie, maar omdat sy met die lig wat sy op 'n gegewe tydstip gehad het, die suiwerste weg gesoek het. Sy bly 'n krag in jou lewe soos die angelier deur die eeue 'n bruikbare blom bly - onvervangbaar en onmisbaar in die lewens van groot leiers en van gewone burgers bly die moederfiguur.
En wanneer die ouderdom haar uiterlik vergrys en verplooi, vergoed haar lewenswysheid wat met die jare van genade toeneem. Oor haar het die sangers en die digters nog nie die laaste woord gespreek nie, woorde soos die van Samuel Taylor Coleridge:
A mother is a mother still,
The holiest thing alive.
'n Angeliervrou gee stil en maklik dit wat van 'n deurmekaar wêreld 'n beter plek maak. Of sy jonk is of oud, van haar gaan daar 'n krag uit wat ander laat moed skep vir wat ook al wag. Sy praat min want haar persoonlikheid en dade spreek meer as wat woorde kan formuleer.
'n Wêreld sonder haar is ondenkbaar. Die angelier blom die jaar en die lewe vol.