Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
KATJIEPIERING
(Gardenia jasminoides)
Alles aan die katjiepiering is in die oortreffende trap. Die blare is die blinkste groen-groen, die blomme is die witste waswit en die geur is oorweldigend soet - bykans te soet, sieksoet, doodsoet. Die geur op 'n maanligaand naby 'n tuinhek is enig en onmiskenbaar. Dis 'n geur wat die klein herinnering 'n leeftyd ver kan dra.
En 'n katjiepieringmens gee 'n ouwêreldse kleur aan die lewe. Haar tabberd is van sagte stof met kantjies en lintjies en valletjies; haar badkamer is vol geurige seepsoorte; haar bedkussings het geborduurde slope. Sy verras almal met die fynheid van 'n grasievolle lewenswyse. Sy lyk ewe tuis en gelukkig in die eenvoudigste woonplek en ook in die eksotiese herewoning.
Beskik sy nie oor die middele om weelde te bekostig nie, skaf sy 'n paar replika's uit die Griekse en die Italiaanse beeldhoukuns aan, bou nisse in die portaal of tuin van 'n voorstedelike huis. Maar êrens, êrens naby haar vind jy die hunkering na die mistieke wêreld waar die swoel geur van die katjiepiering agter swaar, soliede houtdeure en deur pilaargange en fluweelbehangsels en kroonkandelare sweef... en effe beklemmend kan raak.
Want eintlik wil die katjiepiering buite staan. Bring jy die blomme in die huis, word hulle half opdringerig, oorweldigend. Hulle kan gou verwelk tot pap, bruin oorblyfsels wat 'n doodsreuk in die huis kan laat hang.
Die blomstruik kom oorspronklik uit Oos-Indië en is inheems in China. Dit is beskryf deur 'n Skotse natuurkundige, Alexander Garden, wat in 1791 oorlede is. Daar bestaan ongeveer 60 spesies van die katjiepiering waarvan elf inheems in Suid-Afrika is.
Die Wilde Katjiepiering of Sterkatjiepiering is 'n inheemse soort wat waarskynlik deur Thunberg ontdek is. Dit aard die beste in warm kustuine, maar is tog effe rypbestand. In die somer dra die plant fraai stergesig-blomme wanneer die klein, toe sambreeltjies van die knoppe oopgaan. Hulle groei wild tot drie meter hoog in Oos-Kaapland en Natal en is 'n kosbare flora van ons land.
'n Ander interesssante inheemse spesie is Gardenia globosa of September Bells. Ook hulle groei wild in Oos-Kaapland en Natal en dra klokvormige blomme met effens terugbuigende rande.
Maar die bekende tuinkatjiepiering, die parfuumkatjiepiering en die storieboekkatjiepiering is die uitheemse soort, Gardenia jasminoides. Die struik is kieskeurig met grond. Hy hou van suur grond wat goed gedreineer is en verkies bloedwater en Engelse sout eerder as die ryk misstowwe. Hy wil nie gesteur wees nie en wil alleen gelaat wees om sy eie, stadige groei te groei - en om bewonder te word om die blink blaredos en die wasagtige wit blomme. Wanneer die blare geel word, kan jy weet die grond is te alkalies. Die katjiepiering hou ook nie van warm, droë winde nie en aard die beste in warm, vogtige tuine.
Ja nee, hulle het baie Fiemies. Maar beroemdes en geliefdes kan dit bekostig! Soos die Mona Lisa van Leonardo da Vinci het die katjiepiering 'n ontwykende, lokkende skoonheid wat geen tuinier kan weerstaan nie. Met die ouwêreldse speserye-geur het die katjiepiering 'n tydlose aantrekkingskrag.
En daar is die vrou wat net so kan wees - eksoties en op 'n afstand. Sy verkies om buite te staan, om neutraal en waswit eenkant te hou. Almal bewonder en beny haar. Sy is te goed om waar te wees. En kom jy te naby, mag jy oorweldig raak in 'n kortstondige, soetsappige verhouding wat gou verbygaan, wat trouens ietwat versmorend op 'n ander persoonlikheid kan inwerk. En te gou is alles verby en op die komposhoop van die tyd.
Maar so maklik en roemloos word geen katjiepiering afgekraak nie. Sy oorleef immers die eeue in al haar heerlikheid. Maar dan is sy die een mens wat verstaan wil word. Met die regte benadering en koestering sal die resultate enige mens verstom. Pleks van suur en koel en afsydig, kan sy dan blom soos geen ander blom op aarde nie. Reinwit en suiwer haal sy die beste uit die regte voedingsbron - die liefde. Nie net 'n erotiese liefde nie, maar die liefde wat van 'n vrou 'n Florence Nightingale en 'n Emily Hobhouse kan maak. En al haal die ouderdom haar te gou in, hou die geur in 'n katjiepiering-potpourri vir lank, lank haar nagedagtenis lewend.
Gaan staan een laatnag onder die sterre in jou lentetuin en hoor die inheemse C. Louis Leipoldt se woorde in die dou:
"En orals in die tuin rond ruik jy sering, roos, jasmyn en katjiepiering ..."
En jy ervaar iets hemels saam met Francis Bacon:
"God Almighty first planted a garden; and, indeed, it is the purest of human pleasures."