BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

Papawer

(Papaveraceae)

'n Legende vertel van 'n hooghartige jong prinses, Papawa, en haar lieftallige en nederige kamermeisie, Cor­nelia. Op 'n dag wandel hulle deur die koning se koringlande. Papawa eis hooghartig dat die koringsnyers vir haar van hulle kosbare gerwe 'n skuiling teen die reën bou, hoewel daar slegs een klein, wit wolkie teen die blou koepel sweef. Eindelik swig hulle voor haar dreigemente dat hulle hul werk sal verloor. Hulle bou die skuiling vir die meisies. Skaars is die twee binne, of uit die blou hemel tref 'n weerligstraal die hut. Die vlamme verteer dit voordat iemand die meisies kan red.

Die volgende somer groei daar op die land twee blomme langs mekaar: 'n vurige rooi papawer en 'n blou-blou kringblommetjie. Vandag nog is rooi papawers, blou koringblomme en geel koringlande sinoniem en vasgelê in soveel herinneringe aan die pastorale platteland.

In die valleie langs die kus van die VSA aan die Stille Oseaan blom die Kaliforniese papawer in liggeel tot diep oranje tot rooi en blink met blomme tot tien sentimeter wyd. Die rooi variëteit is paslik bekend as geisha, fyn en sjiek soos die Japannese dametjie met haar swart hare en helder kimono. Meer as honderd spesies is inheems in Sentraal- en Suid-Europa en Asië.

Brittanje het ook 'n paar spesies, en in die VSA groei hulle in die veld en landerye. Die opiumpapawer dra wit en bloupers blomme. Dit het mediese gebruike, maar word ook onwettig as 'n dwelmmiddel gekweek. Papawerolie word ook in die vervaardiging van sekere olieverwe gebruik.

Maar die bekendste aan tuiniers is die Yslandse papawer (Papauer nudicaule) met sy grysgroen blare en blomme van reinwit tot pienk, van geel tot diep oranje en rooi. In die knopstadium is die blomknoppe geboë. Kort voor die blom sy verkreukelde kroonblare oopvou, lig die knop sy kop op. Die vier kroonblare - daar is selde vyf of ses - vou skouspelagtig en eteries oop, broos soos die vlerke van 'n kleurvolle skoenlapper. In die vaalte van die winter kom kleur hulle die dae, wieg op dun, harige stingels, gloei dae lank sonder geheime dieptes en lag die winter weg.

In haar puberteit is die papawermeisie skaam, half geslote en koponderstebo, totdat sy onherkenbaar ontluik en die wêreld vars en pragtig in die oë kyk.

Die papawervrou dra enige kledingstuk met grasie. Sy hou van natuurlike stowwe soos sy, linne en katoen, al kreukel hulle meer as die sintetiese soorte. Trouens, die gekreukelde voorkoms is deel van haar styl. Omdat sy lank en slank is, lyk sy ook goed in lospassende klere met 'n ongewone snit. Sy verras almal met haar keuse van bloese, serpe, krale en ander bykomstighede. Haar verskyning, selfs in doodgewone klere, laat die koppe draai. Sy beweeg met 'n langbeengrasie wat haar korter susters haar beny. Haar parfuum is nooit te soet nie, maar dra eerder 'n vae veldgeur oor.

Die papawer is onteenseglik tuis tussen haar eie mense. Vir die plat-op-die-aarde-mens mag sy ietwat onbereikbaar, op 'n ander vlak en selfs hooghartig of gereserveer voorkom. En afgesien van hierdie goeie hoedanighede, kan haar soort mens ook 'n bedwelmende invloed op afhanklike siele uitoefen, hulle in 'n net toespin wat selfs hulle ondergang kan beteken.

Maar die papawer se roem oortref haar enkele negatiewe karaktereienskappe. Sy dra wêreldwyd die mooiste name:

Vlammende of windpapawers
Seepapawers en waterpapawers
Shirley- en Walliese papawers
Meksikaanse tulppapawers
Pluimpapawers
Matilija-papawers met groot, wit blomme
Yslandse en Kaliforniese papawers.

Die papawervrou kan tegelyk beroepsvrou en 'n goeie huisvrou en moeder wees, 'n Mens wonder hoe sy dit regkry om die gesin se maaltye so keurig te beplan, self die brood en beskuit en kleinkoekies te bak en te geniet sonder om oorgewig te raak.

En wanneer haar kroonblaarglorie verby is, kan sy eenkant, stil en half in haarself gekeer, die mense en dinge op 'n afstand betrag. Haar oë sê, nie sonder weemoed nie, dat niks wat uit die aarde ontstaan en leef, blywend is nie. Kroonblare verwelk en val af. Saad vorm en rus in die grond om in die volgende seisoen vir voortplanting te sorg.