Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
BALSEMINIE
(Balsaminaceae)
Balseminie klink so Afrikaans soos ouma se kombuis. En net so gesellig val die Engelse volksnaam, Busy Lizzie, op die oor. Daar is talle soorte en nuwe varieteite word steeds gekweek.
Die bekende tuinblom, Impatiens balsamina, is inheems in Indië en China. In Zanzibar is Impatiens sultani met die rooi blomme in die winter volop in die kweekhuise en in die somer in die tuine. In Suid-Afrika is Impatiens walleriana al lank 'n geliefde in skaduweetuine.
Daar is die dubbele soort in rooi en ligroos en wynrooi waarvan die blomme soos volmaakte klein rosies lyk. Daar is een met skraal gekartelde blare en leeubekkieagtige blomme. Daar is die dwergsoorte wat oorvloedig blom. En in die jongste jare is daar die Nieu-Guinee bastersoorte met die bont loof en yslike groot juweelkleur-blomme wat kleur in die vaalste dag kan bring. Hierdie bontblaar-soorte groei beter wanneer hulle meer son kry as hulle outydse susters. En die name van die nuwe soort roep 'n vreemde wêreld op: Aztec, Chicksaw, Mic-Mac, Shoshoni en 'n ry ander.
En alles het begin by die meer as 350 spesies van die balsemfamilie wat inheems in die berge van tropiese Asië en Afrika groei. Sommige soorte word ook wyd versprei in Suid-Afrika aangetref, in Noord-Wallis, Lancashire en tot in die Himalajaberge en Noord-Amerika.
Die balseminie-vrou se liefde vir kleurvariasies verraai dat sy almal om haar tevrede wil stel. Hou jy nie van pienk nie, is sy daar in oranje; laat pers jou te veel aan lanfer dink, is sy by met suiwer wit; is lila vir jou te bleek, gloei sy in koraalrooi.
Lê jou griepliggaam ongemaklik geknak, skik sy een-twee-drie die kussings reg sodat jy so heerlik lê as wat 'n siekbed kan lê. Sukkel jy met 'n breipatroon of 'n rokpatroon, vat haar vingers raak. Jy sien gou die Iig en leer sommer nog 'n klomp handige wenke by. Soek jy andermaal na 'n huisdokter in 'n wêreld van spesialiserendes, weet sy dadelik van die knapste en oulikste jong arts wat weet dat om te luister ook medisyne kan wees.
En in hierdie besigwees om almal te plesier, kan sy op 'n dag vind dat sy haarself 'n klein bietjie verwaarioos het, dat sy ook aandag aan haarself verskuldig is, dat sy weer 'n slag moet inneem om te kan uitblom.
Die skugter tuinier, wat kla dat hy of sy nie groen vingers het nie, kan hierdie besige blommetjies gerus probeer. Hulle vermeerder maklik met steggies, jy kan plantjies koop of saadjies saai. Trouens, hulle saai hulle sommer self in die maande en maande van blomtyd. Want so besig is hulle dat hulle van die lente af blom totdat hulle doodryp - as hulle nie nog oorleef in 'n rypvrye kolletjie nie. En die kleure skakeer van wit tot pienk tot salm tot pers en rooi en oranje en al die tussenin kleure. En dan is daar nog bontes ook wat soos sterre wink. Oorspronklik was hulle hoë langbeen plante wat ook soms die "water-fuchsia" genoem is vanwee die glasbros, waterige stamme.
"Kom kyk net hoe busy is my Lizzies," nooi jy graag wanneer hulle veral na goeie reën die wêreld aanmekaar blom.
Die balseminie-mens is opreg ten spyte van 'n sekere ongeduld wat soms kan opstu - ongeduld met mense en instansies wat nie DINK nie en wat nie daarvan hou dat daar vir hulle gedink word nie. En sy wys wat sy voel: verlep in die warm son, floreer in die koeler, klam weer. Sy reageer gou en sterk op die prikkels van buite - ou ongeduldblommetjie, so broos, so breekbaar.
In sekere omstandighede floreer sy en raak so besig en blom tussen kerkbasaars, kermisse en politieke verkiesings. Sy bak koeksisters, kollekteer van deur tot deur en doen oortuigingswerk met haar hele hart en siel. Sy reël werkkringe en speelgroepe en simposiums. Noem net 'n projek en sy blom aanhoudend soos die balseminie. Sy staan graag vroeg op en werk met ywer terwyl die dag jonk en koel is. Op die warmte van die dag kan sy druipend ongeduldig raak met sleutels wat nie wil draai nie, 'n lang tou mense by 'n te klein poskantoortoonbank, 'n rolblinder wat teen 'n vensterruit tik-tik-tik, 'n verkoopman wat 'n rolpuntpen aanhoudend kliek-kliek terwyl hy 'n klient bedien, 'n hond wat vir elke beweging en geluid aan die blaf gaan en net nie weer kan ophou nie.
Sy groei saam met haar geliefdes en probeer tred hou met hulle belange en ontwikkeling, hulle hoogtes en dieptes. In tye van neerlaag beskut sy hulle onder ‘n sambreel van liefde totdat hulle weer uit 'n verlepte fase kan opstaan.
En sy kry maklik seer wanneer daar onverskillig met haar gewerk word. Sy breek sommer onder 'n onbedagsame woord of gebaar. Maar dit is nie die einde van haar nie. Sy herstel en vergewe maklik en vinnig ná genoeg trane om haar weer opnuut te laat groei.
Die Busy Lizzie-vrou verplant maklik. Plaas haar in 'n nuwe woning, werkkring of omgewing en sy skrop gou weer nes en laat die ketel sing terwyl sy die gordyne teen die hitte van die son ophang. Binne een seisoen raak sy in die regte omgewing en klimaat gevestig en blom en blom en blom ... En wanneer die ryp haar tog inhaal, rus sy tevrede tot die koue verby is en die reën sag uitsak en die nagte vol dou is.