Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
SONNEBLOM
(Helianthus annuus)
Een van die sterkste en suiwerste indrukke wat 'n hoëveld-kind bybly, is die gesig van 'n land vol sonneblomme wat oop en eerlik die wêreld in die oë kyk en die dag vol skyn. Want een van die blom se kenmerke - en dis sekerlik waar sy naam vandaan kom - is dat hy nie alleen soos 'n son lyk nie, maar dat hy heeldag al agter die son aankyk.
En skreef jy die oë oor 'n lap sonneblom, raak die massa geel sirkels uit fokus. Kyk weer stip en die voorstes dring helder op die voorgrond wanneer jy aan die sonkant staan. En die gesig is een van die geelste geel op aarde. 'n Mens kan die kleur moeilik in waterverf op papier weergee. Hy vra vir die sterkste, skoonste geel kadmium in olieverf op doek. Skynend, dwingend helder, swaar en sterk soos 'n boervrou met die stewige beenstruktuur wat alles op 'n plaas kan regvat en raakvat.
Hierdie sonneblomvrou is op haar gelukkigste tussen haar mense - hoe meer, hoe beter.
"Kom vanaand oor dan braai ons 'n vleisie," klink haar stem op 'n sonnige Saterdag oor die foon. En met die minste inspanning roer sy die pot growwe braaipap met 'n tikkie kaas en 'n lepel plaasbotter daarin. Haar glimlag loop oor van jou aankoms af. Sonder dat jy dit agterkom, het sy jou aan die slaai snipper terwyl sy 'n geurige sous vir die pap berei.
En een na die ander kom die impromptu genooides aan. Haar bruin oë versag elke keer as daar gemoedelik geskerts of aan mekaar getorring word. Sy hou van mense. Want 'n sonneblom, eensaam en langbeen in 'n blomtuin, kan 'n patetiese gesig wees. Met die eerste fris windjie los die wortels die bros tuingrond en kantel die plant. Die swaar blomkop lê huilend teen die kluite. Want so 'n alleen-sonneblom rek hoog en bly op die uitkyk na sy maters en in die proses verloor hy maklik die ewewig.
Die sonneblom dra groot samegestelde blomme met bruin of geel olieryke saadkoppe. Die jaarplant met sy growwe, harige stam wat van een tot meer as vier meter hoog kan word, kom oorspronklik uit Noord-Amerika. Die blomkoppe van die mak soorte kan tot meer as dertig sentimeter in deursnee word. Die blare kan as veevoer gebruik word, die blomme lewer geel kleurstof en uit die saad kan olie gepars word. Die pitte lê in bogies linksom en regsom gerangskik en die bogies is altyd in 'n vaste verhouding, byvoorbeeld 34 linksom en 55 regsom of 55 linksom en 89(55+ 34) regsom.
Interessant is die getallepatroon (fibonacci-getalle) waarvolgens die blare die een bo die ander teen die stam sit. Maar niks in die natuur is toevallig nie. Selfs die patroontjies op die skilpad se dop is volgens die fibonacci-getalle gerangskik. So ook die draaie in 'n bok se horings en die wentelinge in 'n skulp!
Daar is sowat sestig soorte sonneblomme - kleiner en groter soorte, enkelblomme en dubbeles soos variasies uit die Helianthus multiflorus. Dit word wêreldwyd gekweek en die olie daaruit is gelykstaande aan olyfolie of amandelolie vir tafelgebruik. Dit is 'n waardevolle voedsel vir mens en dier.
Die sonneblom stam uit 'n familie (Composidae) wat ongelooflik wyd vertak. Party is vriende en ander vyande van die mens. Die tuinvriende is onder meer Barbertonse madeliefies, sewejaartjies, jakobregoppe, somerastersjonkmans-knope, koringblomme, dahlias, margriete, asters en kosmos. As voedsel is daar kropslaai, artisjok en sigorei uit die groot familie. Daar is ook onkruid soos die bekende boetebossie, klitsgras en knapsekêrels en geneesmiddels soos wildeals en kamille wat familie is van die sonneblom. En op die weivelde bied die plantegroep skaapbos, karoobos en kapokbos as veevoer.
In die sonneblom skuil daar geen bedrog nie. Hy juig in die hoogsomer van 'n goeie reënjaar en huil hangkop as die winter op die hoëveld hom swaar van saad en sonder sy geel kroon inhaal. Die blare is groot, groen harte. Blom en blaar gee lig en liefde. Die deugsame plant, wat ruim gee wat hy het om te gee, het 'n belangrike plek in die wêreld van gesondheid en kosmaak vir 'n hartsiek mensdom oopgeblom.
'n Skildery van sonneblomme is al van Vincent van Gogh se dae af 'n seker-verkoper. 'n Mens vergryp jou aan die kwas wanneer 'n boer 'n hele bakkievrag van die geel hartstog aanry na die plaashuis waar jy kuier. Jy maak hulle staan in 'n swaar kleipot en sit lank-lank net en kyk. Hoe diepbruin en opreg is die saadkringe met die fyn stuifmeeldrade daarbinne!
Wat meer sê 'n mens van 'n sonneblomvrou? Die blom se deugde spreek so vanself. Sy is onteenseglik groot gebou en dierbaar sonnig van geaardheid. In haar handdruk voel jy die growwe groen blare en stamme van die groot blomsoort. En hoewel die hande hard van werk is, ontbreek dit haar nie aan sagtheid en vroulikheid nie. Want 'n sonneblom se kleurryke kroonblare is fluweelsag.
Natuurlik het sy 'n groot hart wat soms ten koste van haarself kan oorloop. En in 'n gebroke wêreld is daar ook diegene wat van haar goedheid misbruik mag maak. Want al is sy sterk, kan sy ook knak onder te veel druk en siekte - en eensaamheid. Want selfs die rysige sonneblom is weerloos teen die aanvalle van roes wat aan die boere hoofbrekens kan besorg.
Tog is 'n mens se weg deur die wêreld ondenkbaar sonder die lig en liefde wat die sonneblom so ruimhartig uitdeel.