BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

Boslelie

(Clivia miniata)

Boslelie... bosnimf. So skoon, so helder, so volmaak is die praglelie van die Suid-Afrikaanse inheemse blommeryk, herout van die lente. Hoewel sy skugter skuil, weg van die volle Afrikason en die winterryp, vlam die groot oranje blomkoppe soos lampe in die halfskaduwee van boom en bos. En in 'n goeie jaar mag 'n mens maar spog: "Jy moet my clivias sien..."

Die gewilde lelie behoort tot die amaryllis-familie en groei welig in Natal, waar dit die eerste keer ontdek is, in Oos-Transvaal en in Oos-Kaapland. Die plant aard ook goed in houers en wil nie gesteur word nie. In 'n oorvol houer gaan hy in 'n stryd om oorlewing welig aan't blom. Die appelkooskleur lelie is al vir meer as 'n eeu 'n gewilde potplant in Engeland.

Die lelie het nie 'n bol nie. Die vlesige wortels groei uit die basis van die plant aan die onderkant van die lang, gladde blare. Daar is 'n skaarser goudgeel spesie en uit die oorspronklike blom is ook wit, rooi en geel blomme gekweek soos die Zimmerman-hibriedes. Die Clivia nobilis het lang, buisvormige blomkelkies waarvan die punte groen is. Hoewel die lelie net 'n paar weke blom, hou die blomme lank en vorm ryk, rooi saadknoppe wat op sigself dekoratief is. Die saad kan met sukses in skadutuine geplant word.

Die boslelievrou is sterk en seker van haarself. Sonder pretensie straal sy en vang die oog, ook van die vreemdeling wat terloops verbygaan of met haar te doen kry. Sy is beslis 'n ekstrovert met 'n sonnige streep.

"Die Afrikaanse meisie is veelsydig en 'n flukse werker," merk 'n Nederlands-gebore buurvrou op. "Sy maak klere, kan goed kook en bak en preserveer. Sy is 'n natuurlike moeder vir haar kinders en 'n steun vir haar man. Stil, sonder fanfare en 'n geskarrel."

Die vrou in die boslelie begin maklik 'n kleinsakeonderneming wat later "groot sake" word. Sy lewer graag dienste wat lyding kan versag en staan dikwels in die verpleegberoep. Sy kan kophou, en haar temperament is egalig en gelyk soos 'n tafelblad. Sy gedy, leef en laat leef waar haar lig en krag nodig is om die skadukant van die lewe te verlig. Haar hart en hande is oop vir die minderbevoorregte. Sy het deernis met die oues, die siekes, die verlooptes en die verwondes wat skuiling soek weg van die felheid van 'n meedoënlose, rigiede reg-of-weg lewensbeskouing.

Tog is sy ook kwesbaar. Te veel helder son kan die oranje laat verbleek en selfs ontydig verskrompel en haar blomtyd en juigtyd verkort. Die vrou is nie gestaal teen die skerp publieke oog en opinie nie. Sy skitter nie in die sosiale kolomme van die glanstydskrifte en onder die sterk beeldradioligte nie. Die boslelie is 'n huislike mens wat knus en gesellig in haar omgewing kan werk en floreer. Moet sy noodgedwonge reis, is sy uit haar aard, vreemd en sonder sprankel. Maak sy haar oë saans toe in 'n vreemde bed, kuier sy in haar gedagte van vertrek tot vertrek deur haar eie woning en weet sy: ek verlang huis toe. Kom sy weer tuis, blom sy en straal van vreugde en voldoening. Moet sy, van die een plek na 'n ander verhuis, neem dit jare voordat sy weer haarself is en voluit kan blom.

Die blomme van die boslelie verlig die laatwinter en maak van die lentekoeltes 'n gesig waarna 'n mens die hele jaar lank uitsien. Wanneer die vlesige knoppe witterig en diep tussen die sterk, smal blare begin uitstoot, weet 'n mens: die winter gaan verby, 'n nuwe lente is daar en die somer in al sy volheid wag net om die draai.

Die bosleliemens leef naby haar gesin, vou haar hart om hulle. Sy glo elke nuwe baba bring sy eie bondeltjie saam om in sy behoeftes te voorsien. 'n Vol huis is haar vreugde en sy verstaan die kuns om met oorleg te werk, sy dit met kos, skoonmaakmiddels of klerasie. Wanneer sy bedreig voel deur inflasie, belasting of werkloosheid, bereik haar vindingrykheid 'n hoogtepunt.

Soos die boslelie, gloei die vrou van binne na buite en loop haar bestemde pad stil en selfverseker. Haar blomtyd duur lank en die ouderdom haal haar nie maklik in nie. Selfs dan is haar lewe nog kleurvol en ondernemend, ryk en stewig. Oranje is vir haar in die son, in die vuur, in die warmte wat vertroosting bied, in geloof en hoop en liefde. Oranje is vir haar loutering en suiwering, blydskap en vriendskap. Vir die boslelie is oranje die lewe self - voort-stuwend en uitdagend.

En besoek 'n mens haar uiteindelik in 'n tehuis vir verswakte bejaardes of in 'n aftreeoord, gaan die regterhand oop en toe om 'n rooi bal - terapie na 'n toeval van beroerte. "My kind, moet tog nooit kla oor te veel werk nie. Die werktyd is kort en die rustyd is lank."