Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
ALWYN
(Aloe)
"Kry vir jou aalwynblomme rooi gekleur
En dek daarmee die altare van voorheen
Wat onversier en sonder wierookgeur
Verlore staan, verweer deur wind en reen."
In die groot droogte van 1983 kyk jy opnuut na hulle wat die droogte kan verduur, wat kan groei en blom wanneer min ander blomme kans sien vir die lewe. En veral in die herfs en die winter steek die vuurblomme hulle lampe op en verlig in rooi, oranje en geel die mistroostigheid in die natuur en in die mense se harte. 'n Mens kan kwalik glo dat hierdie vetplante aan die eksotiese leliefamilie behoort!
Suid-Afrika is die tuiste van sowat 140 aalwynsoorte. Vanaf die hoë kokerboom met sy kanariegeel blomme wat die winter wegsing tot die kleinaalwyn van Bredasdorp in lenterooi, staan die aalwyn sy staan in die land van periodieke droogtes. En wanneer die aalwyn in die Klein Karoo blom, lyk dit of die berge aan die brand is.
Die klein tarentaalaalwyn, die kransaalwyn en die karoo-aalwyn is onder dié wat droogte en ryp goed kan verduur. Die sierlike bitteraalwyn of kraalaalwyn groei wyd in Kaapland en langs die paaie van Transkei. Die sap van hierdie aalwyn word geneeskundig gebruik en die oorvloed nektar in die blomme lok wyd en syd die voëls. Die vaalblaaraalwyn met sy gladde, doringlose blare en trosse koraalblomme is gewild in enige tuin, blom lank aaneen en is taamlik rypbestand.
'n Interessante soort is die kusaalwyn waarvan die heldergroen blare soos sekels na onder buig. Die geel tot oranje blomme stoot in die winter uit en die gesoute hengelaar wat weet, se dan eers byt die vis aan die Natalse Suidkus!
Die Franschhoek-aalwyn se blare lyk anders as die van die ander aalwyne. Dit is waaieragtig onder die helderrooi blomme en verkies, anders as die meeste ander soorte, nogal heelwat water in die herfs en die winter. Die kandelaar-aalwyn groei welig in dele van Natal en Transkei en die Zoeloes brand van die ou, droë blare onder aan die stam saam met tabak om snuif te maak.
Die aalwyn is eeue lank al bekend. In 1674 is daarvan in die Caledonomgewing versamel en in die Kompanjiestuin geplant. Een van die manne wat in 1685 op 'n koperekspedisie saam met Simon van der Stel na Namakwaland reis, maak tekeninge en aantekeninge van vier soorte aalwyne. Die eerste een wat daar gevind is, was die kanniedood van Springbok se wêreld.
Die wortel en die blare van die rankerige heiningaalwyn word deur die Kosas in die Transkei vir die behandeling van lintwurm gebruik. Hulle glo ook dat 'n mens gevare kan afweer en sukses in 'n onderneming kan verseker deur jou te was in die water waarin die skuim van die fyngedrukte blare geroer is.
En die aalwynmens glo: die bitter van die lewe is soos die aalwyn - dit reinig die bloed. Sy kan haarself goed verdedig. En sy help graag ander mense wanneer daar siekte of nood is. Sy het raad in 'n krisistyd. Sy laat toe dat haar kragte getap word om ander te help. Haar sterk persoonlikheid lok die fladderende siel wat na hulp en skuiling soek. Sy stuit nie vir gevaar nie en stap met 'n pot warm sop en toebroodjies op 'n koue winteroggend 'n slagveld binne. En sy glo aan 'n skoon, diep sny om die kwaad te verwyder eerder as aan 'n bietjie toesmeertroos.
'n Boek oor aalwyne is fassinerende leesstof. Die volksname alleen is genoeg om 'n mens na jou eie kontrei te laat verlang: Karasberg-aalwyn, Uitenhage-aalwyn, Knoppies-aalwyn, Bergaalwyn en Krimpvarkie-aalwyn. Die kwekers van aalwyne het al interessante kruisings gedoen en kruising vind soms selfs in die natuur plaas.
"Daar is byna net soveel indiwidualiteit en verskeidenheid by aalwyne as by mense," skryf G.W. Reynolds in sy boek The Aloes of South Africa. Een eienskap egter het al die aalwynsoorte: die bitter sap in hulle vlesige blare.
En indiwidualiteit en verskeidenheid is net so eie aan die vroulike geslag as die vuurkleure aan die aalwyne. Daar is langes en kortes, slankes en stewiges. Daar is die ekstroverte en die introverte, die babbelendes en die stilles, die vrolikes en die onpeilbares. Daar is die bereikbares en die toegeeflikes, die onbereikbares en die geslotenes. En dink jy nog dit is die een, dan is dit al die tyd die ander! Of jy dink jy ken haar, dan vind jy nog 'n nuwe faset in haar persoonlikheid. Maar proe jy die bitter, gesonde nektar, weet 'n mens: jy het met 'n aalwyn en 'n aalwyn alleen te doen.
Hoe ‘n mens tot die aalwynvrou met die baie dorings kan deurdring? Hanteer haar versigtig en met begrip en 'n groot verrassing wag op jou. Want ongeag haar stywe, growwe voorkoms kan jy op haar reken - altyd. Sy stoot haar blomhoofde soos bakens teen die blou lug in. Jy vind 'n ry van haar soort in die geskiedenis van jou land. En al word haar naam nêrens vermeld nie, gaan jy haar gewis eendag ontmoet waar daar nie meer honger of dors is nie en waar al die trane van die oë gevee is.
Haar ankers in hierdie grond lê diep. Sy is uit hierdie wêreld wat strek van die koppies en die klowe, die berge en die vlaktes tot aan die lang kuslyne en woestyne aan die suidpunt van Afrika.