BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

Hibiskus

(Fam. Malvaceae)

Sou Hibiscus syriacus die "roos van Saron" in Hooglied wees? Die bekende enkel rooi blom groei wild in Brasilië en blom in die laat somer. Sowat 300 spesies van hibiskus in kruie, struike en bome is bekend en van hulle blom kwistig met groot klokvormige blomme in die trope. 'n Paar soorte lewer selfs voedsel en waardevolle vesel soos kenaf {Hibis­cus cannabinus) wat in Oos-Indië gebruik word om seildoek en tou te vervaardig.

In Suid-Afrika kom sowat dertig inheemse spesies van die hibiskus, die grootste van die malvafamilie, voor.

Daar is klein kruie soos Hibiscus trionum (Terblanche-bossie), terwyl soorte soos Hibiscus tiliaceus - die wildekatoenboom - aan die Natalse kus tot ses meter hoog kan groei. Uit die vesel hiervan word tou, seile en visnette vervaardig. Die hibiskus is die nasionale blom van Hawaï. In Suid-Afrika is talle variëteite en kultivars van die Asiatiese Hibis­cus rosasinensis in tuine bekend en bemind. In die warm streke blom hulle deur die somer en herfs en selfs tot in die winter.

Daar is die enkel satynpienk blom, die ligpienke met die rooi keel, die groot geel Full moon en die met dubbele cerise-rooi blomme. Rose estey gaan oranje oop, word later satynpienk met geel strepe aan die onderkant. Snow queen het bont loof, White wings enkele wit blomme met rooi kele en Hibiscus schizopetalus se lang stamper hang slap af aan 'n geveerde blom. Die mees dramatiese meerjarige Hibiscus moscheutos dra in die somer yslike rooi, wit en pienk blomme van tot twintig sentimeter in deursnee. Sy saad word in die herfs gesaai vir somerblomme. In die winter gaan die sagte plant tot in die grond af en loop weer in die lente nuut uit met harige blare.

Dit kan nie anders nie: die hibiskusvrou hou van Hawaïse en Spaanse danse en klassieke kitaarmusiek. Sy dans fier met 'n klokkende valletjiesrok, platgestrykte donker hare, klikkende polvye en kastanjette - en 'n hibiskusblom agter die oor. Vurig, smeulend, onbereikbaar tol sy voete-stampend verby die ernstige kitaarspeler en ewe toegewyde laaistok-regop manlike dansers.

Met geslote oë luister sy na die tussenspel uit Cavalleria Rusticana van Mascagni en haar geliefkoosde opera is ongetwyfeld Aida van Verdi, wat sy weke na 'n opvoering nog neurie. En sy is versot op malvalekkers!

Hoewel onweerstaanbaar aantreklik, is sy 'n stabiele lewensmaat en 'n natuurlike huisvrou en moeder. Sy koester haar mense, stort haar lewe in hulle uit. En tref 'n groot hartseer haar, toon sy fenomenale herstel en kom selfs sterker aan die ander kant uit.

Die hibiskus praat nie baie nie. Wanneer sy tog aan die woord kom, luister mense. Haar analitiese brein dwing respek af. Omdat sy so intens lewe, verouder sy gewoonlik vinnig. Haar dae en nagte loop aaneen en sy slaap min. Sy hou nie van die winter nie en kruip dan dig teen die kaggelvuur. Toegewikkel in 'n sjaal tuur sy diep in die dansende vlamme en wieg stilweg heen en weer.

Of sy jonk is of ouer, 'n deel van haar bly verborge vir selfs hulle wat die naaste aan haar lewe. 'n Mens kan nie help om te wonder wat nog in die donker diepte van haar hart skuil nie. Veral wanneer sy onder die drukte van gesellige verkeer en geselskap stil en ver kyk met 'n eienaardige lig van voorkennis in haar blik. Al is dit net vir 'n oomblik, kry jy skielik 'n koue rilling daarvan.

Die vrou in die hibiskus floreer op geluk, en die liefde wat sy ontvang, word in dubbele maat weer uitgedeel. Sy bak graag soetkoekies, maak versuikerde vrugte en malvalekkers en selfs biltong en droëwors om in fleurige pakkies as geskenkies te verpak. Haar woonplek is nooit pynlik netjies nie. Daar heers 'n gesellige soort wanorde van diep leunstoele en banke vol sagte kussings. Rondom lae tafels met boeke (wat gelees word) en swaar keramiekbekers koffie -warm en sterk - word ure lank gekuier.

"Dominee," spot sy stil tydens huisbesoek, "hier gebruik ons net sterk koffie, sterk tee en sterk drank!"

Haar span donkeroogkinders kom en gaan deur die huis, bring hulle maats, lewensmaats en kinders gereeld "huistoe". Dit gesels, eet en drink en speel, en haar oë glim sag van innerlike vreugde. Sy ken die kuns om hegte bande te bind, om die vrede te bewaar, om met weerbarstige en hardnekkige persoonlikhede te werk, maar tog besef sy dat alleen die genade van Bo verhoudings kan laat slaag.

En haal die tyd haar in, sterf sy stil en die dood vee die rimpels weg van haar gelaat. Met haar donker hare en gladde vel lyk sy dan so jonk dat dit moeilik is om te glo dat die groot mans wat oor haar heengaan snik, haar seuns kan wees. Om haar te ken, is om haar altyd te onthou - nie deur wat sy nalaat nie, maar deur die indruk wat sy op die lewens van mense gemaak het.