BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

DIE TULP

Die tulp is eie aan Holland, die land van dyke, gragte, windmeulens en draaiorrels. By die wêreldberoernde Keukenhof-tuine wat in die vyftiger-jare aangelê is, kan 'n mens skaars glo wat jou oë aan tulpweelde en kleure waarneem. Dit is die grootste bolletuin in die wêreld. Later droom jy in kleur, reuse vlakke kleur en van die roem en glorie van die tulp.

Ogier de Busbecq, 'n ambassadeur van die Romeinse Ferdinand I aan die hof van sultan Suleiman I, het tulpe in 'n tuin naby Konstantinopel gesien waarheen hulle van Persië gebring is. De Busbecq neem in 1554 van die saad na Wene.

Die eerste beskrywing en illustrasie van 'n tulp verskyn in 1561 in Gesner se De Mortis Germaniae. 'n Vlaamse plantkundige, Clusius, stel die tulp in 1601 in die Nederlande bekend. Van daar versprei die gewildheid van die blom deur Europa. 'n Nuwe plantkundige nywerheid begin en welvarende handelaars en koninklikes betaal buitensporige bedrae vir 'n enkele tulpbol.

Om 'n ongewone bol te bekom het 'n statussimbool geword. Teen 1634 was die tulpkoors ("tulpenwoede") so hoog dat van 'n "tulipomania" gepraat is. Ongewone soorte is teen fabelagtige pryse van tot meer as R6 000 per bol verkoop. Teen 1637 volg 'n onvermydelike ineenstorting en bankrotskappe. Die pryse val, maar die aanvraag vir tulpe bly sterk en duur vandag nog voort.

Aan die tulpvrou is niks petieterig of verwikkeld nie. Sy kan indiwidualisties en nogal dominerend wees. Sy het sterk hande, 'n goeie beenstruktuur, egalige gelaatstrekke en 'n gelykmatige, ewewigtige geaardheid en uitkyk op die lewe. Sy maak nie gou diep vriende nie, bekoor eenvoudig en onweerstaanbaar, of sy spreek glad nie tot iemand nie.

Die geel tulpmens ken die hartseer van 'n hopelose liefde. Sy weet die verhouding is onmoontlik, onwerkbaar, maar sy bly die liefde koester - diep, waar niemand dit kan sien nie. Die rooi tulp, daarteenoor, verklaar en vertoon die liefde!

Aan die een wat geduldig volhard, openbaar die tulp­mens 'n kelk vol blywende lojaliteit. Sy onthou met weemoed die tulpfeeste wat elke jaar in Meimaand in Hol­land gehou word: die kleurryke provinsiale kleredrag, die houtklompe, die dansers, die musiek van die draaiorrel... Diep in haar binneste is die swart basis wat weet van die smart verduur in 'n wêreldoorlog. Oor die ervarings praat sy nie. Maar dit lê onuitwisbaar in haar oë. Is dit waarom sy by tye koppig, byna bot en verkeerdeveer kan wees? Of koud? Die tulp verkies immers koue winters.

Daar is talle verskillende groepe tulpe: enkele en dubbele vroeë tulpe, Mendel- en helder Darwin-tulpe, lelieblom- en kothuistulpe, Rembrandt- en Bizarre-tulpe, Bybloems- en papegaaitulpe. Die waterlelietulp is een van die mooistes, vroegstes en sterkstes. Die roomgeel blomme met rooi aan die buitekant het heldergeel harte wanneer hulle in die son-lig oopgaan. En 'n klompie skulppienk Attiïa-tulpe met loof en al in 'n blou Delftse vaas vergeet 'n vrou nooit. Om kurwes in die blomstele te verhoed, kan tulpe korter geknip of in koerantpapier gewikkel word en tot by die nekke oornag in water gelaat word.

Hoewel tulpe nie om hul geur bekend is nie, is daar tog die geel Tulipa sylvestris wat sedert die sestiende eeu al in Britse tuine gewild is vanwee sy geur. Die wilde tulp is inheems in Italië, Oostenryk, Japan en die Oos-Mediterreense streke. Die kleure wat vandag bekend is, wissel van wit tot alle skakerings van geel en rooi, van bruin tot dieppers tot amper swart. In die vroeë herfs word die bolle geplant en in die winter kom die blomme, oorweldigend en onvergeetlik.

Hoewel die tulpvrou tred hou met die lewe en in haar ryp jare rekenaargeletterd raak, leef sy naby die aarde. Stoot soggens om vieruur die kombuisdeur oop, tuur oor die stil werf en verder tot teen die rooidag, en haal diep asem in die lug wat vars oor die onderdeur stoot. Draai dan om, haal die kniekombers van die hooggeryste beskuitdeeg af, knie dit af en begin die panne vul met eweredige rye bolletjies op maat van die marsmusiek oor die draradio. Dek die panne weer toe om te rys. Uit 'n stuk deeg vorm haastige vingers die vetkoeke wat 'n sterk man en seuns se ontbyt gaan aanvul.

Teen sesuur keer sy die goudbruin beskuit uit die panne terwyl die anysgeur deur die huis sweef. Om agtuur stap sy vars en netjies, van kop tot tone professioneel, haar kantoor binne. Min ander kan geldsake hanteer soos sy. Kliente  slaak  'n  sug  van  verligting  wanneer sy  hulle spaargeld of erfgeld of pensioengeld verstandig en voordelig belê.

Haar hart is groot soos die enkele juwele wat sy dra. Haar hare is lank en is altyd in 'n bolla of 'n Franse rol vasgevang. Pleks van 'n hoed dra sy 'n tulband soos die Turke wat dit by die tulp afgekyk het. Wanneer haar wil voor 'n sterker een te staan kom, pas sy haar waardig by die situasie aan. En tog... en tog... op 'n dag kan sy onverwags moeg voorkom, haar skoene uitskop wanneer sy tuiskom, die kamerdeur toemaak en 'n slag goed uitslaap - doof vir enige versoek of geneul aan die ander kant van die deur. Haar slaap is 'n diep, diep somerslaap.