Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Vergeet-my-nietjie
(Myosotis scorpioides)
Tuinroos tussen die tulpe,
Vergeet-my-nie so blou
Soos die skyn van die lug op 'n somerdag,
Of die kleur wat die see behou -
Ek pluk julle vir my ruiker,
Vergeet-my-nie en roos,
Om 'n blyk te gee van my liefdesplig
En my eie smart te troos...
(C Louis Leipoldt)
Deur die eeue heen is hierdie blou-blou blommetjie geliefd by die digters. 'n Ou Duitse verhaal vertel hoe die vergeet-my-nietjie die naam gekry het. 'n Ridder en sy meisie het langs die Donaurivier gestap. Hy wou vir sy geliefde van die blou blomme teen 'n steil wal langs die water pluk. Die boompie waaraan hy vashou, gee mee en die stroom voer hom weg. Magteloos in sy swaar harnas, verdrink hy voor haar oë. Toe hy die laaste keer uit die water opkom, gooi hy die bossie blomme na sy geliefde.
"Vergeet my nie..." was sy laaste woorde aan sy meisie.
Die klein eenjarige en meerjarige kruid word ook genoem "skerpioengras". Die botaniese naam Myosotis is afgelei van die Griekse mys (muis) en otos (oor) vanweë die muisoorvorm van die kroonblaartjies. Meer as veertig spesies kom voor in Europa, Noord-Asië, Noord-Amerika en Australië. Die growwe, harige, groen blare is breër by die basis as by die punt. Die blou, pienk of wit blommetjies met die vyf kroonblare sit in klein trosse aan die punte van die blomstele.
Die gewone vergeet-my-nietjie van Brittanje is ook in Noord-Amerika ingeburger en is meerjarig. Die blomkoppe word eers pienk, dan blou soos hulle groei, en die pieringvormige oop kelkies is later helderblou met geel senters. Hulle groei volop langs stroompies, riviere en watervore.
Verskeie spesies word wyd gekweek en daar is ook die sonder die geel "oog" - 'n jaarplant wat die beste resultate lewer. Hulle is gesog omdat hulle so welig kan blom. Die jaarsoorte saai hulleself en kan jaar na jaar voortplant. Die dwergsoorte is 'n mooi grondbedekker tussen die lente-blombolle. Die inheemse vergeet-my-nietjie (Anchusa co-pensis) kom voor in Suidwes- en Oos-Kaapland en verder noord tot in die Vrystaat. Die plant met sy baie takkies dra hemelblou blommetjies. Duranta repens is 'n struik met blou lenteblomme, soos vergeet-my-nietjies.
Die vergeet-my-nietjiemens wil geken wees. Sy wil raakgesien wees en dis vir haar belangrik dat mense haar onthou en aan haar dink. Haar onthoukaartjies en -briefies wat met sorg uitgesoek of self ontwerp word, dra wêreldwyd haar glimlag, meelewing en deernis aan haar medemens oor.
Haar romantiese aard sorg vir onvergeetlike jongdae en standhoudende huwelikslewe. Want is die fyn blomme dan nie deur die eeue die simbool van standvastigheid nie
Sy doen wat sy belowe - kom wat wil. Sy vergeet nie belofte nie. Wanneer sy iets leen, veral 'n boek, kan jy weet dit kom terug. In blommetaal beteken die vergeet-my-nietjie "ware liefde". Die plant word dikwels by grafte geplant. Met haar belangstelling in die genealogie besoek die vrou graag ou kerkhowe en sit dae om in die argiewe.
Die vrou met die muisoortjies en skerpioenangeltjie is ook nie aldag 'n engeltjie nie! Maar aan haar suiwere onselfsugtigheid twyfel 'n mens selde. Sy is meermale klein van persoon maar groot van hart. Laat staan nou maar "sterk gif in klein flessies"! Jy kry haar lief en wil haar graag teen die hitte van 'n harde wêreld beskerm. Want jy weet die resultaat is iets wat jy nooit sal vergeet nie!
'n Vergeet-my-nietjie kan 'n ma wees wat hoogbejaaard alleen op 'n plaas wil woon met die hulp van mense wat geslagte lank reeds op die plaas werk. Ná 'n somerkuier staan die kinders voordag op vir die lang terugreis. Sy lees voor uit Psalm 23 en bid vir hulle. Hoeveel dagbreektrane is al op die plek gehuil? Sy bly alleen agter om die voordeur toe te sluit. Sy sal by die badkamervenster uitkyk tot die motor oor die bult gaan. Die kinders ry die dag in. "Vergeet my nie," sug sy.
Die blou blommetjie is die simbool van vriendskap. Die vrou in die vergeet-my-nietjie is die beste vriendin wat mens kan hê. Sy weet waarom 'n mens twee ore en net een mond het. Sy kan luister. Dit is haar grootste bate.
"Ag, dit moes ek nie vertel het nie," kan iemand wat teenoor haar uitpraat spytig opmerk. Maar een kyk in haar blou-blou oë en jy weet: by haar is jou woorde veilig, soos Dinah Mulock Craik sê:
"A friend is one to whom one may pour out all the contents of one's heart, chaff and grain together, knowing that the gentlest of hands will take and sift it, keep what is worth keeping, and with a breath of kindness, blow the rest away."