Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Dahlia
(Fam. Compositae)
Hoewel dahlias vry en maklik groei, is hulle nie meer so gewild by sommige tuiniers nie. Mense raak glo moeg vir hulle flambojante styl!
Tog is daar min somertuine in Suid-Afrika wat nie een of ander tyd met 'n paar dahlias spog nie. Veral vir beginners is dit die eerste blomrne in !n eie tuin ná 'n woonstellewe hoog in die lug wonderlik. In blommetaal staan die dahlia vir prag, praal, vertoon en plegstatigheid.
Daar is dié wat min moeite gee en sonder fiemies blom, maar daar is die gesofistikeerdes wat meer van die lewe vra. Daar is enkelblomme en dubbeles, grotes en piepklein pom-poms. Maar kom die sap een keer aan jou vingers, ken jy die geur van die dahlia toe-oë uit.
Die dahlia groei wild in Meksiko en Sentraal-Amerika.
Boomdahlias word tot byna tien meter hoog. Die eerste dahlias is in 1789 na Europa geneem. Net twee het bly lewe: pers en rooskleur. Die naam is geskep deur die Spaanse botanis, Cavanilles, ter ere van die agtiende-eeuse Sweedse botanis, Anders Dahl.
Die eerste dahliaknolle is in 1798 van Spanje na Groot-Brittanje gebring. Dit was Dahlia pinnata waaruit saam met Dahlia coccinea die al-gemeen bekende dahlia gekweek is. Die gewilde kaktus-dahlias se oorsprong is die Dahlia juareszii wat van Meksiko kom. In 1804 besoek die botanis, Humboldt, Meksiko en stuur saad na Europa waarvan baie kleure dahlias blom. Die saad verbaster maklik met ander dahlias en daarom word knolle gebruik om indiwiduele soorte te kweek.
In 'n sekere sin is die dahliamens 'n enkeling. Sy floreer en vertoon op haar beste wanneer sy alleen werk en groei en ontwikkel. Vir breingimnastiek vul sy graag blokkiesraaisels in en word geboei deur 'n wedstryd van enige aard met 'n prys daaraan verbonde. Sy werk nie maklik saam met 'n pannekoekbakspan of in 'n kombuis of klaskamer of vergaderplek vol kwetterende hooggesnaarde vrouestemme nie. Sy het 'n eie styl en besliste idees wat effe te rigied kan raak. Word sy onvermydelik in 'n groot groep geplaas, is sy stil en dink haar eie dink.
Die dahlia is 'n somermens met 'n gesonde eetlus. Veral waar dit by koeldranke, tee, koffie en melkdrankies kom, kry sy nie maklik genoeg nie. Sy floreer op goeie kos wat haar groot en gesond laat groei sonder om onaansienlik en oorgewig te wees. Sy is 'n koskenner wat weet hoe om uitsoekgaste te onthaal en geregte aantreklik voor te sit - selfs binne-in 'n swembad. Daarvoor sorg 'n rak vol boeke oor onthaalkuns, resepte, kos en kookkuns en die glanstydskrifte wat sy gereeld koop vir die blokkiesraaisels.
In die winter hiberneer sy. 'n Mens hoor of sien haar nie. Sy slaap laat en doen net die noodsaaklikste om haarself en huis en haard aan die lewe te hou. Sy leef in vaal en bruin sweetpakke of sakkerige langbroeke en groot, kleurlose truie. Selfs haar grimering bly agterweë terwyl sy haar in leeswerk en dinkwerk, uitsorteer en regpak verdiep. Sy gaan koulik vroeg bed toe, krul op in die fetusposisie en vergeet van die wêreld en al sy probleme. Sy bly onbetrokke by die gemeenskap se aktiwiteite en sluit haar ore vir die wêreld se (slegte) nuus.
Maar wanneer die voëlstemme van die lente begin praat en die vleiloerie borrelroep, berei sy haar voor vir nog 'n glorieryke somer. Meters kleurvolle materiaal word in besonderse uitrustings omtower. Tapyte word uitgeklop en gordyne gewas. Groot bosse tuinblomme staan los en informeel oral in die huis rond. Haar hare glinster en haar lag is gul, haar tande wit, haar grimering helder om te pas by elke uitrusting. Waar sy kom, word sy raakgesien. Haar teenwoordigheid gee kleur aan samekomste, veral waar daar geëet en gedrink word. Sy hou van skoue, môremarkte, vlooimarkte, uitstallings, basaars, kermisse en uitverkopings. Sy ry by geen stalletjie verby nie, leef die somer om.
Sy is nie oral en altyd gewild nie. Daar is mense wat moeg raak vir haar oorweldigende persoonlikheid. Maar dit pla haar nie. Haar gewildheid elders is so diep gevestig dat haar geselskap die hele somer deur die siekes en eensames en oues van dae opkikker, vermaak en verbly. Haar lag maak selfs die verkeersman wat haar vir spoed voorkeer se hart sag en sy kom weg met 'n vriendelike waarskuwing.
Trouens, die dahliameisie bely dat haar swak punt mans is. Sy geniet hulle aandag. Sy streef daarna om ryk te trou en uit boetieks en bakkerye te leef met genoeg bediendes om haar. En soos haar haarstyl wissel, wissel sy tussen maer en vet, volg die een dieët na die ander.
Die tempo waarteen sy deur die somerhitte beweeg, laat haar sweet. Die geur omgewe haar, maar dit is subtiel en gee nie aanstoot nie - dit is sinoniem met somer, groeityd.
Onder al die bedrywigheid bly sy immer bewus van die groot lewe, die verganklikheid van die mens en van die smart wat haar kan tref soos die vrou aan wie eens gesê is: "En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan..." (Lukas 2: 35).