Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
DIE PROTEAVROU
(Proteaceae)
Jy wens om te weet wat die reaksie was van die mens wat in die Kaapse berge die eerste keer 'n vol-oop koningsprotea aanskou het. Sou hy, soos Archimedes eens, "Eureka!" uitgeroep het by die ontdekking van so 'n vorstelike verskynsel?
'n Pronkstuk in die plantewêreld is die ongelooflike blom met die unieke vorm, tekstuur en kleur. En selfs wanneer dit kraakdroog is, word dit steeds in rangskikkings en as versiering gebruik.
Daar is meer as 350 spesies van hierdie plantfamilie in Suid-Afrika ontdek wat in geen ander vasteland gevind word nie. Van die protea self is daar oor 'n honderd spesies bekend.
Neptunus, die god van die see, sou glo 'n seun met die naam van Proteus gehad het wat homself van gestalte kon verander. In 1753 het die groot Sweedse botanikus, Linnaeus, die protea vanwee die verskeidenheid blomkoppe, na hierdie seun van Neptunus vernoem. 'n Tekening van die protea het al in 1605 in 'n boek van Clusius verskyn. Dit was egter na die plantkundige Paul Hermann se besoek aan die Kaap dat Linnaeus die protea beskryf het.
Linnaeus self kon nooit die Kaap besoek het nie. Ten spyte van aanloklike aanbiedinge om na die uithoeke van die aarde te reis, wou hy nie gaan nie. Die oorsaak? 'n Vrou! Want waarskynlik het hy gevrees dat hy sy verloofde, Sara-Lisa Moraea sou verloor as hy so lank sou weggaan. Haar vader wou nie dat hulle trou nie voordat Linnaeus nie eers in Stockholm 'n mediese praktyk opgebou het nie. Op sigself is die geskiedenis opwindende leesstof.
Toe die eerste blankes in die Kaap gekom het, het hulle die protea-familie hiergekry. Suiker was skaars en die vroue het 'n bossiestroop gekook van die nektar wat uit die suikerbos geskud is. In die Kaap hoor jy dikwels nog mense praat van "suikerkanne" wanneer na die blomkoppe verwys word.
In elke variasie van die alombekende blomsoort, skuil daar iets uit 'n vrou se persoonlikheid. Sit maar 'n paar skaamrosies in 'n glasvaas waar die lig deur hulle kan skyn. Hulle gloei skaamrooi en ingetoë soos 'n jongmeisie wat bloos. Die skaars bergroos wat naby Ceres voorkom, se blomkop hang ook na onder en is omtrent twee keer so groot soos die van die skaamrosie.
Ook in die Trots van Franschhoek, wat die bruidblom heet, is daar 'n eteriese, ontwykende, rooswit kleurespel. Hierdie gewilde niggie van die protea laat 'n mens die troumars hoor en 'n bruid sien in die sagte lig wat deur 'n roosvenster oor haar skyn.
Die meeste proteasoorte groei wild tot sowat 170 kilometer van die Kaap af. Op die heuwels rondom Pretoria en elders kom ook 'n paar soorte voor. Die bekende wabome dra groot, oop blomme wat gouer afgaan as die van die swartbaard en die Botriviersuikerbos wat op groot skaal in Transvaal vir die blommemarkte gekweek word.
Die pragtige sterk Protea grandiceps wat eens weelderig in die Jonkershoekberge gegroei het, was in gevaar om as gevolg van die bosbrande heeltemal uit te sterf. Gelukkig is nog 'n paar daarvan hoog in die berge gevind en is die saad geoes sodat dit vandag 'n gesogte tuinblom geword het. Halfpad bedek deur die sterk, grysgroen loof, hou dit lank as plukblom en verbly 'n mens se hart met die volmaakte vorm en ryk, salmpienk kleur. Die wasagtige kelke bly netjies halftoe vir weke. Dit laat jou onthou van die vrou wat bekoor juis omdat sy so effe geslote en terughoudend voorkom. Jy peil haar nie maklik nie, maar sou haar nooit in die lewe wou misloop nie.
In teenstelling is daar die nasionale blom van Suid-Afrika, die koningsprotea wat wydoop die wêreld toelag en bekoor. So 'n vrou is uniek en interessant. Haar teenwoordigheid verlig die wêreld in daeraad-kleure.
Hoewel in die sagste roosgrys kleure, is die proteas stewig met hul donsige voorkoms en houtagtige tekstuur. Die blomme het nie eintlik 'n soet blomgeur nie. Eerder sweef daar rondom hulle 'n kruiegeur, 'n bergvarsheid. En 'n mens ontmoet slegs 'n paar keer in die lewe 'n vrou wat daardie kenmerkende vars geur met haar saamdra. Jy kan dit nie koop nie. Dit is anders as dié van die duurste parfuumsoorte.
Nee, die soetheid van die proteamens lê nie in parfuum of in vleitaal nie, maar in die nektar wat sy ruim kan uitstort op die minderbevoorregtes, die mindergegoedes. En dis so deel van haar hele ingesteldheid dat haar linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Is sy 'n plattelandse boervrou, ry sy by elke armoedige dorpshuisie langs en lewer af: 'n liter melk hier, 'n stukkie vars skaaprug daar; 'n mandjie vrugte hier, 'n boerpampoen daar. En sy het tyd om na elkeen se storie te luister.
In die protea sien 'n mens die rasegte Suid-Afrikaanse vrou: sonder pretensies of inhibisies en gehard deur die omstandighede waarin sy die wêreld aangetref het. 'n Skoon, oop mens is sy met al die opregtheid wat van 'n doodgewone vrou 'n mooi mens maak.
Sy kan regvat en raakvat, sy kan die sterkste winde trotseer, die guurste storms oorleef. Sy is deel van die land soos die protea wat tuis is in die hoogste berge, in die parke en tuine waar hy met liefde ingeburger geraak het.
Paslik is dit dat juis die blom die embleem van Suid-Afrika is. Sterk, indiwidualisties, sober en perfek geskakeer. 'n Kwaliteitsblom - soos jy sou wens om 'n kwaliteitsmens te wees wat die storms van die lewe kan verwerk.