BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

VERBLEIKBLOMMETJIE

(Brunfelsia)

Daar is die blomme waar 'n kleurverandering bydra tot 'n skouspel wat wekelank wisselend skakeer. Die floribunda-roos, Masquerade, is een daarvan. Hy verander van dag tot dag namate die blomme oopgaan sodat die kleure aan die struik wissel van roomkleur tot die diepste karmosyn. Elke dag dra die roos 'n ander masker.

Maar die koelste en soetste wisseling van kleur en geur lê in die verbleikblommetjie, beter bekend as Yesterday-Today-and-Tomorrow. In die lente sorg hierdie verkleurmannetjie onder die blomme vir ongelooflike skoonheid en geur. Eers gaan die verkreukelde blommetjies dieppers oop kompleet nes babas met oumensgesiggies.

Binne 'n dag of wat is hulle verbleik tot laventelkleur en na nog 'n dag is hulle heeltemal wit. Weke lank dwing die blomstruik bewondering af en in die aande sweef die geur deur die tuin tot in die straat.

Die brunfelsia-vrou sal haar laaste sente uitgee op 'n goeie parfuum. En verneem haar gesin verlangs wat sy graag vir 'n verjaardag sou wou hê, hoor hulle klokslag: "Ag, julle weet mos - sommer net ietsie wat lekker ruik." En tot in haar gryse ouderdom word sy onthou as die "ouma wat so lekker ruik". Die dogters en kleindogters kry gereeld geskenkies van blomgeursepies en badolies en potpourrisakkies. In haar huis hang immer die geur van die potpourri wat sy van gedroogte blomblare en laventeltakkies en kruie en speserye en blomolies berei.

Die brunfelsia is eeue lank al aan die mens bekend. Dit is vernoem na een van die vroegste Duitse plantkundiges, Otto Brunfels, wat van 1488 tot 1534 geleef het. Hy gee aan die wêreld die eerste gedrukte plantkundige boek wat op eie waarneming alleen berus. Die tekeninge daarin is duidelik en getrou en vergelyk goed met die illustrasies in enige moderne handboek.

Die verbleikblommetjie se tropiese tuisland is Brasilië in Suid-Amerika. Daar is 'n hele paar hibriede waarvan die bekendste die Brunfelsia calycina is. Dit kan tot 'n paar meter hoog groei. Die Brunfelsia magnifica groei nie so hoog nie, maar is een van die skitterendste blomstruike met blomme wat tot meer as sewe sentimeter in deursnee kan word. Dit blom deur die lente en somer tot selfs in die herfs en winter onder gunstige omstandighede. Die struike aard selfs in kouer streke as dit die eerste paar winters goed beskerm kan word. Aan die kusstreke aard dit goed in die son, maar in die warmer binneland moet dit liewer in die halfskaduwee geplant word.

Die vrou in die verbleikblommetjie is gevoelig vir atmosfeer. Die volle hitte van die lewe kan haar nie net laat verbleik nie, maar ook laat verskroei. Sy beweeg graag in die koelte van haar man of die mense die naaste aan haar. Tog is haar hele hart in wat sy doen - halfhartigheid ken sy nie.

Sy poseer nie graag alleen vir 'n portret nie en beweeg nie maklik in die kalklig van die lewe nie. Maar as dit aand word, dra die doulug om haar die geur van gister tot vandag tot more ...

Die verbleikblommetjie laat 'n mens dink aan die aria wat die graaf van Mantua sing in die opera Rigoletto: "Die vrou is wispelturig." Dis waar. 'n Vrou voel nie aldag eners nie. Die een dag mag dieper en geurig wees, die volgende oophelder en toegeeflik teenoor die wye wêreld met alles wat op haar inwerk. Maar daar is ook die dae dat sy verbleik en ontdaan van kleur kan voel, dae wat koelwit en neutraal oor haar gaan.

En al die dae saam verleen 'n dieper dimensie aan haar gees, 'n wyer variasie aan haar persoonlikheid. Die inwerking van lig en skaduwee in haar lewe bring verskeidenheid en veelsydigheid. Sy pas haar aan by die gang van die dae. Sy besef daar's 'n tyd en 'n plek vir alles, 'n reëlmaat in die lewe solank die mens aan die aarde gebonde bly.

Word die brunfelsia 'n paar jaar met rus gelaat om te groei, ontwikkel dit lang wortels wat 'n entjie van die plant af asof uit niks in buurman se tuin kan opslaan, hoewel dit nie algemeen maklik gebeur nie.

En die blomme verwelk gou wanneer 'n takkie gepluk word. Dit hou hoogstens 'n dag in 'n vaas, maar dit is lank genoeg om 'n waterverfstudie daarvan te maak. En so is dit moontlik om die vlietende kleur en geur vas te vang - die kleur op die papier en die geur in jou hart.

'n Brunfelsia-mens kuier nie lank nie - as sy kuier. Sy wip net vir 'n kort rukkie in en sit skaars. Haar gemoedstemming is nie twee dae dieselfde nie. En lank nadat sy vertrek het, dink jy nog aan haar en voel die impak van haar kort besoekie.

Sy trek nie graag rond nie en sou graag dat haar kroos êrens in haar kontrei nesskop. Want in haar onderbewuste vrees sy heimlik enige proses van ontworteling wat vir haar wegkwyning en selfs die einde kan beteken.

Die brunfelsia is 'n moet in enige tuin en in elke hart. En sou 'n mens nie so 'n blom en so 'n vrou ken nie, sou jou lewe beslis armer wees.