Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Swaardlelie
(Gladiolus)
Vleg vir my bruid 'n mirtekrans;
Gee haar 'n lelie in die hand
En lei haar uit en laat haar dans -
Dit is jou laaste, laaste kans,
Want more is sy uit die land.
(C Louis Leipoldt)
Die veredelde swaardlelie wat die rangskikker by die gerf op die mark kan koop, of wat vroue by skitteraande op die verhoog ontvang, het 'n rits eg-Afrikaanse familie. Die name sing in die volksmond: kalkoentjie en klippypie, bergpypie en bakpypie, sandpypie en sandveldlelie, blouklokkie en ribbokblom, vlamlelie en vlei-aandblom.
Die naam van die lelie is afgelei van die Latynse gladius wat "swaard" beteken. Wêreldwyd is daar sowat 250 spesies bekend waarvan 'n groot aantal inheems in Suid-Afrika is. Die blom aard goed in bergwêreld - ook in Europa en die westelike Asië. Die gewilde moderne variteite word al langer as honderd jaar uit die wilde soorte gekweek. Die bekende groot blomme is in 1841 deur die Van Houttes uit Gladiolus gandavensis gekweek.
Die blomkelke van die mak soorte kan tot meer as twintig sentimeter breed word in 'n wye kleurspektrum: grys en pers, rooi en salm, purper en pienk, geel en gevlek in die kelk, oranje, diep rooi en swartrooi en al die skakerings tussenin. Net in blou blom hulle nie.
Dis nie maklik om hulle te kweek nie. 'n Mens moet die bolle vooraf behandel en waak teen peste en plae. Net 'n toegewyde tuinier kweek die mak soorte. Die wilde spesies uit ons velde groei betreklik maklik en is meer bestand teen die vyande van die plante.
Die swaardlelievrou begin 'n taak met geesdrif en eindig met skouspelagtige resultate. Maar gaandeweg verflou haar belangstelling, verbleik en verklein haar pogings, soek sy weer iets anders. Sy leer graag nuwe bedrywe aan, vorder tot sy 'n meester in die klere- en hoedebedryf, ontwerp alles self. Haar oorspronklikheid ken geen perke nie. Dan los sy dit om professioneel op 'n hele paar breimasjiene te brei. Wanneer sy die hoogste toekenning in die wêreld ontvang, verkoop sy die masjiene en begin met kerspitwerk. Sy huur 'n span werkers, lei hulle op en vervaardig weergalose beddekens, kussings en allerlei oorspronklike artikels waarsonder geen vrou wil wees nie.
Loop jy een van haar "fases" mis, kry jy nie maklik weer 'n geleentheid nie. As jy weer hoor, het sy 'n wandelroete gaan stap of 'n bollekwekery begin.
Hoewel die swaardlelie stewig in die lewe bybly, kan haar gesondheid broos wees, want sy aard nie oral ewe goed nie. 'n Omgewing kan haar irriteer sodat sy nooit blom nie, maar wegkwyn en verskrompel onder 'n diepliggende probleem. Sy is sensitief, kwesbaar, vol allergieë en moet goed deur haar dierbares opgepas word. Sy ontvang liewer raad as om raad te gee.
Die swaardlelierits hou lank, die blomkelke gaan van onder af boontoe oop. Die wilde soorte groei in die hoër, koeler streke van die Kaap. Die miniature is bekoorlik vir informele ruikers, terwyl die groot soorte meer formeel en in massas gebruik word. Voor die winter word die bolle gelig en gestoor tot planttyd in die vroee lente. Hulle floreer in sanderige grond met baie kompos.
Voor gehore tree die swaardlelie met gemak op. Sy straal selfvertroue en elegansie uit en is as model gesog in die modewêreld. Daar is iets klassieks aan haar, iets wat min ander vroue het. Slank en formeel besit sy die statigheid en voorkoms wat elke vrou begeer. Land selfs koelkop en waardig in die politiek en in besture van elke soort. Sy het styl.
Selfs in die ryper jare is daar vernuwing in haar lewe sigbaar. Hoewel haar voorkoms dan meer ingetoë, minder glansryk is, adem sy intellek en varsheid en die wil om steeds boontoe te groei volgens die Woord wat die swaard van die gees is. In die wêreld van blomme en vroue is die swaardlelie vanselfsprekend onontbeerlik, onmisbaar en onvervangbaar.
Sy is teenwoordig by die "gelui van huweliksklokkies" en by die "kluitklap op die kis" waarvan Die Stem van Suid-Afrika praat. Sy blom by onthale en stap stadig saam onder die klanke van 'n dodemars, staan op aandag by die trompet se laaste taptoe. 'n Paar blomblare uit haar hand val in 'n oop graf op die vollengte ruiker van swaardlelies.
Onder al die bedrywigheid bly sy immer bewus van die groot lewe, die verganklikheid van die mens en van die smart wat haar kan tref soos die vrou aan wie gesê is: "En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan..." (Lukas 2: 35).