Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Magnolia
(Magnoliaceae)
Die magnolia is een van die mees primitiewe lewende plante. Die magnoliagroep is antiek. Meer as tagtig fossielspesies is al beskryf en steeds kan blomliefhebbers hulle in die wonderlike verskeidenheid blomme verbly. Geen wilde hibriedes van die magnolia is gevind nie, maar heelwat tuinhibriedes is bekend: vyftig in die ou wêreld van Japan tot in die oostelike Himalayas en suidwaarts tot by Java. In die nuwe wêreld - Suid-Ontario, die oostelike VSA, Meksiko en Venezuela - is ongeveer 25 spesies bekend. Die mees dramatiese magnolia is die een met die groot, wasagtige wit blomme, blink immergroen blare en sagte suurlemoengeur (Magnolia grandiflora). Die enigste geharde immergroen spesie groei stadig en aard goed alleen op 'n grasperk. Die grootste in die genus, Magnolia mac-rophylla, se blare word tot byna 'n meter lank.Die eerste magnolia wat in 1688 in Engeland gekweek is, is "sweet bay" {Magnolia uirginiana). Die komkommer-boom (Magnolia acuminata) het geel en groen blomme in skerp kontras met die pers soorte, en dra bloedrooi vruggies. Die saad van die magnolia is vir 'n kort tydjie lewensvatbaar, veral wanneer dit uitgedroog is. 'n Nat, koue tydperk is nodig om ontkieming te laat plaasvind.
Daar is geurige magnolias soos die wit Magnolia denudata met die sagte viooltjiegeur. Die stermagnolia {Magnolia kobus stellata) lok 'n mens van ver met sy geur. "Faint was the air with odorous breath of magnolia blossoms..." skryf William Wordsworth.
Die vrou wat in die magnolia leef, is klassiek. Die opvallendste van haar voorkoms is 'n vleklose vel wat selfs tot in die ouderdom nog bewonder word. Dit is 'n erfenis in haar gene wat van ver oorgeërf is. Haar gelaatstrekke is vir die skilder van alle tye 'n fees. Maak selfs die Mona Lisa dan nie die stille inpak van 'n magnoliavrou nie?
Die vele madonnas van die ou meesters laat 'n mens seker voel dat ook hulle die magnolia moes geken het. Suid-Afrika se Frans Oerder het ook die blomme geskilder soos niemand ná hom nie.
Die magnolia is nie gebonde aan 'n tydperk of 'n modegier nie - sy is en was nog altyd 'n toonbeeld van die oervroulike. Die snit van haar klere is tydloos en treffend - al dra net sy alleen dit.
Wanneer die magnolia deur die lewe gekneus en verwond word, neem 'n mens die geur van speserye waar - nie in die letterlike sin nie, maar in die waardige wyse waarop sy haar lot dra en verdra tot besieling van almal om haar. Uit haar lyding word die goeie gebore. Haar statigheid en standvastigheid neem met die jare toe. Wanneer die tye koud en neerdrukkend is, is haar bystand daar om ander weer te laat moed skep. En sy kan nie in onvrede met ander lewe nie. "Hoe anders bewaar jy die vrede in jouself?" vra sy.
Almal ken die tulpmagnolia {Magnolia purpurea en Magnolia liliflora) met lilapers en wit tulpvormige kelke. Die enkelblomme is volmaak gevorm en verskyn van die middel tot die laat winter aan die kaal, grysbruin stamme. Ryp en voëls kan die blomme beskadig. Hulle hou ook nie van skerp en langdurige son nie. Die donker, wynkleurige een (Magnolia liliflora nigra) blom ietwat later.
In die halfoop tulpmagnolia sien 'n mens die biddende hande van 'n ma. Want kelk sy nie dikwels die kommer en smart in haar hart nie? En bid sy nie die nagtelike ure by tye sonder woorde om nie? En bewaar en oordink sy nie die vreugde ook waar daar nie hande geklap word nie? Wat sou sy regtig dink of droom? Onthou sy langer terug en sien sy verder vooruit as soveel ander?
Hierdie vrou is elke eerste Saterdag van die maand by die Magnoliadal-opelugmark in Pretoria. Sy stal haar werk uit of dwaal net en geniet van alles wat mense met hulle hande skep - van skilderye tot keramiek, van naaldwerk tot speelgoed en geskenke. In die dal is 'n menigte magnolias aangeplant en Peter Pan en Wendy kyk in brons uit oor die stil poel water en wilgers ... waar die kinders rondspeel. Die magnolia-ouma benut haar los tydjies om vir die bedrywige kinders en kleinkinders klere te maak, truie te brei en beskuit en koekies te bak. En sy kan stories maak en vertel...
Die ontwykende, half onbereikbare in die magnolia is oervroulik. Sy is 'n eenmanvrou wat een maal trou en nooit weer nie. 'n Egskeiding in die lewe van die magnoliavrou is byna onmoontlik. Die man wat haar een keer gevind het, word net deur die dood van haar geskei. En sy bestaan vandag nog ... bestaan van die voortyd af en sal tot die einde van alles nog daar wees. Onpeilbaar, noem baie haar. Maar om haar te ken, is om te weet: die tye mag verander, maar die vrou verander nooit.