BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

Usambara-viooltjie

(Fam. Gesneriaceae)

Min potplante kan die gewilde Usambara of African violet klop. Word hulle nie in 'n ry op 'n rakkie of vensterbank vertroetel nie, dan word enetjie - met 'n lintstrik opgedollie - as 'n geskenkie of 'n gebaar van waardering aangebied. In 'n massa bymekaar op strategiese plekke in kwekerye en blomwinkels en by skoue, is dit versoeking in die meervoud.

Die SaintpauHa ionantha of gewoonweg die African violet kom van tropiese Oos-Afrika waar hulle natuurlik groei. Hulle is ook bekend as Usambara-viooltjies van die botaniese familie Gesneriaceae met 1500 spesies wat hoofsaaklik Suid-Amerikaans is. Van hulle is die Saint-paulia die bekendste en die gewildste.

Die plant is laat in die negentiende eeu eers ontdek en ná 1925 is meer as 200 variëteite ontwikkel en benoem. Die klein plante is meestal stamloos met harige langstam-blare en trosse blomme van wit tot violet, van pienk tot rooi. Hulle groei van saad of van blaresteggies en is ook in miniature beskikbaar. Die metode van watergee, temperatuur en humiditeit het 'n groot invloed op die groei en blomwyse. Hulle hou van lig en lou water, maar is sku vir direkte sonlig.

Met ondervinding en toewyding kan 'n mens deur die jaar blomme hê. Saintpaulias is woudbewoners wat nie gepamperlang (sic!) wil word nie. Om weliger blomvorming te aktiveer, kan al die ou blommetjies afgepluk en die plant vir ses weke droog gelaat word. Hulle hou nie van koue wa­ter en trekke nie, dreinering moet volmaak wees en daar mag nie water op die blare kom nie. Die blare kan met 'n sagte kwassie afgestof word. Die trosse blomme nestel tussen 'n polletjie harige blare, 'n Mens is of dol oor hulle of jy gee hulle na 'n tyd moedeloos weg aan 'n barmhartige, sorgsame Samaritaan wat 'n slag en geduld met hulle het.

Waar vroue gewoonlik gekoester en beskerm wil voel, is die viooltjievrou die uitsondering. Sy baat nogal by 'n bietjie menslike onverskilligheid. Wanneer sy dan weer aandag kry, gaan sy vrolik aan die blom en is 'n lus vir die oog. Sy dra uitrustings in juweelkleure en hou van eksotiese serpe en ander bykomstighede.

Sy het heelwat gewoontetjies, voor- en afkeure. Hoewel sy nie self van die son en sonbrand hou nie, hou sy van die Afrika-manne met welige baarde en borshare. Aan so 'n bors voel sy rustig en veilig! Daar blom sy weerloos en eindeloos, klein en dierbaar. Hoewel sy van die louwarm dae en nagte hou, is sy nie 'n koeldrankmens nie. Sy verkies 'n warm drankie wat peinsend en behaaglik met klein teugies geniet word.

Die viooltjiemens is lief vir katte en hou 'n hele paar aan. Hulle geslote persoonlikhede, arrogansie en fiemies fassineer haar. Sy troetel hulle soos kinders en sorg dat hulle die regte voeding kry wat hulle pels blink en hul oë helder hou. Wanneer sy smiddae na werk tuiskom, sit hulle haar op 'n ry en inwag.

Stap jy haar woonplek binne, maak jy 'n juwelekissie oop. Oral is daar kosbaarhede en kitsch langs mekaar. Van fyn Engelse porselein tot diepblou Spaanse glasware, van swaar pottebakkersware tot warm rooi- en geelkoper. Oosterse tapyte en kelims gloei die plek vol. Lalique en Venesiese glasware staan ongeërg rond. Wat binne-in haar is, blom na buite.

Sy is die een vrou wat by ander vroue gewild is. Almal wil graag 'n vriendin soos sy hê. Sy deel in hulle geheime en is altyd welkom, hoewel sy nie baie rondkuier nie. Daarom is haar huis 'n kuierplek, 'n geselsplek, 'n biegplek en 'n bid-plek. Daar word saans Bybelstudie en boekbesprekings en vergaderings oor 'n wye reeks aspekte gehou. Sy is nie 'n mooiweersvriendin nie, maar is ook daar wanneer tye moeilik en vriende skaars raak. Tog is dit menslik dat sy af en toe 'n behoefte daaraan het om met rus gelaat te word om bestek op te neem van haar eie lewe.

Op 'n Saterdag spring sy in en was gordyne, stof die honderde goedjies af, stofsuig en pof kussings op dat die flegmatiese katte met die spoed van lig uiteenspat en buite onder 'n bos, weg van die geskarrel, gaan lê. Laataand kom hulle een na die ander afsydig, indien nie verwytend nie, hulle gewone lêplekke opsoek. Wat vlytigheid, huislikheid en rustigheid betref, kan die viooltjie moeilik geklop word.

'n Mens wonder hoe sy dit regkry om 'n betrekking buitenshuis te beklee, haar huishouding netjies te bestuur en nog geestelik en liggaamlik versorg te bly. Is dit omdat sy die daglig en die naglig kan benut? Haar krag put uit die natuurlike en die kunsmatige bronne van die lewe?

Een ding is seker: jy verstaan haar of jy verstaan haar glad nie.